Sonja Herholdt se Pad na die Kruin van Haar Lewe

Die sangeres en aktrise Sonja Herholdt vertel sy nie meer op die kruin van haar loopbaan nie – sy is op die kruin van haar lewe. 

In dié episode van Ruda Gesels, draai Sonja nie doekies om oor die moelike pad wat sy na geluk en sielsvrede moes stap nie. Luister van die opname of lees die transkripsie hieronder.

RUDA: Hallo, en weereens baie welkom by Ruda gesels, en dankie aan ons borg, Brightrock. Al hierdie gesprekke leer vir my een ding: jy kan al die openbare feite van iemand se lewe ken, en nog steeds niks van hom of haar weet nie. Dis eers as jy regtig gaan sit om te luister dat jy naderkom … veral as jy begin vra na veranderingsmomente, draaipunte. Kom skuif nader vir ’n kuier met Sonja Herholdt.

RUDA: Jy sê vir my die eerste rêrige groot verandering in jou lewe was toe jou ouers geskei is; jy was klein?

SONJA: Ja, ek was vyf jaar oud gewees, toe’s my mammie en pappie geskei. En ek dink die, die groot krisis het gekom toe ek besluit het ek kies een. toe ek sewe jaar oud is – want dan gaan kuier jy mos een vakansie vir jou ma, vir jou pa, jy bly by jou ma maar jy gaan een vakansie vir jou ma en een vakansie vir jou pa? En dan is jy in die middel en daar was maar nie baie goeie gevoelens van my pa se kant af na my ma se kant toe nie en … en dan kon ek hierdie … vyandigheid teenoor my ma net nie hanteer nie. En toe sê ek net vir my ma ek gaan nie weer na my pa toe nie. Ek gaan nie weer vir hom kuier nie. En … dit het tot gevolg gehad dat … hy het glad nie eers meer met my gepraat nie, tot ek in matriek was. En dan het ek hom genooi na al die operettes toe want dit het maar my aan die gang gehou in die skool, die, die operettes. Dit was ook bietjie van ’n, vir my ’n ontvlugting van die werklikheid. En ek het baie goed gedoen daarin en die, my geskiedenisonderwyser in die hoërskool het vir my gesê, jy moet in matriek in Studenteprins speel. En toe sê my ma, nee. En toe sê hy vir my, as jy nie in die Studenteprins speel nie, weet ek jy gaan dop. En toe is my ma so kwaad vir my … en toe het ek, ek moet eintlik maar net sê dat mnr. Preller het gesorg dat ek toe ’n liefde vir … ek wou eintlik gaan Drama swot het want ek het nie gedink ek kan rêrig sing nie. En … so is ek toe nou maar Goudstad onderwyskollege toe, daar’t ek gaan studeer vir onderwyseres. En … vier jaar studeer. Daar het ek vir my eksman ontmoet, FC …

RUDA: Maar dit is ’n vreeslike mooi verhaal.

SONJA: Ja.

RUDA: FC was die kameraman …

SONJA: Ja.

RUDA: Op ’n Afrikaanse fliek – wat was die naam? Sara?

SONJA: Sara.

RUDA: En hy’s toe ses weke lank weg …

SONJA: Dis hy.

RUDA: En toe hy terugkom, toe sing jy vir hom …

SONJA: Ek verlang na jou.

RUDA: Ek verlang na jou!

SONJA: Ja … toe sê hy ons moet die liedjie in die fliek gebruik. En toe het ons probeer uitvind wie het dit geskryf en ons kon nie uitvind nie, en toe gebruik ons nou maar die liedjie, maar ons verander dit toe sodat dit nou oor die sandduine met die wind wat waai saamwerk, en dis waar ‘waai wind’ vandaan gekom het, wat FC toe nou geskryf het, en toe het Hennie Smit nou met dié liedjie, wat in die fliek is, wat die opname wat ons gemaak het vir die fliek, het hy gaan smous. En hy het toe na die radiostasies toe gegaan en … nee, voor dit toe gaan hy eers na al die, na al die platemaatskappye toe, toe sê hulle, nee, hierdie koekie kan nie sing nie … En … toe gaan hy na André Viljoen toe, toe sê hy, hoor hier, André, hierdie meisietjie, sy kan sing, ons moet net ’n beter opname daarvan maak, want dit word in ’n fliek gebruik. En André het toe nou die kans gewaag van, van EMI Brigadiers, en dis waar Ek Verlang Na Jou toe gebore is. En ek het toe gaan sing, die liedjie gesing in die studio. Ek het skoolgehou my eerste jaar, skoolhou, ek het siek gespeel, ek het nie vir hulle gesê ek gaan dít doen nie. En toe die liedjie uitkom, toe is dit nou net die regte liedjie op die regte tyd, en toe wen ek die Sarie en daar … word ek toe nou gebore,

RUDA: Toe wen jy ses Sarie’s agtermekaar …

SONJA: Ja!

RUDA: En daarna nog twee…

SONJA: Ja.

RUDA: En skielik is jy op elke voorblad wat verbykom.

SONJA: Ja.

RUDA: Hoe’t jy dit hanteer?

SONJA: Dit was nogal ’n rollercoaster ride

RUDA: Ja.

SONJA: Ek was gelukkig … dit het baie, dit klink nou baie stupid as ek dit sê, maar ek was ’n kind van die Here. En ek het geweet waar my dankbaarheid moet lê en waar my krag lê. En … ek was bitter ongelukkig getroud. En ek dink dit het vir seker my voete baie stewig op die aarde gehou. Want ek het meer gehuil as wat enigiemand kon weet. So jy’s, jy, jy’t hierdie gesig nou buite toe van, van jy’s gelukkig en jy’s vrolik en alles gaan goed, maar, maar in jou hart weet jy dit gaan nie goed nie.

RUDA: Maar hoe’t jy daai twee goed in balans gehou?

SONJA: … Ek weet eintlik nie, ek het net nie opgegee nie, ek het net probeer my huwelik laat werk en my loopbaan laat werk. Daar was mense wat geweet het wat aangaan, en ek dink myself, my vreeslik jammer gekry maar my, nooit vir my gesê nie. Totdat ek nou rêrig uitgevind het op die ou einde hier 1980, ’81, wat regtig aangaan en toe het ek … vir FC konfronteer en toe’t ons oorbegin. En dis toe wat Anton Goosen ook sy eie paadjie wou loop en nie meer vir my wou skryf nie. Ja, dit was hartseer en, en nou ja, toe val alles … my loopbaan daar ook effens uitmekaar uit en, maar dit het vir my gegaan om my huwelik weer te restoureer en van voor af te begin. En, en toe het ek en FC saam Rhema toe gegaan, dis waar ek toe my nuwe gospel, my eerste gospel album opgeneem het, Reflections. Was ’n baie goeie album, maar dit was te, te … dit was voor die mark, dit, daai tyd… het jy nie sulke gospel goed gesing in Suid-Afrika nie, jy’t, jy’t goed, jy’t… gospel goed of gesange en psalms in die kerk gesing, nie van die verhoog af nie, jy weet?

RUDA: So die mark was nog nie reg nie.

SONJA: Die mark was nie reg daarvoor nie en Jan de Wet het ook dit vir my gesê. En, want toe’t, toe was hy nog ’n dominee, hy’t nog nie begin sing nie. En ek het maar net gegaan en ek het gedoen … toe dink die mense, wat maak Sonja nou?

RUDA: Ja.

SONJA: Weet? So ek, ek dink ek het die mark vervreem van waar ek was.

RUDA: Ja, want met daai bekendheid kom ook ’n, ’n…

SONJA: Ja, ja.

RUDA: ‘n Blokkie waarin die mense jou wil pas.

SONJA: En ek moes in daai blokkie bly.

RUDA: Ja.

SONJA: En ek moet nou nie uit daai blokkie klim nie. En dit was baie moeilik want die mense … ek sou die eerste gedeelte van my program al my ou liedjies sing en dan die tweede gedeelte het ek vertel – want dit het ek nog altyd gedoen, ek vertel met my musiek en waar ek in die lewe is, waar ek in my hart is.

RUDA: Ja.

SONJA: Ek moet dit sê, ek, ek … En ek dink nie dit is baie slim om dit te doen kommersiëel nie want dan verloor jy jou mense, jy weet?

RUDA : Maar toe’t jy, ook in daai jare, jou vier kinders en jou jongste word toe op tien maande doof.

SONJA: Ja.

RUDA: Hoe werk ’n mens daarmee?

SONJA: Ek het, al my kinders is toe gebore in daai jare wat ons dit, gospel gesing het, in die kerk, basically maar … FC het ook saam met my rondgegaan en ons het ons getuienis oral vertel in Suid-Afrika. En dit het naderhand aanvaarbaar geword. En toe in 1991 is Timmy gebore, en in ’93, toe hy so twee, net so oor twee jaar is, toe word hy siek. En toe hy gesond word toe kom ek agter, maar hy hoor nie meer as ek agter hom praat nie. Dit, nê, is amper soos wat iemand vir jou sê … jy, jy, jy, jy’t kanker of, of, of iemand is dood, jy … jy aanvaar dit net nie. Jy glo dit net nie, want dit is nie, is nie waar nie. Hy hoor. En hy gaan weer hoor. En die – kyk, ek het hom gevat na elke persoon toe wat vir hom kan bid, hoor? En ek het geglo. En so met die tyd het ek agtergekom, maar, jy weet, jy kan nie, you can’t play God in your own life. Jy weet? Daar’s ’n doel met alles. En toe het die hoof by Bryanston Laerskool vir my gesê, hier’s ’n klassie, begin, jy’s mos ’n juffrou. En toe dink ek, ek sal adverteer, daar moet ander dowe kinders wees, en dan sal ek ’n juffrou kry. En ek kon toe nooit die juffrou kry nie, en toe moet ek maar die juffrou wees en ek het gaan kersopsteek by die kleuterskool in Pretoria, wat doen hulle daar, kyk wat doen hulle daar en kom doen dit daar, jy weet? En dupliseer maar net wat hulle doen, dan moet dit mos werk.

RUDA: So dit word toe heeltemal ’n fokus vir jou lewe…

SONJA: Ja.

RUDA: Ek meen, dit moes jou hele, al jou tyd opgeneem het.

SONJA: Ons het, ek het naweke gesing want ek moes naweke sing. En dan in die, in die week het ek skoolgehou.

RUDA: Ja, mens vergeet dat ‘ek moes naweke sing’, dis ’n, jy moet…

SONJA: Ja.

RUDA: Jy moet geld verdien.

SONJA: Ja. En dit was ’n baie, baie moeilike tyd. Maar ek was naby aan my ander kinders by die laerskool, ek kon weet wat in hulle lewens aangaan, en ek kon insae hê in Timmy se lewe … Dit was baie moeilik, ek kan onthou dat ek in die toilet gaan sit het partykeer en gehuil het en gesê het: “Ag, Here, maak net sy ore oop, asseblief …” .En ek kan onthou, hy’t teruggekom van die skool af en gesê: “Mamma, ek wil nie meer leef nie. Ek wil nie meer leef nie want, want Jesus maak nie my ore oop nie, en ek vra vir hom en hy luister nie vir my nie. En die kinders spot vir my en …” En hy sê … ek’s kwaad! Ek sit daar – dit was in hierdie huis – ek sit, ek sit in die kamer en ek weet nie wat om vir hom te sê nie. Ek stap uit en ek kom terug en ek sê vir hom: “Timmy, weet jy, jy mag kwaad wees vir die Here. Jy mag vir Jesus sê jy’s kwaad vir hom, hy verstaan dit. Maar ek wil vir jou sê dat jy het ’n keuse. Jy kan nou óf gaan lê, dat die kinders aanhou spot vir jou, en jy kan aanhou kwaad wees vir hulle, óf jy kan opstaan en sê, weet jy wat, dit het nou met my gebeur, maar ek gaan die beste maak van waar ek nou is. En ek sal vir hulle wys dat ek sal net so goed kan hoor soos wat hulle hoor, op my manier, want jy is spesiaal. En terwyl ek met hom praat, nê, sy oë, sy oë het so vol trane geskiet, en terwyl hy – en die trane loop so oor sy wange – en terwyl ek met hom praat, sien ek, ek sien letterlik hoe die hoop in sy oë in terugkom. En hy sê vir my … okay. Ek sal. Ek sal vir hulle wys dat ek dit sal kan doen. En Timmy het daar omgedraai, en toe het ek hard werk gemaak daarvan, ek moes R250 000 insamel vir ’n kogliêre inplanting, en hy’t een kogliêre inplanting gekry en toe het ek met die juffrou wat hy in Delta Park ontmoet het – Lydia Reese, ’n wonderlike vrou – ek het vir haar gesê, ek weet nie waar gaan ons vir Timothy vat hoërskool toe nie.

RUDA: O, so het hy ’n kogliêre inplanting gekry reeds op laerskool?

SONJA: Op laerskool, die laaste…

RUDA: En kon hy toe, kon hy toe hoor?

SONJA: Hy’t vir my gesê dit is soos ’n liggie wat in sy lewe aangeskakel is, want toe’t hy klank. Want hy’t, toe ons die, toe ons die toets doen om uit te vind hoeveel gehoor Timmy het, toe kom ek agter hoe min gehoor hy het. Want hy’t so goed geliplees. Jy dink hulle hoor, maar hulle hoor niks, en hulle liplees. En hulle is in hierdie dowe wêreld wat jy net niks van verstaan nie en wat, wat so, wat ’n mens so bang maak want jy weet niks daarvan nie. Maar as jy die paadjie begin stap, dan het jy empatie en dan begin jy die ander mense se gestremdhede raaksien en dan, dan kyk jy met ander oë na die wêreld.

RUDA: So hy’s toe deur hoërskool met net die een inplanting …

SONJA: Met die, met die een inplanting…

RUDA: En toe?

SONJA: En toe na … omtrent ’n jaar na hy matriek geskryf het, toe het ons die tweede inplanting gedoen. Want hulle sê die tweede inplanting help nie so baie nie, maar dit het vir Timmy verskriklik baie gehelp. Sy tweede inplanting is amper beter as die eerste inplanting.

RUDA: Wat het daai kind en sy gestremdheid vir jou geleer?

SONJA: My ongelooflike afhanklikheid van die Here.

SONJA: Jy weet? En ek dink nie Timothy sou dié Timothy gewees het as hy kon hoor nie. Want nou vlieg hy hierdie helikopters, die, wat die kamera op het en hy’t gevoel vir ’n kamera en hy’t gevoel vir vlieg, want sy oë is beter as wat sy ore is, weet, en dit, so, so daar moet ’n doel wees en, en ek aanvaar dit so, weet, ek, ek besef dat mens kan goeters vra en jy kan geloof hê – want ek het al die geloof in die wêreld gehad – dat hy net weer moet kan hoor, en dit het nie gebeur nie. Maar daar is ’n doel en ons het nie die breë prentjie in die lewe nie. Dit besef ek.

Ruda: Jy luister na Ruda Gesels, waar my gas vanaand Sonja Herholdt is. Ons is net hierna terug.

Ruda: Welkom terug by Ruda Gesels. My gas is Sonja Herholdt.

RUDA: As ons kan teruggaan … Jy sê nou julle het hard gewerk aan jou huwelik, maar … uiteindelik het jy tog besluit … nee. Maar jy moes eers, jy’t eers in ’n baie groot motorongeluk beland.

SONJA: Ja … Ek sê dit ook vir die vrouens wat ek my, my musiek-motiveringsprogram aanbied, ek bring dit in my program in. Toe ek as kind besluit het om, toe, toe my ouers geskei is, besluit om nie my pa te, meer te wil sien nie … het die juffrouens baie met my geraas want hulle het vir my gesê, jy skeep jou pa af en, en toe rebelleer ek. En ek het in standerd 1 en standerd 2 het ek besluit ek wil niks van skool weet nie … totdat ’n juffrou vir my gesê het, jy’s sleg! Jy’s dom en jy gaan nooit iets in jou lewe bereik nie.

RUDA: Goeie aarde…

SONJA: O, okay. Nou maar goed, nou gaan ek almal impress. En toe het ek almal impress en ek het, ek het besluit maar nou gaan ek eerste in my klas staan, ek gaan hoofmeisie word, ek gaan hoofmeisie word in die hoërskool, ek gaan 90% kry, want ek gaan mense impress. En so het ek van daar af besluit, ek sal sorg dat mense my aanvaar. Want ek is oulik. En, en jy hou hierdie front voor waar jy jou aanvaarding… jou, jou eie waarde, ontdek jy en die aanvaarding kom van ander mense. En, en in die liefde en die aanvaarding van die man met wie ek getrou het … En ek kon nie myself liefkry nie, ek kon my net deur sy oë liefkry. En dit het dwarsdeur my loopbaan het, het hierdie draad so gevloei … Totdat ek in die motorongeluk beland het en ek het besef … hy’s nie lief vir my nie. Hy is nie lief vir my nie en ek kan niks doen om dit te probeer te laat maak werk nie. So …

RUDA: Hoekom, wat het gebeur, moes hy vir jou sorg en jy het net besef, maar hy wil dit nie doen nie, of wat?

SONJA: Hy, ja, hy’t nooit rêrig omgegee nie, of vir my gesorg nie. Selfs in die tyd wat ons probeer het om dit weer te laat maak werk. En ons is in die, in die gospel-bedryf en, en, en, en ons sê al die regte goed, maar ek jok vir myself. Ek dink hy jok vir homself ook. Want ons twee pas net nie. En, en toe besef ek net maar, maar nou … ek kan mos op my eie aangaan. Dit was baie moeilik … Want ek is hier in, in ’n, ’n, op ’n plek waar ek nie eintlik ’n rede het om nou te loop nie … Voorheen het ek redes gehad om te loop want ek het, ek, ek kon … ek kon redes aangee dat FC my … verkul en nou kan ek mos maar loop. Maar … ek het toe nou maar gekies om by hom te bly en dan het ek hom mos nou vergewe, so wat is nou my rede om nou te loop? Jy weet, daar’s mos nou nie eintlik ’n rede nie … En … en ek het net besef … ek moet, ek moet aangaan en ek moet my, ek moet myself weer vind. En…

RUDA: En toe maak jy ’n CD met die naam van Reconstructing Alice.

SONJA: Ja.

RUDA: En dit het eintlik hierdie ervaring saamgevat, nie waar nie?

SONJA: Dit het, ja, dit het. Ek het… twee mense ontmoet, Theunis Engelbrecht het vir my voorgestel aan Carel en Cornel, en, en hulle twee het saam met my begin werk en ek het, ek het vir hulle gesê, ek wil – omdat ek oorbegin met alles in my lewe, nuut oorbegin, eintlik met niks oorbegin, ek begin met niks oor met alles – wil ek ook iets nuuts met my musiek doen, en ek wil my storie vertel, ek wil my storie vertel met Reconstructing Alice. And I’ve got to find my voice … en toe’t hulle nou die liedjies begin skryf en ek was baie opgewonde daaroor. Die pers is baie opgewonde daaroor … en die program was, het die mense baie geniet, die, die, die… ek het ’n ander mark gegenereer met Reconstructing Alice. Maar my bestaande mark – maar nou moet jy nou weet, ek het van, van my ou liedjies na gospel toe oorbeweeg en toe van gospel af het ek toe nou weer hierdie gedoen. En ons mense in Suid-Afrika hou nie van verandering nie. Ons byt baie moeilik daaraan.

RUDA: So goeie resensies, swak verkope?

SONJA: Ja.

RUDA: Jis, hoe werk ’n mens daarmee?

SONJA: En nou moet jy … En dan moet jy nou oorleef, dan moet jy aan die lewe bly. Maar toe’t ek maar weer my ou liedjies opgeneem, ek het dit Sonjare genoem en ek het maar getoer met dit maar, maar my loopbaan het ’n knou gekry en die, die hele probleem is dat as jy nie nuwe materiaal het wat jy kan mee, mee by mense se harte uitkom nie, dan is die verkope nie daar nie. En toe het ek besluit, toe kom ek agter hoe begin die vrouens met my praat na Reconstructing Alice en … toe’t ek begin besef ek moet iets vir die vrouens sê, ek moet nou ’n…

RUDA: En jou, jou Christelike gemeenskap…

SONJA: Ja.

RUDA: Het jou eintlik ook uitgestoot…

SONJA: Ja, ja.

RUDA: Na die egskeiding.

SONJA: Ja, ja. En, en, en, want toe wil hulle hê ek moet nou weer mooi Christelike liedjies sing, maar toe’s ek nou nie eintlik meer daar nie, ek, ek is op Reconstructing Alice, en eintlik is Reconstructing Alice so ’n stuk geestelike groei, in my musiek-motiveringsprogram wat ek vir vrouens bring, dat dit is in elk geval geestelik, jy weet …

RUDA: Jy is nou in ’n nuwe verhouding?

SONJA: Ja, ja, ek is in ’n nuwe verhouding, en dis wonderlik, dis iemand wat my ondersteun…

RUDA: Maar jy wil nie eintlik daaroor praat nie, jy wil dit nie aan die groot klok hang nie. Maar dit maak jou gelukkig?

SONJA: Baie; ek dink, toe ek op die kruin van my loopbaan was, was ek bitter ongelukkig. Nou’s ek nie op die kruin van my loopbaan nie, ek dink ek’s op die kruin van my lewe. En … ek weet net as jy jou soulmate in die lewe ontdek het – ek weet nie hoekom het ek hom so laat ontdek in my lewe ontdek nie – dan is dit asof alles net in plek val en dan is mens, wat het jy gesê van die ganse wat so saam vlieg, jy weet? Dan vlieg jy nie alleen nie, jy, jy, daar’s, daar’s, daar’s momentum. En as die een val dan kan jy die ander ene ophelp en … en dit gaan baie goed met my, dis al wat ek vir jou kan sê.

RUDA: En ’n, ’n mens kan ook sien in wat jy doen, in jou werk, dat jy so gelukkig is. Want dit het my so getref toe ek nou Pêrels, wat jy – wanneer was dit?

SONJA: Ja…

RUDA: 2010?

SONJA: Dit was 2010, ja.

RUDA: Die, die, die lirieke, ‘ek verlang nie meer nie, hierdie hart is heel’

SONJA: Ja … ja …

RUDA: ‘Ek staan nie terug nie want ek weet dis waar, die stukkies van my lewe is nie meer deurmekaar.’

SONJA: Ja, ja.

RUDA: Dis ‘n wonderlike samevatting van wat jy nou eintlik gesê het. En jy’t ook begin om saam met jou seun op te tree?

SONJA: Ja, ja. Eintlik het ons ’n liedjie vir Pêrels gedoen wat, wat ons saam doen, maar so nou en dan tree ek en hy saam op en, en, en dis baie lekker want daar is ’n, daar’s ’n verstaan tussen ons, daar’s ’n sinergie en ons stemme gaan baie mooi saam.

RUDA: Baie voorspoed vir jou en vir hom, en die ander kinders.

SONJA: Baie, baie dankie. Baie dankie. Dit was ‘n voorreg.

Ateljee: Dit was Sonja Herholdt. Soveel vasbytvermoë het ek nog selde gesien, al lyk sy so klein en fyn. Volgende week gesels ek met Karin Brynard, skrywer van Plaasmoord, Onse Vaders, en nou pas op die rakke Tuisland. Karin het as politieke joernalis begin, en deur diep waters gegaan om te kom waar sy is. Maak seker dat jy aansluit. Dankie aan Brightrock, wat dit moontlik maak. Tot volgende keer, tot siens.

 


Comments

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *