Ruda Gesels met Carike Keuzenkamp én Rachelle Greeff

In hierdie episode van Ruda Gesels gaan kuier ons by twee verskillende gaste: Die sangeres Carike Keuzenkamp, en skrywer Rachelle Greeff. 

Dis interessant om te hoor hoe bittermin van die mylpale in Carike se loopbaan beplan was, en hoe onverwagse wendings in Rachelle se lewe haar op haar skrywerspad gestuur het. Luister na, of lees die opname hieronder. Ruda Gesels word op Donderdagaande omstreeks 20:30 op RSG uitgesaai.

Transkripsie:

RUDA:  Hallo.  Baie welkom by hierdie episode van Ruda gesels, en weer baie dankie aan Brightrock wat dit moontlik maak. Ons het vanaand twee gaste: Carike Keuzenkamp en Rachelle Greeff.  Ek gaan by Carike begin.  Ons soek soos altyd na oomblikke toe die lewe ‘n nuwe rigting ingeslaan het … soos toe sy op universiteit was.

RUDA: Kan jy onthou… toe jy Joolkoningin geword het…hoe het dit gevoel?

CARIKE: Ek dink ek was ’n bietjie…uhm.. ek was baie verras. Ek het dit nie verwag hoegenaamd nie en …uhm…en dit het my lewe verander hoor. Dit het my lewe verander. Waar ek vantevore nooit eers grimering gedra het nie en net ’n..’n onbekende student op die kampus was … skielik kyk almal vir jou. Jy weet in daai dae was dit nogal ’n ding om… joolkoningin van die universiteit te wees in die sin van dat almal ken jou. Dit was die hele Pretoria Universiteit … En dan … Jy voel so half, oeg, jy’s heeltyd in die openbare oog … uh … Bespreek mense jou nou … as hulle vir jou kyk … As jy kop-onderstebo loop dan dink hulle dalk jy dink te veel van jouself. Dit was vir my ’n geweldige aanpassing.

RUDA: En toe beland jy in ’n fliek sommer net daarna?

CARIKE: Ja…ja

RUDA: Hoe’t dit gebeur?

CARIKE: … Eintlik al reeds in daai tyd het ek die opnames gedoen vir die Professor en die Prikkelpop en ek het Timothy gesing en was net 10 sekondes op die skerm [Timothy speel in the agtergrond] Jy weet hier maak ek ’n liedjie, skielik neem ek ’n liedjie op, maak ’n plaat. En skielik is ek … Waar ek nooit wou gewees het nie. Jy weet dit was nooit my ambisie nie. My ambisie was swot klaar, en, trou, kry kinders. Dit was my ambisie.

RUDA: En hoe’t jy daarop gereageer … hoe’t jy dit gehanteer?

CARIKE:  Ek’t het gedink, oh well… dit is iets wat verbygaan. As ek nou klaar geswot is dan is dit ook nou verby, dan weet niemand meer van my nie. Na een liedjie … ag wat … wie gaan my nou onthou met Timothy? Jy weet?

RUDA: En toe?

CARIKE: En toe werk dit nou nie heeltemal so uit nie. Dis nou al, jy weet, sewe, 48 jaar, 48 jaar later en ek sing nog steeds en ek kan dit eintlik nie glo nie want niks daarvan was beplan nie.

RUDA: Jou volgende soort van openbare optrede was toe Kraaines en dit was … televisie was nog nie eers in sy babaskoene nie.

CARIKE: Ja dis reg. Waar ek hier in ’67 begin sing het … ’75 was die begin van televisie en dit was eintlik nog net die toetsperiode. Toe’t hulle gesê … goed ons gaan nou ’n kinderprogram doen. Ek het daar ook net in beland sonder dat ek wou, nê? Ek het uh … ek is gevra om te kom vir ’n oudisie nadat hulle vir my moes ’n telegram stuur … ek het nie eers ’n telefoon gehad nie. My ’n telegram gestuur … en ek het toe gesê ek ek gaan nie. Toe sê Olaus vir my, my man: “Gaan kyk net hoe lyk die binnekant van ’n ateljee. Jy was nog nooit daar nie. Dalk is daar eendag… is daar ’n … musiekprogram wat hulle wil opneem dan het jy darem al die binnekant van ’n ateljee gesien.” En ek het gegaan met die idee van, ‘oh well, jy weet dis nou, dis nou lekker, ek wil nie op televisie wees nie’. Dis angswekkend net die gedagte, jy weet ek weet niks van televisie nie. En toe ek my weer kon kry toe toe bied ek Kraaines aan vir 10 minute in daai toetsperiode. En die volgende jaar … toe dit amptelik begin … in ’76 … toe’s ons ’n halfuur op die lug.

RUDA: En het jy dit geniet terwyl dit aan die gang was?

CARIKE: Ja ek het die geniet, want dit was iets heeltemal anderste. Ek was ook baie gestres, baie gespanne gewees. Ek het nooit ’n teks gehad om van af te werk in die eerste klomp jaar nie, ek weet nou nog nie hoe nie. Laat staan nog dat ek ’n papegaailens gehad het om iets van af te lees. Ek moes als uit my kop uit swot en dit was vir my baie baie moeilik gewees. Dit het gemaak dat ek dit nie so geniet het nie. Maar die kinders en die mense saam wie ek gewerk het en die dinge wat ons gedoen het en die programme wat ons opgeneem het – dit was vir my baie baie lekker.

RUDA: Hoekom is jy weg?

CARIKE: Weet jy na nege jaar, toe’s my , toe’s my kinders nou al op ’n stadium wat ek gedink het hulle het meer aandag nodig, en Maryke was nog, nog klein gewees. En ek het toe ook gedink, na nege jaar is dit miskien ’n goeie tyd om te gaan … terwyl die program nog daar is, jy weet … laat jy … as jy daar is moet jy gaan, nie wanneer hulle sê ons wens sy wil nou gaan nie.

RUDA: Ons is nou so moeg vir haar gesig

CARIKE: Ja so ietsie. Ja, toe’t ek gedink miskien is dit nou tyd. Olaus het ook baie besig geraak op daai tyd. Hy was so ’n tydjie van sy lewe was hy ’n paar jaar in die politiek … en … En dit het nogal baie van my ook geverg. Jy weet dit is maar ‘n ding wat gebeur as ’n ou se man nou in die politiek is dan’s jy ook maar in die politiek.

RUDA: Dit klink of jy dit regtig gesien het as ’n vennootskap. Die twee van julle doen dit

CARIKE: Ja, ek dink ons hele … getroude lewe … en dis nou 47 jaar, is ’n vennootskap. Jy weet hy staan my altyd by in my singery. Wat ek ookal sou doen, hy sou nie omgee as ek nog meer gedoen het nie, maar ek wou nie. Maar ek het ook altyd gevoel, jy weet, dat ek wil dit saam met hom doen en ten minste doen hy interessante goed. Jy weet sy werk was altyd interessant genoeg dat ek kon deel wees daarvan en dat dit vir my ook iets beteken het. Ek was nie net iemand wat aan sy arm gehang het om nou na iets te lyk nie. Ek was darem ook daar om bydrae te lewer.

RUDA:  Nie net ’n versiering nie

CARIKE: Ja, nie net ’n versiering nie

RUDA: En in die proses het julle baie naby geloop met die veranderinge in die land. Hoe’t jy dit ervaar?

CARIKE: Ons was nou weliswaar in die politiek maar ek het eintlik … daarna besef ek weet eintlik niks nie en toe die nuwe bedeling kom, en Olaus is daar ook betrokke. Hy was vir twee jaar, was hy in Tokyo Sexwale se kabinet gewees in Gauteng, in die Wetgewer …. Was dit vir my ongelooflik interessant om te sien hoe Madiba ingehuldig is daai Meimaand net na die verkiesing. Jy weet dit was groot oomblikke. Ek het dit gesien as geskiedkundig, jy weet, en veranderend, lewensvernaderend amper, jy weet. Ons land het heeltemal verander. Alles het verander. Niks sou ooit weer dieselfde wees. Maar ek het dit baie positief ervaar, baie positief. En dit was vir my ‘n goeie leerskool gewees.

RUDA: Hmm. Baie mense versit hulle teen verandering in die algemeen. Hoe voel jy daarooor?

CARIKE: Weet jy ek het ook al agtergekom dit help nie rêrig jy versit jou nie. Ek dink as jy ouer word dan wil jy partykeer maar dit wat jy ken, jy weet, wil jy maar aanhang en so aan. Maar baie keer kan verandering eintlik baie opwindend wees. En moet jy jouself eintlik nie daarteen versit nie, want nuwe dinge gaan oor nuwe horisonne. Veral as jy ouer is, jy weet, jy kan jy baie stagnant raak en dan dink jy dan waarvoor lewe ek nog, terwyl daar nog so baie dinge is om voor te lewe en jy moet net jou oë bietjie oophou, sien wat is die geleenthede.

RUDA: En dit het absoluut waar geword in jou lewe met amper ’n nuwe hoofstuk in jou sangloopbaan, hmm? Hoe het dit gebeur?

CARIKE: Ja, dit was ook nou interessant want hier in my begin vyftigerjare het ek gedink ek het nou eintlik al alles gedoen wat ek wou gedoen het wat my singery betref. Ek wil eintlik nie nog iets doen nie. Wat kan ek nou nog doen? Jy weet, en ek het so half gedink dis nou die einde van die pad. En toe word my kleinseun gebore, my oudste kleinseun Neil, en toe’t ek gedink haai weet jy, die arme kind, waarna gaan hy nou luister na sy ouma, plate? Jy weet? En toe’t ek gehoor hulle maak nou CDs. En ek het toe nog nie ’n CD gehad nie en ek het toe gedink as ek nou my kindergoed wat ek in die tagtigerjare en die sewentigjare opgeneem het, as ek dit nou vir hom kan net op een ou CD’tjie kan sit, dan kan hy nou daarna luister. Nooit gedink dis die begin van ’n hele nuwe Kinderland reeks nie.. Ons is nou al by nommer 11 van die DVDs en natuurlik ook die CDs. Ek kan dit amper nie glo nie, in amper net soveel jaar.

RUDA: Skryf jy self?

CARIKE: Nee ek skryf nie self nie. Maar ek sing dan die liedjies en ek vertel die storie. Ek geniet dit vreeslik.

RUDA: Carike is dit nie interessant hoe ’n mens partykeer, soos nou met hierdie ding. Jy neem ’n besluit om iets te doen maar jy het geen besef van die impak wat dit op jou lewe gaan hê nie, hmm?

CARIKE: Ja.

RUDA: Is dit in jou lewe die meeste kere wat daar groot veranderings was, was dit maar so of was daar regtige besluite?

CARIKE: Nee ek kan nie sê dat ek ooit enige besluite geneem het wat hierdie spesifiek lewensveranderende omstandighede … miskien behalwe toe ek besluit het ek gaan nou trou… maar ek was baie jonk … het ek regtig geweet wat ek sê toe ek 21 is? Maar weereens, die Here se hand is op ’n mens want Hy het vir my die regte man gegee op die regte tyd. En ek dink ek was miskien net baie keer naïef, nie regtig geweet waaroor alles gaan nie … dat ek … um … jy neem … jy neem maar die besluit maar dis nie … partykeer weldeurdag nie, soos met die Kraaines, soos met die singery, soos met, soos met die Timothy opneem. Ek meen ek het gegaan om ’n getal vol te maak in ’n fliek. Kobie Uys, Jamie se dogter, het vir my gesê man, kom, my pa soek nog ’n paar girls om sy, net die getal vol te kry. En dis hoe ek daar beland het en dis hoe Jamie vir my gesê het strum op jou kitaar en sing ’n liedjie. En ek bring toe Timothy daar aan, jy weet. Nou hoe, het ,het, dit kon mos nou nie beplan gewees nie. Ek het nooit gedink aan ‘n sangloopbaan nie. Ek dink nou nie dis ’n loopbaan nie. Ek dink nou nog dis ‘n stokperdjie.

RUDA: En nou iets heeltmal anders waaroor ek ook moet vra…borskanker…twee keer?

CARIKE: Ja, dit is nogal iets wat ’n ou nie jou … enigiemand toewens nie. Die eerste keer, weereens ek was ook baie naïef, nie veel geweet nie. Er…dit was, dit was ook redelik ernstig as jy dink, dit was ’n mastektomie. Er … ek het ook … ek het behandeling gekry, chemo. My hare het nie uitgeval nie, so masjien op die kop gehad, toe val my hare nie uit nie. So ek het nooit regtig siek gevoel, of ek het nooit … ek het ook gedog dit is ook maar net so een keer, dit gaan nie nou weer met my gebeur nie.

RUDA: Maar dit was 20 jaar terug, dit was toe nog baie meer van ’n verskrikking as wat dit nou is. Hmm?

CARIKE: Ja, ek … maar ek het dit nie as ’n verskrikking, snaaks genoeg, gesien nie. Ek het gedink dis erger as ek my arm verloor of ek kan nie meer sien nie of ek kan nie loop nie, jy weet. Ek het nie gedink die bors as sulks is vir my, was nie vir my so groot storie nie. En die tweede keer het ek amper self die besluit toe geneem want ek wou eintlik lankal die ander bors ook laat gaan het.

RUDA: Ter wille van gemoedsrus?

CARIKE: Ja, ter wille van gemoedsrus. Ek het geweet hy, hy is ook ’n risiko. Maar jy weet nou’s jy besig en jy’s aan die gang en jy kom nie daarby uit nie. Maar tot ek nou gesien het maar hier’s dalk ‘n probleem, ons moet net definitief weet en al. Ek moet sê ek het baie, baie toetse, elke jaar vir toetse gegaan, en al die toetse was negatief. Geen toets het enigiets gewys nie. En eers toe hulle eers nou die mastektomie doen, toe’s dit ’n 13cm in deursnee gewas.

RUDA: Maar het jy nie verskriklik geskrik toe dit nou terugkom en dít ten spyte van al jou voorsorg?

CARIKE: Erm, ja, ek dink ek het geweet daar’s iets verkeerd toe ek sien hierdie verdikking moenie daar wees nie. En die dokter het hom ’n paar jaar dopgehou en hy was dieselfde en toe hy skuif toe sien ek, oe, nee wag. Weereens, selfs die eerste naaldbiopsie wat uitgekom het was skoon. Kan jy dink, nê? Dertien. Dertien sentimeter. Toe sê ek vir dokter hoe is dit moontlik dat hulle dit nie kon optel nie. Toe sê hy jy kry baie verskillende soorte borskankers. En die een wat ek gehad het was soos ’n spinneweb. Hy’s so sulke dun draadjies wat hier deur jou digte borsweefsel lê en jy tel hom net eenvoudig nie op met ’n toets nie. Nou dit is hoekom ek vir vrouens sê as jy net dink jy voel onrustig, dan’s jy by die dokter, jy weet, en doen maar alles wat jy kan doen.

RUDA: En vorentoe, maak jy planne, of loop jy net deur ’n deur as hy oopgaan?

CARIKE: Ek dink ek loop deur daai deur as hy oopgaan. Want die opwindendste goed gebeur en noudat Olaus soort van amper afgetree is – hy sê altyd hy is nou afgetree maar hy is nie, hy is nog nie afgetree nie – dan, dan reis ons nou nogal baie, jy weet. En dit is nou nogal baie lekker.En jy weet daar’s nog dinge om te doen en ek is seker daar sal wel iets na ons kant toe kom, veral as Olaus nou eers regtig afgetree is. Dalk besluit ons saam op ’n stokperdjie, dalk neem ons danslesse om ons fiks te hou of ek weet nie wat nie, begin skaak speel of iets. Ons sal iets kry.

RUDA: Ek is seker. Baie voorspoed.

CARIKE: Baie dankie

RUDA: Dit was Carike Keuzenkamp, op Ruda Gesels. Weereens iemand wat ek gedink het ek ken – tot ek regtig begin luister het.  Na die breek kuier ek by Rachelle Greeff.  Ons is nou terug.

RUDA: Welkom terug by Ruda Gesels. Het julle die drama Naaimasjien gesien? Of dalk by een van die kunsfeeste Rondomskrik? Twee aangrypende dramas, en dis maar net ’n klein deel van die werk van ons tweede gas vanaand, Rachelle Greeff. Ons het by haar pragtige seehuis naby Hermanus gaan kuier.

RUDA: Jy’t vir ons gesê jy is gepubliseer voor jy gepubliseer is. Hoe het dit gebeur?

RACHELLE: Ja, absoluut. Ek het liefdesbriewe geskryf aan Alexander Strachan wat toe my kêrel was. Hy’t in Natal gewoon en ek het in die Kaap gewoon. Ek het by Huisgenoot gewerk en die briewe is gepubliseer in  ʼn roman van hom. En die resensente het gesê, minstens twee, hulle kan nie glo eintlik dat hy so mooi die vrouebriewe skryf nie. Nou-ja, dit was ek. My naam was ‘Gillian’ in die briewe, joernalis by Huisgenoot.

RUDA: En jou eerste eie kortverhaal, ‘Rugkant van die Bruid’, daar’s ʼn hele geskiedenis agter dit?

RACHELLE: Die ‘Rugkant van die Bruid’ het begin toe die bruid op haar rug gelê het. Nou nie in ʼn baie lekker posisie nie. Ek het redelik haastig getrou, ek was swanger en toe het ek gedreig om my baba te verloor. Nie ek nie, die swangerskap. Ek weet nou nie hoe ʼn mens dit sê nie. En toe moes ek gaan lê. Ek was toe ʼn joernalis by Huisgenoot en ek moes lê. En wat kan jy doen as jy lê. Toe’t ek op my sy begin skryf. En na die prematuur-baba se geboorte … het die fisieke … Daar was allerlei onaangename dramas en 17 bedrywe wat aan en aan gegaan het, operasies en so voorts. En ek was, jy weet, huisgebonde. En ek was altyd baie sosiaal en bietjie rondgespeel en partytjie gehou. En, ja, toe’t ek maar geskryf. Want dit is eintlik al wat ek kon doen. Ek kon net sit.

RUDA: Dit moes ʼn baie, soos jy nou self sê, dit moes ʼn baie ingrypende verandering vir jou gewees het om jou hele lewenstyl so te skuif?

RUDA: Dit was. ʼn Deel van my was baie outgoing. Ek was ʼn teater en –ballet dansresensent. Ek het uitgegaan. Ek is lief daarvoor om mooi aan te trek, my stilletos aan te trek en ja, dit het oornag verander. Ek was 29 jaar oud en ek dink baie mense het dit nie begryp nie. Baie van my vriende het dit nie begryp nie en gedink Rachelle is nou weer depressief of wat is dit nou? Maar, ja, dit het my lewe verander. Ek het anders na ander mense gekyk.

RUDA: Wat bedoel jy?

RACHELLE: Dit… Daardie baba van my is gebore 1986. Dit was, ek kan nie nou onthou nie, die tweede noodtoestand. Dit was rowwe tye en ek het veel meer empatie ontwikkel vir mense wat swaarkry. Ek het swaar gekry op ʼn ander manier. Mense wat verneder word. Mense wat … wie se menslikheid aangetas word. Vroue wat swaarkry, jy weet? Wat doen jy met … jy weet … as jy na operasies. Jy het nie ʼn huis nie. Jy woon op straat. Jy gaan seker nie die operasie hê nie of jy woon in ʼn plakkers-hut of  ʼn shack. Jy het nie vervoer nie. Jy word verguis by die werk. Jy het ʼn prem-baba. Die prem-baba gaan dit waarskynlik nie maak nie. Jy weet ek het al die hulp op aarde tot my beskikking gehad en vir my was dit swaar en hartseer en ʼn allenige pad. En dan het ek gekyk na ander mense en ek het net gedink … Ja wel, dit het my insig verander hoor, my uitsig.

RUDA: Die land het so verander. Ek meen dis 30 jaar. So dit is 30 jaar vandat jy begin skryf het. Hoe’t dit ingespeel op wat jy skryf, op wat jy dink, op wat in jou kop aangaan?

RACHELLE: Die land is altyd ʼn backdrop. Dit gaan vir my oor mense. Ek skryf oor mense. Stories van gewone mense of ietwat eienaardige mense. Hier gaan so baie aan en ons is dikwels so … voel ons so desperaat, of ons is so kwaad, of ons is so ontsaglik opgewonde. Onthou jy ’94? Dit was ʼn Dinsdag toe ons gaan stem het. Dit hou ʼn mens… Dit hou my op my tone.   Ek dink dit gaan oor verandering in die land. En dit hou ʼn mens vloeibaar ook as jy ʼn kreatiewe mens is, huh?

 

RUDA: Verandering is vir baie mense, baie bedreigend. Hoe sien jy dit?

RACHELLE: Ja, wel, dit is dan jammer want dit is die lewe. Dit verander die hele tyd. Dit verander oornag. Dit verander in ʼn oogwink. En iewers, hier, moet  ʼn mens net, oe, jy moet net baie sterk wees. En ook baie sag. Dit klink nou baie teenstrydig maar ek dink jy weet wat ek bedoel …

RUDA: Buigsaam…

RACHELLE: Dit’s soos ʼn boom. Gisteraand by yoga sê sy ons moet sit soos teen ʼn boom. En ons sien die boom. En ek het toevallig ʼn Koorsboom gesien met daai pragtige liggroen stam. En die wind waai deur die blare en die storms kom en gaan. En dit is Suid-Afrika om ons. En mense is nou weer ʼn bietjie so. Hoeveel keer was hulle al so gewees, ons almal, wie ook al. En jy moet maar net die ligte groen stam van die Koorsboom wees. Sterk en sag.

RUDA: Hoekom of hoe het jy kinderstories begin skryf?

RACHELLE: Oe, want ek is ʼn kinder! Diep binne in myself. Ja, miskien omdat ek kinders gehad het of nog steeds het. Ek hou van kinderstories. Ek lees nou nog kinderstories. Dis less is more. Daar’s baie min woorde en met goeie illustrasies is dit fantasties. En jy kan dit in… Ek raak baie gou verveeld, so, jy kan dit net so vinnig klaar lees. Ja.

RUDA: En nou onlangs, onlangs soos in die laaste twee-drie jaar, het jy twee baie suksesvolle dramas geskryf. Eers ‘Naaimasjien’ en toe ‘Rondomskrik’? Hoe voel dit vir jou? Daar’s dit nou op die verhoog, ander mense speel dit uit. Dis uit jou hande uit?

RACHELLE: Ja, maar dit is die lekker ding van drama. Dit is ʼn spanpoging. Ek het nie ʼn probleem met uit-my-hande-uit nie. En ek dink dis waar die hele ding oor verandering … You have to let go. Ons is tog besig om die hele tyd te oefen vir die groot let-go. As ons nou eerlik is. Dit is maar net, jy weet, ek is maar net die een waar dit alles begin het; wat die fondament gelê het.

RUDA: So jy dink nie oor die impak wat dit het op al die mense… Ek het nou altwee daai goed gesien en ek meen die hele gehoor word soos een organisme wat almal saam sit en huil.

RACHELLE: Ja, dit … dit beteken ek het seker iets darem reg gedoen. Dat ek iewers aan iemand geraak het en dit is wonderlik. Ons was op Bredasdorp met ‘Rondomskrik’ en dit was ʼn…dit was ʼn merkwaardige ervaring.

RUDA: Rondomskrik is gebaseer op die dood van Anene Booysen vroeg in 2013 in Bredasdorp.

RUDA: Vertel my iets daarvan?

RACHELLE: Dit het gereën en die mense het tougestaan en die elektrisiteit, die krag, het afgegaan en die plaaslike mense het gesukkel om die kragopwekker aan die gang te kry. Die mense het getou, dit was bitterkoud en dit het begin reën … gewag want nou is ons laat. Op die ou end het hulle die saal se deure oopgemaak en daar’t hulle gewag. Iemand het hulle huiswinkeltjie gebring en agter in die saal begin bedryf. Kinders het rond gehardloop. En die tannies was so mooi aangetrek. Mense trek mos nie meer mooi aan vir teater nie. Toe ek klein was het ons dit gedoen. My ma het my so geleer. Dit is jou respek wat jy toon aan die akteurs en die harde werk wat hulle gedoen het. Jy trek jou mooiste aan en jy lyk mooi. En daai aand het die mense so gelyk en hulle het na die tyd na my toe gekom en vir my dankie gesê en dan … Ja, dit is genade.

RUDA: En in jou persoonlike lewe, jy’t nou ʼn nuutgevonde ou liefde. Julle het ʼn kort affair gehad, sê jy, 30 jaar gelede. En toe hoe’t jy en MC weer bymekaar uitgekom?

RACHELLE: Ja, Jan Rabie en Majorie Wallace het ons voorgestel aan mekaar destyds en ek het altyd met hom kontak, gehad want hy is natuurlik ʼn baie goeie skrywer in eie reg en hy was redakteur van die ‘Hermanus Times’, joernalis, ek was joernalis en ek het hom van tyd-tot-tyd gesien. Maar daar was eenvoudig niks tussen ons ooit weer nie. Hy’t twee seuns en ek het twee seuns. Ons het nou vier baie mooi seuns. En toe, ja, ek was eintlik besig om heeltemal tevrede te wees met … Ek is altyd… Ek is gemaklik in my vel. Ek hou van alleen wees. En toe’t hy op ʼn dag daar opgedaag. En dit was net eenvoudig weer liefde met die eerste oogopslag.

RUDA: Met die eerste soveelste oogopslag?

RACHELLE: Ja, wel, dis ʼn bietjie vreemd maar dit was presies. Toe ek hom destyds die eerste keer gesien het, het ons onmiddelik verlief geraak. En toe kom hy weer in my lewe en ek was eintlik ʼn bietjie geïrriteerd want ek was besig om te werk en ek was op ʼn ander plek. En toe ons mekaar sien toe gebeur dit weer.

RUDA: Is liefde verskillend op verskillende tye van ʼn mens se lewe?

RACHELLE: Ek hoop so, ja. In die begin is dit net, ja, verliefdheid. Verliefdheid, opwinding, lus, seks, hormone. En dan soos jy jouself leer ken en minder belangrik word en minder projekteer … al jou goed op ander mense projekteer en dink dis hulle, terwyl dit al die tyd julle is. Ja, daar is ʼn groter aanvaarding, ʼn groter omgee, ʼn groter rustigheid.

RUDA: En jy… Ek wil nou vra wat volgende? Maar wat volgende vir jou is altyd ʼn volgende skryfprojek, nog iets?

RACHELLE: Ja-nee. Ek is klaar besig om nog ʼn toneelstuk te werk. ʼn Mens dink nie aan ʼn akteur of aktrise nie. Dis ʼn storie en dis ʼn storie wat in my nuwe bundel kortverhale is. En dan is daar  ʼn paar ander dingetjies ook. Ja. Daar’s altyd iets in my mou.

RUDA: Baie voorspoed daarmee.

RACHELLE: Baie dankie.

 

Dit was Rachelle Greeff.  As jy nog nie haar kortverhale ken nie, gaan soek dit.

Dis meer as die moeite werd. Volgende week gesels ek met Patricia de Lille. Soos altyd gaan dit nie oor sienings en standpunte nie, maar oor die mens en haar geskiedenis, wat ons almal se geskiedenis is. Moet dit nie misloop nie. Dankie aan Brightrock, en goeienag.