Ruda gesels (kopstukke) met Karin Brynard

Karin Brynard, bekroonde skrywer van Plaasmoord, Onse Vader en Tuisland, het haar merk gemaak as ‘n politieke joernalis tydens die oorgangstydperk tussen die “ou” en die “nuwe” Suid-Afrika voor sy in die geheim begin skryf het aan haar eerste roman.

Intussen moes sy ook groot persoonlike veranderinge baasraak: Haar stryd teen drankverslawing, ‘n huwelik met ‘n “ouer” man, en – kort voor die verskyning van haar debuutroman Plaasmoord – borskanker. Ruda het met haar gaan gesels – luister na of lees dié interessante gesprek hieronder.

Ruda: Hallo. Baie welkom by nog ’n episode van Ruda gesels, en soos altyd, dankie aan Brightrock wat dit moontlik maak.

Hierdie keer het ek die voorreg om by iemand te kuier wie se woorde ek baie goed ken … maar ek het die mens glad nie geken nie. Karin Brynard se eerste roman, Plaasmoord, het ons almal in 2009 onkant gevang – skokkende titel, en dan ’n storie wat jy nie kan neersit nie. Skielik het ons ’n nuwe held gehad: Beeslaar die poliesman. Nou is haar derde een op die rakke, Tuisland. Ek het by haar huis in Stellenbosch gaan kuier. Soos altyd, het die gesprek gesoek na die oomblikke wat die lewenspad dalk effens van koers laat verander het.

RUDA: Jou pa wou ’n seun gehad het. Jy was die derde dogter en dit klink of dit jou lewe beïnvloed het?

KARIN: Ek was van jongs af daarvan bewus dat as ’n mens ’n man is, dan gaan die deure makliker vir jou oop. So ek het van jongs af probeer om hulle oopgeskop te kry, voor iemand nog dink om hulle toe te maak. So dit het. Dit het my keuse, my loopbaan keuse, ek dink nie ek sou andersins in die politiek ingegaan het nie. Jy weet spesifiek, want ek wou van die begin af as ’n jong joernalis wou ek in die politiek ingaan, want ek het gesien dis waar die manne gaan, en dis waar die interessante goed gebeur. Ek het polisie gedoen, ek het in ’n stadium weermag gedoen as ’n joernalis en toe is ek politiek toe reguit. En het al die vrouegoed het ek gemis. En jy weet elke keer as jy, my tyd, as jy by die redaksie aangekom het, het hulle jou heel eerste in die vrouekantoor geprop. En ek het geweet ek wil nie daar gaan nie. So dit het baie van my keuse beinvloed. Ek dink selfs met boeke skryf. Ek hou van boeke wat meer manlik gerig is ook. Ek hou meer van die noir tipe van moordstories en ek hou daarvan om eerder dit te skryf as ’n meer vroulike tipe van whodunnit. So ek dink dit was ’n baie groot invloed op my lewe.

RUDA: En jou eerste rol in daai tipe van speelveld was by Rapport, nê?

KARIN:  Ja ek het vantevore, in die tagtigerjare het ek begin werk by ’n baie klein koerantjie in Pretoria, Oggendblad. Daarvandan gepromoveer deur by Harold Pakendorf reg te kom, en Harold was die mees fantasiese baas gewees om vir te werk want hy’t geglo in vroue. Hy’t gesê sy harde jobs gee hy vir vroue, want vroue weet hoe om te werk. So dit was baie lekker. By Harold kon ek in die politiek gaan en kon gedy. Ek het ook baie lekker kollegas gehad en baie goeie mentors begin kry en so aan.

RUDA: Daai tyd in Pretoria, jy was ook deel van ’n groep wat Koos du Plessis ingesluit het en dit klink na so ’n era.

KARIN: Ja, dit was nog die ou styl van joernalistiek gewees. Jy weet, dit was nog die dae wat joernaliste baie gedrink het en ons eie soort van ’n kroeg gehad en jy was in daai kroeg gewees en jy’t saam met die manne gedrink en ek (lag) kon ’n hele paar van hulle flou drink. So ja, dit was ’n totale ander era gewees. Dit was … deesdae is die joernalistiek anders. Ek dink dit het beter geword op ’n manier, maar die ou dae was meer fun.

RUDA: En die drink saam met die manne het jou uiteindelik gevang?

KARIN: Dit het my baie groot gevang. Dit het, ek dink ek was in my laat veertigerjare, dis nou amper presies 15 jaar gelede. Op ’n dag het ek besluit tot hier toe en nie verder nie. Dit is nou, dit het te erg geword.

RUDA: Hoekom? Wat het jou dit laat besluit?

KARIN: Ek het agtergekom my probleem raak meer en meer en ek het gevoel ek is nie in beheer van my lewe nie en dit raak ’n soortvan visieuse sirkel. Dit raak so bose sirkel. Want hoe groter die probleem, hoe meer wil jy wyn drink en hoe meer wyn jy drink, hoe meer probleme maak jy vir jouself. En ja, ek het toe net op ’n dag besluit dit is te erg.

RUDA: En?

KARIN: Ek het binne ’n dag myself by ’n rehabilitasie sentrum ingeboek en gegaan, en nooit weer terug gekyk nie.

RUDA: Hoe het jy dit ervaar?

KARIN: Ek dink dis seker een van die moeilikste dinge wat ek in my lewe gedoen het. Dit was baie, baie moeilik. Dit was baie rof. Dis nou presies, môre is my verjaarsdag, 15 jaar gelede, so ja. Dit was ’n totale skok vir my stelsel gewees . Dit is een van daai dinge, dit klap vir jou van oos na wes. As jy daar uitkom is dit ’n ander mens.

RUDA: Fisies, emosioneel? Wat?

KARIN: Emosioneel veral. Dit is ’n verskriklike harde leerskool want ewe skielik word die Vaseline van die lens afgehaal, jy sien die realiteit soos wat hy is. Jy word gekonfronteer met jouself, en die gedeeltes van jouself wat jy eintlik nie wou raaksien nie. Die spieël word nogal vir jou regop gehou en het dit een van die momente in my lewe geword wat die meeste van my geverg het om te sê druk deur. Druk deur. Een dag. Net hierdie dag. Volgende dag, net hierdie dag.

RUDA: Is dit regtig, ekskuus dat ek dit vra want ek ken dit net in teorie, is dit regtig soortvan van uur tot uur, in die begin in elkgeval. Seker nie nou meer nie.

KARIN: Ja, die eerste jaar is baie moeilik. Dit was omtrent ’n uur tot uur, en ek het in ’n groep beland by Alkoholiste Anoniem, wat ’n baie goeie ondersteunende groep – mense wat byvoorbeeld oor Paasnaweek, my eerste paasnaweek – vroeër sou dit heerlik saam met vriende en familie en die wyn lekker en so aan. My man is ’n baie groot wynliefhebber en ons het ’n fantastiese versameling gehad en so aan. En ons het baie gereeld wynproe gehad. En byvoorbeeld. My heel eerste paasnaweek, het my vriende my gebel van uur tot uur. “Karin hou uit.” “Karin hou uit.” “Hoe gaan dit ou girl? Maak jy dit?”

RUDA: Sjo. En as jy nou daaroor dink, was dit nog steeds ’n goeie keuse.

KARIN: Ja. Beste ding wat ek in my lewe gedoen het. In die opsig dat dit maak jou groot.

RUDA: Jy moet verantwoordelikheid aanvaar.

KARIN: Jy word … Ewe skielik is dit nie meer ’n verskoning om te sê van ek het te veel skuld, of my baas hou nie van my nie want ’n mens jy weet jy maak vir jouself, vind jy redes om ’n glasie wyn in te skink. Jy word groot. Jy word volwasse want jy word gedwing om verantwoordelikheid te neem vir jou lewe en om die realiteit te lewe.

RUDA: Kom ons gaan net bietjie terug. Jy was ’n politieke joernalis in ’94.

KARIN: Ja

RUDA: Hoe het jy dit beleef?

KARIN: Dit was absoluut fantasties gewees. Dit was, wat dit so wonderlik gemaak het was die aanloop daartoe. Om van 1990 om die tafels daarmee te sit, met KODESA en al daai onderhandelings in Kempton Park, partykeer tot diep in die nag te sit en wag vir die Roelf en Cheryl show om te sê ons is deur hierdie hekkie. Ons het dit geknak, ons is hierdeur. En dan trek hierdie party uit en dan daai party. Die geboorte van – ek dink nie die gemiddelde mens weet hoe ’n moeilike geboorte proses ons demokrasie was nie, baklei en trane en sweet en … Jy weet dis vier jaar van onderhandelings van mense wat oor geslagte lank vyande met mekaar was, wat mekaar doodgemaak het, wat om ’n tafel kom sit en ons vergeet van hoe absoluut ’n ongelooflike moment dit was.

RUDA: En hoe amper dit verkeerd geloop het

KARIN: Presies ja. En ek sal nooit die moment vergeet soos byvoorbeeld, toe die nuwe vlag die eerste keer, ek sal dit nooit vergeet, Vrydagmiddag in Pretoria, dis so warm jy wil doodgaan. En die hele internasionale media sit erens in ’n kantoor van die Departement van Konstitutionele, jy weet, die lang name destyds en ons wag, wag, wag, en daar stap die twee manne in met die vlag, en hulle maak die vlag oop – jy kan nie, daar was nie ’n droeë oog in daai vertrek nie! Dis soos hierdie nuwe skoenlapper wat oopvou. Ja. En die eerste dag toe Mandela in die Parliament inkom. Ek en my baas van destyds, Annemarie Mischke, ons het openlik gehuil.

RUDA: Ek dink mense vergeet, ons aanvaar wat ons nou het as vanselfsprekend.

KARIN: Ja, ja. En ons besef nie hoe bevoorreg ons is nie. Besef nie eintlik waaruit ons kom nie. Ek dink nie aldag het ons meer ’n goeie begrip van waar ons kom nie – daar’s te veel van ons wat in ’n sort van verontwaardigde woede rondloop eintliken dis nie goed vir ons nie.

RUDA: Jy luister na Ruda gesels. Ons gas is die skrywer Karin Brynard. Ons is net hierna terug.

RUDA:  Welkom terug by Ruda gesels. Ek kuier vanaand by Karin Brynard.

RUDA: Hoe het jy begin skryf? Plaasmoord het 7 jaar gevat?

KARIN: Ja. Die rede daarvoor is dat dit was nooit veronderstel om ’n boek te word nie. Dit was soort van ’n baie baie geheimsinnige ding. Ek het vir jare lank geskryf, wat Rien nie eens geweet het nie.

RUDA: Hoekom? Te bang dit gaan nie klaar kom nie?

KARIN: Ek was te bang om ’n soort van ’n commitment te maak. Ek was te bang om te sê: “O ja, hier is nog ’n joernalis wat ook nou ’n skrywer wil word. Mense gaan jou uitlag.” En op die ou einde maak jy ook hierdie boek en dis so crappy boek, jy weet al daai gewone goed. So, en my man het vir my gesê ek sal nie kan stilsit nie. Hy weet dit sal nooit gebeur wat ek nie sal kan stilsit nie, en toe het ek gedink: “Jou bliksem ek gaan jou wys!” Ja. En op ’n stadium het ek ’n onderhoud gedoen vir Rapport met Deon Meyer. En Deon sê toe: “Man het jy nie iets in jou laai nie?” Op daai stadium was hy soos ’n stem roepend alleen in die woestyn in terme van misdaad, Afrikaanse misdaad en toe ek weer hoor toe het hy sy uitgewer gebel , en hulle bel my en sê ek hoor daar’s ’n boek in die laai, waar is hy, haal hom uit. En dis maar eintlik hoe dit gebeur het.

RUDA: En toe het jy ’n maand in ’n alleenhuis naby Kleinmond gaan bly en hy het klaargekom. Hoe was dit. Wat het daar gebeur?

KARIN: Uh, ja, dit is so heerlike luukse nê? Om jouself te kan afsluit van die buitewereld en ek het ’n vriendin gehad wat ’n huis in Kleinmond het en sy’t gesê sure, gaan. En dit was die eerste keer van baie wat ek sal weggaan, nou nie elke keer ’n maand nie, maar van tyd tot tyd sal ek weggaan , as ek weet ek moet nou 24/7 dan – en dis ’n absolute luukse en ’n voorreg om dit te kan doen. Daar’s mense wat onder vreeslike omstandighede skryf. En dis heerlik as jy dit kan doen.

RUDA: Jy’t daai boek net by die uitgewers afgegee, toe het jy borskanker?

KARIN: Ja.

RUDA: Hoe het jy dit hanteer?

KARIN: Dit was nogal, dit was ’n baie snaakse ervaring. Ek bedoel ’n mens … As jy daai groot K-woord hoor, dan begin jy al die Halleluja-liedere uitsoek vir jou begrafnis. En by my het dit ook baie vinnig gegaan. Van die moment wat ek gehoor het, in die hospital in, en bors verwyder en ja. Dis eintlik eers agterna wat dit my getref het. Wat ek gesit en dink het: O, dit was nou nogal erg. Ja, ek dink dit is ook ’n moment in die lewe wat mens bietjie begin swenk. Waar jy begin anders kyk na die lewe.

RUDA: Hoekom? Omdat jy vir ’n oomblik oorweeg het dat dit nie meer so lank kan wees nie?

KARIN: Hmm. Jy weet, mense gaan dood daarvan. Ek was baie gelukkig in die opsig dat hulle kon dit total verwyder. Ek het ’n bors verloor in die proses, maar ek het ook die kanker verloor. So dit is ’n … dit was vir my ’n ding wat, ek is baie gelukkig daaroor, gelukkig dat dit tot dusver ook skoon is. Dat die kanker nie teruggekeer het nie. Touch wood.

RUDA: Jy was juis by iemand anders wat kanker gehad het, toe Plaasmoord se eerste kopiee afgelaai is? Onthou jy daai aand? Vertel my?

KARIN:  Ja dit was ’n baie goeie vriend wat toe later ook oorlede is. Dit was sort van ’n jaar van wakker skrik van die groot goed in ’n mens se lewe. Ek self wat die siekte gehad het, en ’n baie goeie vriend … Ja maar toe ek weer by die huis aankom, toe’s dit feeste. Rien het …

RUDA: Vertel my toe jy by die hek inloop, wat het jy gesien.

KARIN: Toe ek aankom by die huis, toe het hy kers aangesteek en hy het vir my blomme gebring en die boeke lê hier uitgestal en hy is so bly en opgewonde en ons het letterlik op die tafel gedans, die twee van ons. Dit was fantasies. Hy is so ’n romantiese man as dit kom by sulke goed. Met blomme, en jy weet, daai klein goedjies doen. Ek sê jou mos, die mans in my lewe is goeie mense.

RUDA: Waar het julle mekaar ontmoet?

KARIN: Op ’n troue. Dis een van daai clichés, ons het by ’n troue ontmoet by die odd-man-out tafel. Ons is sonder partners gewees en ja, dit was ook een van die groot swenke in my lewe, en in hierdie geval, ’n fantasiese geskenk.

RUDA: Hoekom? Wat het daai aand gebeur? Het jy daai aand reeds besef hier’s iets belangrik

KARIN: Ja, dit was vir my lekker ten opsigte hy ‘n buitelander was, so ons het onmiddelik oor ander tipe dinge begin praat en dit was so weg van die: “Goeie dag my naam is Rien van Giel.” “O, ek is Karin Brynard.” En daarvan af die gesprek het net nooit weer opgehou nie. Ons praat oor alles en hy is my absolute go-to man en as ek nie weet wie is die Goeweneur van Iowa nie dan weet hy altyd, hy weet waar’s die hoofstede van plekke en hy’s die slimste ou wat ek ken en, maar dit was ’n groot verandering in my lewe in die opsigte dat ek toe besluit het ek gaan uit die aktiewe joernalistiek en ek trek huidjie en muidjie Stellenbosch toe en ek kom woon hier. En ek het ’n fantasiese, heerlike huis gehad in Johannesburg, ek was happy, lekker job gehad..

RUDA: So jou hele vriendekring en alles moes nou eintlik verplant word?

KARIN: Ja, presies. Maar dit was fantasties. Dit het ook ’n baie groot omwenteling in my lewe gebring. Ek moes groot besluite neem. Dit is nie maklik om met, so half in die middel van jou lewe, aan te kom en dan van voor af in die huwelik te begin nie. En nog ’n harde koejawel Hollander ook nog daarby. En dit skuur bietjie moeilik – jy is al bietjie gevorm, hy is al heeltemal gevorm dit is die een ding. Die ander is hy is baie ouer as ek en ek moes baie lank en hard dink daaroor. En hy het ook vir my gesê: “Onthou, ou girl, ons twee gaan nie saam oudword nie. Jy gaan ’n jong weduwee word. En jy weet, sulke soort van goed het ons oor gepraat en jy weet dit was, ek het besluit oraait, geen kinders in daai geval nie en dis was baie groot besluite en dit was baie groot impak op my lewe gehad.

RUDA: Hoe neem jy sulke besluite? Praat jy met ander mense? Gaan sit jy onder ’n boom? Mediteer jy?

KARIN: Ek praat baie. Ek moet praat. En ek moet baie dink. En ek moet baie alleentyd hê. En die alleentyd bring mos die onderbewustheid, bring hy ’n bietjie uit.

RUDA: En op ’n dag dan is jy net seker dit is die antwoord.

KARIN: Ja. Dis asof dit van onderaf opkruip en dan na die oppervlak toe borrel en elke keer as jy ’n gesprek daaroor het, dan kom daar ’n nuwe faset of aspek daaruit. Of. Die hele wereld loop oor van wyse mense. Mens moet net jou hand uit steek, dan is hulle daar.

RUDA: En jou tweede boek: Onse Vader, was dit half vanselfsprekend? Ek skryf ’n boek want ek skryf nou?

KARIN: Ja, want ek het skielik ’n nuwe baas gehad.

RUDA: Naamlik, jou uitgewer?

KARIN: Naamlik hierdie ding, daar moet nog ’n Beeslaar! Dit het so half, my wêreld het ’n nuwe boss boy ingekry, hier is hierdie ding wat geskrywe wil word en ek is nou al in so stadium dat ek vir my man gesê het ek is te bang om te gaan slaap, want ek is bang daar kom a nuwe storie. As ek weer kyk dan is daar ’n nuwe storie en as ek, ek wil dit nie nou hê nie. Ek worstel nou met hierdie een.

RUDA: Jy wil eers ’n bietjie afvat. Jy’t hom baie kort gelede by die uitgewer, jou derde boek, wat is sy titel?

KARIN: Tuisland.

RUDA: Tuisland, ja.

RUDA: En toe het jy ’n Penguin deal vir 4 boeke? Ek het gewonder, plaas dit groter druk op jou of gee dit vir jou vryheid dat jy weet daar is geld in die bank, jy kan dit tyd gee om te sit en skryf.

KARIN: Dis ’n bietjie van al daai. Vir my was dit veral groter druk gewees. En ’n nuwe realiteit van: “Oh gats, hier’t ek nou geland, dit is nou nie meer ’n game nie. Dit het nou ewe skielik ernstig geword.” En dit het, dit het dit vir my moeilik gemaak. Dis, ek weet nie of jy die storie ken van ’n ou wat lekker in sy agterplaas staan en hy gooi darts. En wat noem jy dit – veerpyltjies. En hy gooi. Heerlik. Elke keer ’n bullseye en ewe skielik kom staan iemand en kyk vir hom en sê: “Ah. Jy’s baie oulik. Ek gaan jou in die kompetisie inskrywe.” En daai moment, van daai moment af kan jy nie meer gooi nie. Want jy gooi nou vir ’n prys, en dit is so half. Dit het in ’n manier so met my gebeur. En dit was vir my moeilik om myself daaruit te skud. Letterlik ’n nuwe boek uit myself te skud.

RUDA: Jy het fantastiese resensies gekry van die begin af. Ek dink van die “nuwe Deon Meyer”, ek dink elke Suid-Afrikaner …

KARIN: Ai, die arme Deon.

RUDA: Skrywer is deur Deon Meyer … Maar dit is ook iets anders. Jy’s nou in die openbare oog. Jy’s ’n pryswenner. Elke keer as jou naam gebruik word, sê iemand die prys-wen-skrywer. Dis ’n eienaardige ding om mee te werk.

KARIN: Dit is baie moeilik. As ’n mens ’n baie privaat mens is. Dink ek is dit moeilik en dit is ’n tweesnydende swaard altyd ook. Veral deesdae as jy met, in die medialandskap waarin ons beweeg, moet jy kan in die openbare oog wees, want so verkoop jy boeke. Die boekelandskap het verander. Jy weet dit is baie moeilik om uit te staan. En dis baie moeilik vir die uitgewers om kop bo water te hou. Jy weet jy moet saam smous aan die boeke. So dit is regtig ’n moeilike balans om te hou. En om so half te kan terugtrek in jouself in as jy, want dit is optredes wat jy moet hou vir die publisiteit rondom ’n boek en ja. Dis nie waarvoor jy oefen as jy sit in skryf nie, jy oefen nie vir om konsert te hou nie.

RUDA: Wat lê voor? Jy sê jy wil nie ’n volgende storie uitdink nie…

KARIN: Nee, maar die stories kom jong, en so, maar ek het my man nou belowe ek gaan nou vir ’n paar maande…  Gaan ons nou eers bietjie ons eie ding doen. Ons hou daarvan om ’n kar te pak en die land in te ry. Ons gaan dit nou doen.

RUDA: Voorspoed. Geniet! Dit was Karin Brynard.  Ek is pas klaar met Tuisland – as jy dit nog nie gelees het nie, begin dadelik … maar weet net dat helfte van jou brein vir die volgende week of wat saam met Beeslaar en sy kollegas in die Kalahari gaan ronddwaal. Volgende week het ons ’n verrassing, maar eers moet ons Woensdag gaan stem. Onthou jy kan nie op die wal staan en dan kritiseer nie. Spring in, neem deel. Baie voorspoed, en dankie aan Brightrock wat hierdie program moontlik maak.