In dié episode van Ruda Gesels is die Wes-Kaapse premier Helen Zille aan die beurt. Sy vertel meer oor haar ouers se vlugtog uit Europa tydens die Tweede Wêreldoorlog, haar stryd teen anoreksie, hoe sy op die skamele ouderdom van 26 die moord op anti-apartheidsaktivis Steve Biko oopgevlek het en eers heelwat later per toeval in die politiek beland het.
Ruda: Hallo, en baie welkom by Ruda gesels. Dankie aan ons borg, Brightrock. My gas is die Wes-Kaapse Premier, Helen Zille. Ons ken mekaar vandat sy in die 80s parlementêre verslaggewer was en ek vir die Amerikaanse konsulaat in Kaapstad gewerk het. Sedertdien het die lewe ver paaie geloop. Ons het in haar kantoor op Waalstraat gekuier. En soos ek verlede week gesê het, al het jy die gesprek op TV gesien, luister maar weer – dis dubbeld so lank, met baie meer vleis aan die been.
Ruda: Ek wil begin met die verhaal toe jy op universiteit was en jy het aan anoreksie gely, jy het op ʼn stadium 42 kg geweeg, jy moes baie na aan dood gewees het. As jy nou terugkyk, was dit ʼn sleutelpunt in jou lewe?
Helen: Ja, ek sal sê dit was, ek meen, ek kan baie min onthou, want as jy so naby aan die grens van lewe en dood beweeg, is dit geweldig moeilik om enige herinneringe van daardie tyd te hê, dit is oorlewing en dit is die stryd wat jy voer, maar ek is een van die gelukkiges wat heeltemal herstel het en ek is bewus van die feit dat min van die dames en die jongmense in my dae het dit oorleef. Dit was baie ongewoon gewees maar niemand het geweet wat dit is nie, en dit is juis hoekom hulle dit nie kon behandel nie.
Ruda: Hoe het jy dit oorkom?
Helen: Dit was ʼn stadige proses. Ek het berading gekry, maar hulle het glad nie geweet wat dit is en eerstens het hulle gedink dit is ʼn interne probleem, so ek is geopereer en verskeie dinge is gedoen aan my, maar geleidelik oor tyd het ek geleer om myself te aanvaar, hoe ek is, wie ek is, ek hang nie van ander mense se opinies af nie, ek kan net aan myself getrou is en dit wees hoe ek geskape is, en toe ek dit aanvaar, toe verander my lewe.
Ruda: Ja.
Helen: So dit is geweldig belangrik vir jong meisies om te weet dat jou selfbeeld nie afhanklik is van ander mense se opinies nie, en dit het my baie gehelp, daardie insig, ook in die politiek, want jy het baie vyande in die politiek en jy het baie kritici in die politiek, uit die aarde van die saak, en as jy sterk genoeg is om dit te vat, is dit een van die voorwaardes oor hoe om ʼn suksesvolle politikus te wees.
Ruda: Waar het jou politieke bewustheid vandaan gekom, het jy dit in jou huis gekry?
Helen: Ek het polities bewus in my eie huis geraak, my ouers was albei baie polities bewus want hulle moes uit Duitsland vlug vir hulle lewens, en van hulle familie het dit nie oorleef nie, en dit is hoekom [tussenbei]
Ruda: Hulle was albei half Joods, reg?
Helen: Ja, my ouers was albei half Joods, my ma en my pa. My ma se ma was ʼn Christen, ʼn Lutheraan, en my pa se pa was ʼn Christen, so dit was half Joods albei. Van my vroegste dae kan ek onthou hierdie gesprekke om die eettafel. My ma het by die Black Sash aangesluit en sy het stories vertel wat, sy het altyd gesê dit is wat werklik in Suid Afrika aangaan, so ons het ʼn insig gekry wat baie ander jong kinders destyds nie gekry het nie.
Ruda: Helen het by die Rand Daily Mail begin werk as joernalis. Sy was maar net 26 toe sy ‘n storie gedek het wat haar hele lewe sou beïnvloed. Die Swart Bewussyn-leier Steve Biko is in aanhouding dood, en sy het nie geglo dit was aan natuurlike oorsake nie. Hy is dood as gevolg van marteling en aanranding deur die polisie.
Helen: Wel, een dokter het dit gesê, dit was Jonathan Gluckman, maar om ons bron te beskerm, moes ek met al die anders dokters gaan praat, en dit was een Colin Hirsch wat niks gesê het maar net sy kop geknik toe ek gesê het ek het die storie, maar ek moet net seker wees dat dit waar is. Die ander twee, dit was Lang en Tucker, wou glad nie praat nie, die een het sy honde op my probeer sit toe ek daar ingekom het by sy huis, maar in elk geval, ons het genoeg bewyse gehad, ook mediese bewyse, maar Dr Hirsch in Port Elizabeth het my laat weet die inligting wat ons van Dr Gluckman bekom het, is eintlik juis.
Ruda: Daardie storie, en alles wat daarna gebeur het, het dit ʼn groot invloed op jou gehad?
Helen: Ja, uit die aard van die saak, ek meen, Steve Biko was ʼn jong absolute charismatiese leier, en ek was ʼn student op WITS toe ek eers sy naam gehoor het, en ek het gesien hoe hy ʼn gehoor saam met hom kan neem, hoe hy aanhangers kan kry, ek het sy insigte verstaan oor die feit dat mense vir hulself moet opstaan en nie afhanklik wees van ander nie, en ek het gedink hy gaan ʼn baie groot rol in die toekoms van ons politiek speel. Toe word hy in hegtenis geneem, en hy was ʼn fris sterk man gewees, en na een week sê die Minister hy is na ʼn hongerstaking dood, en ek het geweet dit moet ʼn leuen wees, en dit het my regtig opgesweep om iets daaromtrent te doen.
Ruda: Jy en jou man was deel van die anti-Apartheidsbeweging, julle het julle huis beskikbaar gestel as ʼn veilige plek, hoe het jy die oorgang in Suid-Afrika beleef?
Helen: Ja, ek meen, die oorgang was ʼn baie, baie groot stap vir ons in ons lewens, want ek het altyd vir daardie oorgang gewerk. Ek het gedink Suid-Afrika kan dit maak as ‘n volwaardige demokrasie. Ek het my hele lewe lank daarvoor gewerk, dit was my passie, ek het dit uitgeleef en toe ek daardie passie vind en daardie rigting kry, was my lewe eintlik volmaak, en toe ek ‘n man kry wat nou dieselfde passie met my deel, was dit ‘n ongelooflike groot stap in my lewe, so die oorgang vir my was ‘n baie groot oomblik. Ek kon my kennis en my kontakte en my politieke analise en my skryfkuns alles aanwend om ‘n klein besigheid te stig, wat ek wel gedoen het, dit was openbare beleidskonsultante wat nou begin het en dit het baie, baie goed uitgewerk, so dit was ‘n ongelooflike opwindende tyd in my lewe.
Ruda: Vertel my van jou toetrede tot die politiek, was dit ‘n groot besluit of was dit net iets wat die volgende treë was?
Helen: Ek wou nooit tot die politiek toetree nie, nooit nie. Dit het heeltemal per abuis gebeur, maar ongelukkig, as ek dit so mag stel, ek was ʼn ma op ʼn beheerliggaam van ʼn laerskool gewees, en in daardie hoedanigheid was ek baie betrokke in die opstel van die Suid-Afrikaanse Skolewet, want ek het kommentaar gelewer, ek het insette gemaak, veral aan die Hunter Kommissie wat dit ondersoek het, en toe die wet in werking kom, wat ʼn goeie wet was, is die eerste ding wat die regering, die nuwe regering in 1996 gedoen het, is om sy eie wet te verbreek, en toe besluit ek, nee, dit kan nie so aangaan nie, so ons, ʼn paar van ons het 80 skole bymekaar gebring, die minister hof toe gevat en die saak gewen, en in daardie tydperk het ek baie geskryf in die koerante oor onderwys, onderwysbeleid en dies meer, en toe het Tony Leon vir my gevra om die DP se beleid te hersien, wat ek wel gedoen het, en toe het hy my gevra om my hoed in die kring te sit sodat ek moontlik ʼn kandidaat kan word, en ek gedink die DP sal so min mense verkies kry, ek het nie ʼn kat se kans nie, maar toe is ek in op die laaste nommertjie en ek is verkies met 135 stemme op die “remainder”, soos hulle in ʼn proporsionele stelsel sê, en ek het net, net, net ingekom en dan toe is my setel nou die balans van mag setel, en toe binne ses maande van ʼn ma op ʼn beheerliggaam, is ek nou die Provinsiale Minister van Onderwys.
Ruda: So jy het nooit voorsien waarheen dit gaan lei nie?
Helen: Nooit nie, dit was nooit my bedoeling om ʼn politikus te word nie. Ek het altyd belang gestel in die politiek, maar dit was nooit my bedoeling om ʼn loopbaan daaruit te maak nie, nooit nie.
Ruda: Hoe het jy in jou lewe die balans, waarvan ons so dikwels hoor, hoe het jy dit gehandhaaf, die ma, Helen Zille, politikus, Helen Zille, hou julle darem van mekaar?
Helen: Nogal, nogal. Die ma, Helen Zille, en die politikus, Helen Zille, is eintlik een Helen Zille want dit is albei my passies, om ma te wees en om politikus te wees. Dit was geweldig moeilik, veral toe my kinders jonk was. Ek wil net sê dat om twee werke te hê, die leier van die DA, soos ek was, en Premier van die Wes-Kaap. Dit was makliker om ʼn klein besigheid te bestuur en kinders terselfdertyd groot te maak, dit was ongelooflik moeilik.
Ruda: Hoekom was dit maklik?
Helen: Daar is ʼn span. As jy ʼn besigheid opbou is dit jy self wat dit moet doen, alles, en jy het kinders om na om te sien en jy wil niks van hulle aktiwiteite misloop nie, so ek het dikwels deur die hele nag gewerk en ek was so moeg soms dat ek skaars kon beweeg, eintlik. Ek was nog nooit weer in my lewe so moeg nie, nooit nie, en onder sulke spanning nie. So dit was ʼn geweldige moeilike tyd, en as dit nie vir my man was nie, sou ek dit nie reggekry het nie, maar ons het dit oorleef en my man het baie, baie met die kinders gedoen ek en was so omtrent half jaloers dat hy so goeie verhouding met hulle opbou terwyl ek altyd so besig is, maar hy het dit baie goed hanteer en ek en die kinders is baie, baie na aan mekaar vandag, toe was ons ook daar, maar veral vir ons jonger seun was my man soos ʼn ma gewees, maar ek moes daardie gevoelens oorkom en nou, ons het ʼn familie wat ʼn baie, baie goeie verhouding met mekaar het, so ek is baie gelukkig daaroor.
Ruda: Hoe het jou lewe verander toe jy leier van die DA geword het?
Helen: Elke dag staan ek op en ek maak my lys van dinge wat ek moet doen, eintlik, ek voeg by aan my lys want ek het al klaar ʼn baie lang lys, en toe ek leier geword het, het daardie lys net ʼn bietjie langer geword, maar ek werk met een ding na die ander, dit is hoe dit is, dit is hoe dit altyd was, en ek is aanpasbaar want dinge gebeur en jy moet verander, maar dit was nie so ʼn groot verandering nie, dit het net die lys ʼn bietjie langer gemaak.
Ruda: Julle luister na Ruda gesels. My gas is Helen Zille. Ons is nou terug.
Ruda: Welkom terug by RG. Ek kuier vanaand by Helen Zille.
Ruda: Vertel my van die besluit om uit te treë as leier van die DA?
Helen: Ek wou dit al lankal gedoen het, maar een van die moeilikste ding of moeilikste besluite wat ʼn leier moet maak is om wanneer om af te staan. Daar is nooit ʼn regte tyd nie, daar is altyd mense wat vir jou sê, nee, nee, dit is nie nou die regte tyd nie, wag nou eers, of daar is mense wat sê, ja, dit is wel die regte tyd, en daar is altyd, altyd meer wat jy wil doen en kan doen, en dit is altyd ʼn onvoltooide taak wat jy agterlaat, dit moet jy besef, maar die ding is, ek het altyd gesê, as ek besef die DA kan meer stemme werf onder ‘n nuwe leier, sal ek afstaan. Die tweede baie belangrike faktor vir my was dat ek ‘n lang opvolgstryd wou vermy. ek wou dit heeltemal vermy, want as ‘n party binne verslind word deur ‘n opvolgstryd, kan jy nie op die kiesers fokus nie en kan jy nie jou werk daar buite doen nie, dit is alles intern gefokus en dit lei almal af van die ware taak wat voor die hand liggend is in ons situasie in Suid-Afrika vandag, so ek wou dit vermy. Die DA moet nie binne kyk nie, hy moet buite kyk en na die kiesers kyk en die kiesers dien, en dit is wat ek eintlik wou bewerkstellig, deur net ʼn maand kennis te gee dat ek gaan uittree.
Ruda: Hoe gaan jy te werk om so ʼn groot besluit te neem? Ons almal doen dit op verskeie maniere, in jou geval, waar begin dit, met wie bespreek jy dit?
Helen: Ek kry ʼn gevoel, as ek ʼn besluit moet neem kry ek ʼn gevoel. Waar ek in die eerste instansie probeer afdruk en wegsit, maar hierdie gevoel kom weer, dan praat ek met my man, wat baie, baie rustig is, hy stel niks belang in status en posisies en dies meer, so hy is baie goed, hy is baie objektief, hy kan ʼn saak van alle kante af kyk, en dan praat ek met die mense wat naaste aan my is. Nou hierdie kwessie het begin opkom toe ek na die lys van vernoemde kandidate kyk en ek verreken die uitkoms en ek raak bang oor die implikasies vir die DA, en toe dink ek by myself, ek wil, ek wil in elk geval uittree, dit wil vir my voorkom asof nou die regte tyd is. Toe bespreek ek dit met ʼn paar mense, een of twee was oorreed gewees, een of twee het gesê jy is heeltemal reg, een of twee het die saak eintlik met my geopper, in die eerste instansie, en ander het gesê, nee, dit is heeltemal te vroeg en ons kan dit nie so kort voor ʼn verkiesing doen nie en jy kan nie die party net ʼn maand se kennis gee voor ʼn kongres nie, en dies meer, en dan sit jy met heeltemal teenstrydige advies. Dan moet jy op ʼn plekkie gaan sit, met mense bespreek wat jy regtig dink die belang van die party voorop sit, en dan moet jy alleen daardie besluit maak.
Ruda: Hoe het jou man gereageer toe jy vir hom sê?
Helen: Ek sê my man is baie rustig, hy sê: “Okay, that is fine, love,” en hy gaan aan, jy weet. Hy weet wat belangrik is in die lewe en hy het my ge-ondersteun, hy sou my ge-ondersteun het watter besluit ek ook sou geneem het. Hy het besef watter groot, groot besluit dit is, maar hy sien dit alles in perspektief. (Cut out the long pause) Oor ʼn lang tydperk is dit neither here nor there, want ek moet in elk geval uittree of aftree, en hy was heeltemal gelukkig oor my besluit oor wanneer ek dit moet doen.
Ruda: Hoe het jou lewe verander, op ʼn praktiese vlak, noudat jy nie meer leier van die DA is nie?
Helen: Wel, dit verander in praktyk, want ons week was dat Vrydag aande, min of meer gereeld, amper elke naweek was ek weg gewees, want in die week was ek die Premier van die Wes-Kaap en oor die naweek was ek leier van die DA in die verskeie provinsies, so ek was weg omtrent die hele naweek, en my beste ding in my lewe nou is om wakker te word op ʼn Saterdagoggend en in die bed te kan bly, in my eie bed, en ʼn koppie tee te kan drink wat of hy of ek maak, ons doen beurte daarmee, met die tee maak, en dan sit ek daar en ek doen my eie ding, ek lees die koerante, ek stuur e-posse, ek lees ʼn boek, dit is die beste ding van nie meer leier wees nie.
Ruda: Die eerste keer in hoe lank?
Helen: Oe, ja, ek kan nie eers dink nie, ek meen, om ʼn boek te kan lees sonder om skuldig te voel dat jy iets belangriks nie doen nie, is ʼn ongelooflike gevoel.
Ruda: Wat gaan jy nou volgende doen?
Helen: Wel, vorentoe, ek meen, ek neem elke dag… ek is nie die soort persoon wat doelwitte vir myself stel nie. Ek sê nie in vyf jaar wil ek hier wees of daar wees. Ek sê, hoe kan ek my beste vandag doen, en as ʼn deur oopgaan, dan moet ek besluit, gaan ek deur of nie deur hierdie deur nie, en ek maak daardie besluit in my lewe, en elke keer toe ek my beste doen in enige hoedanigheid, het nog ʼn deur vir my oopgegaan. So ek sê nie dit is waar ek wil wees en ek sit alles in lyn om daarby uit te kom, nee, ek sê, wat moet vandag gedoen word, hoe kan dit reg gedoen word, en ons sal sien watter deure die lewe vir my oopmaak.
Helen: Wel, in my eie leeftyd droom ek dat ons ʼn volwaardige demokrasie sal word, wat ons nog nie is nie [tussenbei]
Ruda: Wat bedoel jy?
Helen: Ek bedoel daarmee dat, en ek wil nou dit net verduidelik, jy kan nie ʼn volwaardige demokrasie in enige land wees tensy daar nie ʼn verandering van regering was deur die stembus, verkieslik twee veranderings deur die stembus, eintlik, want dit moet absoluut vanselfsprekend wees dat politici bang is vir die kiesers, want die kiesers het die mag, en hulle sal besluit, nie op identiteitsgronde nie, maar op waardes of beleide, op eerlikheid, op daardie soort waardes wat in ons grondwet ingeboesem is, vryheid, geleenthede, billikheid aan almal, dit is die soort waardes wat oor kleur en Godsdiensgrense heen moet styg, uitstyg, en ʼn nuwe meerderheid bou sodat ons regerings kan verander in hierdie land, vreedsaam deur die stembus, sodat verantwoordbaarheid die sleutel tot ons demokrasie word, dit is my droom nog in my leeftyd.
Ruda: As jy terugkyk oor jou hele lewe, wat sal jy beskryf as die belangrikste verandering ooit?
Helen: Uit die aard van die saak, die grootste oomblik van verandering was toe die vroedvrou vir my my seuntjie gee en ek hom vir die eerste keer in my arms vashou, en ek het net gebid, maak my hierdie groot verantwoordelikheid waardig, want dit is ʼn ongelooflike groot verantwoordelik en ʼn seën, en ek kon dit eintlik nie begryp nie, en daardie oomblik van verandering het eintlik nooit vanself weer koers gekry nie, ek voel net presies dieselfde verantwoordelikheid vandag.
Ruda: En hoe het dit, hoe verander dit ʼn mens sê lewe, ek weet ʼn mens kan dit eintlik nie in woorde sê nie, maar as jy dit moet probeer uitdruk?
Helen: Om ʼn klein mens wat ʼn nuwe wese is in jou arms vas te hou en te besef dit is jou verantwoordelikheid, met genade, om hierdie mensie groot te maak en geleenthede te gun en die vermoë te gee om op sy eie voetjies eendag te kan staan, dit is ʼn ongelooflike gevoel van – my lewe het volmaaktheid bereik as ek dit kan regkry.
Ruda: Ja.
Helen: En so, die gevoel van verantwoordelikheid was eintlik oorweldigend, dit was te veel, en die liefde wat jy vir jou kind voel is amper te veel om in jou eie boesem ingesluit te wees, dit voel te veel, so ek weet nie, daar is nie woorde wat ek kan gebruik om dit te beskryf nie, rêrig nie, maar vir my was daar nooit weer so ʼn gevoel in my hele lewe nie.
Ateljee: Sy som iets op wat elke ma – seker elke ouer – verstaan: daardie gevoel as jy jou baba die eerste keer vashou, dat jou binnegoed smelt. Dit was Helen Zille, Premier van die Wes-Kaap.
Drie maande is al weer amper om, en volgende week is die laaste aflewering in hierdie reeks gesprekke. Ek praat met Marc Lottering, komediant en wyse man, seun van ‘n pastoor wat alle voorgeskrewe reëls en regulasies omver gegooi het, maar wat die wêreld met groot empatie aankyk. Dankie aan Brightrock vir die borgskap, en mooi loop tot volgende week.
Leave a Reply