Die aktrise, sangeres, kok en pleegma van ses Elzabé Zietsman het oor die afgelope drie dekades diep spore in die Suid-Afrikaanse en Europese vermaaklikheidsbedrywe getrap.
Tussen alles deur het sy groot persoonlike en professionele uitdagings in die gesig gestaar en baasgeraak. In die eerste aflewering van Ruda Gesels op RSG gesels Ruda Landman met Elzabé oor die verskillende kinkels en kabels in haar lewe en loopbaan. Luister na die onderhoud hieronder – jy kan dit ook aflaai by dié skakel.
*Ruda Gesels word op Donderdagaande omstreeks 20:30 op RSG uitgesaai.
Transkripsie:
RUDA: Baie welkom by ‘n reeks heerlike gesprekke met Suid-Afrikaners uit alle velde en omgewings. Die onderhoude is oorspronklik gedoen vir die program VeranderDinge op KykNET, maar daar het ons net tien minute lugtyd gehad, terwyl die gesprekke feitlik almal baie langer was. Ek wou so graag meer van die inhoud deel, en daaruit het hierdie program ontstaan. Gelukkig het ons borg, BrightRock, ook gedink dis ‘n goeie plan.
Vanaand gesels ek met Elzabé Zietsman – aktrise, sangeres, kok en pleegma van ses. Ons het in haar gastehuis in Brixton gekuier.
RUDA: Jy haal altyd ‘n lyn uit Flashdance aan, wat jou deur jou lewe dra, amper…
ELZABÉ: Ja, dit was baie baie aan die begin van my loopbaan gewees. Ek dink dit was 1983, 82, 83 wat Flashdance uitgekom het en ek het vir die eerste keer onder in die Kaap gewerk toe ek die fliek gesien het. En dit het so ‘n indruk op my gemaak dat ek letterlik uit die moviehuis gestap het na ‘n tiekieboks toe – dis hoe lank terug dit was –en iemand gebel em gevra maak om vir my ‘n skildery daarvan. En daai skildery hang nogs steeds in my huis: “If you give up your dream, you die.” Ek glo dit met alles in my.
RUDA: Jou loopbaan het eintlik so wonderlik begin, met die begin van televisie – Meisie van Suid-Wes saam met Arnold Vosloo, met Regardt van der Bergh as die regisseur. Skets ‘n prentjie van daai vroeë dae van televisie
ELZABÉ: Kyk, ek het twee reekse gedoen, direk na mekaar, maar televisie was darem al so agt jaat aan die oud gewees. Rooi Komplot was die eerste een wat ek saam met Regardt gedoen het.Ons het ons eie grimering gedoen, ons eie klere gedra – dit was heeltemal anders as wat dit hierdie se dae is.
Ek het so duidelike beeld in my kop wat ek en Pierre Knoesen wat op die treinspoor, net buitekant Swakopmund hardloop met sulke hake aan. En dit was weereens ons eie klere. En ek het so ‘n kort denim rompie aangehad en wat ons toe Swakop is om die meisie van Suid-Wes te help. Dit was nog Suid-Wes, dis nog voor dit Namibië was. Dis so lank terug. Euw!
RUDA: Ja ‘n mens se oë word groot as jy dink hoe lank terug dit was en waar ‘n mens al was. En toe op ‘n stadium moet jy in Pizzland in Hillbrow gaan werk, as teller?
ELZABÉ: Kyk my hele loopbaan was basies maar so gewees. Met goeters wat gebeur en dan’s daar weer niks. Ek het oorspronklik, ek het oorspronklik opgelei as ‘n aktrise. My plan was nooit om ‘n sangeres te word nie. Maar toe doen ek die show saam met David Kramer in 1984 en hy sing Skipskop vir die eerste keer op die verhoog. En daar draai alles weer om. Skipskop het van my ‘n kabaret sangeres gemaak. Alhoewel ek dit nie in die show gesing nie. David het dit gesing en daar … geland wat jy kan doen met woorde as daar musiek by is. Hoe diep jy mense kan raak. En ek het Skipskop gesing as ‘n solo in my heel eerste solo kabaret. En daar woe, gat ek wéér ‘n ander rigting in. En dan gebeur daar weer – ek gaan Duitsland toe. Skielik weer met musicals wat ek nog nooit in Suid-Afrika gedoen het nie. So daar was klomp sulke, verskriklike veranderinge in my lewe gewees.
Êrens in die negentigs, of was dit die twee duisends? Word ek ‘n vervaardiger van verhoog produksies – weer ander rigting in. Daai maatskappy sien sy alie en ek sit met ‘n geweldige besigheidskuld wat ek alles moet verkoop om my besigheidskuld, ‘n gedeelte van die besigheidsskuld te kan delg en ek koop hierdie plek en dit was lank, wel nie lank nie, maar voor die nuwe kredietwette in Suid-Afrika. En toe gee die bank vir my ‘n lening wat ek nie kan bekostig nie en wha! Daar gat ek weer in ‘n ander rigting in, want dan moet ek die huis omskep sodat hy vir homself kan betaal en daar kom die hele ding van die gastehuis en..
RUDA: Die plek wat sy gekoop het is vandag Zietsies, eetkamer en gastehuis, hoog teen die kop in Brixton, Johannesburg. Dit was ‘n groot hap om af te byt, maar Elzabé is nooit spyt nie.
ELZABÉ: Ek kon gaan bly in ‘n een slaapkamer woonstel met ‘n voëltjie en ‘n kat maar my pretnjie van myself in my kop pas nie daarby in nie.
RUDA: That was not the dream
ELZABÉ: That was not the dream. Ek wil hier bly. Ek wil Johannesburg aan my voete hê, en om hier te kan bly moet ek ‘n entrepreneur wees want dit wat ek uit die verhoog uit maak en dit wat ek uit televisie of goeters maak is nie genoeg om vir hierdie droom te betaal nie. So ek moet hom aanvul uit ander plekke uit. En dis nie iets wat ek vooraf beplan het nie. Sulke goed gebeur met my en dan maak ek my oë toe en ek spring by die diep kant in en ek hoop ek kan swem. Baie keer is dit net my neus wat uitsteek maar ons hou aan.
RUDA: Wat was die, as jy nou terug dink aan al die jare van shows, jy was in Egoli en jy’t met elke moontlike naam wat by ‘n mens opkom, gewerk. Is daar iets wat uitstaan?
ELZABÉ: Daar’s ‘n paar goed wat uitstaan en dis weird dat ek dit nou, vir die eerste keer in my lewe nou kan ek sê daai goeters het vir my uitgestaan. Ek het altyd gesê: “Nee, elke show het sy eie meriete gehad, jy kan nie hierdie een uitsonder of daai een uitsonder nie.” Maar ja. Daar’s vir my twee groot uitsonderings: Die eerste een is die show wat Nataniël vir my geskryf het, nie wat ek en Nataniël saam gedoen het nie, maar wat Nataniël vir my geskryf het – In Glass. Daai show het vir my op ‘n plek geraak wat rerig saak gemaak het. Dis vir my ‘n geweldige hoogtepunt gewees. En die ander groot hoogtepunt, jy weet, mens word vreeslik baie gevra: “Wat is die ultimate rol wat jy wil speel?” En ek kon dit nooit antwoord nie want ek wou net doodeenvoudig op die verhoog gewees het. Ek wil konsert hou – geen nie om wat ek doen nie, ek wil net konsert hou. Totdat die rol van die konferencier in Cabaret in Duitsland vir my aangebied is. Toe besef ek, maar dit is die rol wat ek nog altyd, dit is die ultimate vir my gewees. En ek, dit was vir my die ultimate. My hart was gebroke gewees toe hulle dit nou twee jaar gelede in Suid-Afrika gedoen het en Charl Johann Lingenfelder, liefie, wat ek met my hele hart en siel voor lief is, en daar was seker nie, daar was nie ‘n beter keuse as Charl Johann om die konferencier te gewees het nie. (Sug)
RUDA: Jy was jaloers.
ELZABÉ: Ek was jaloers. Verskriklik. Daai was, dit was vir my die ultimate rol gewees. So daai is twee verskriklike groot hoogtepunte gewees. En dan jy weet, Evita ook in Duitsland. Maar dit was oor heeltemal ander redes. Dit was nie omdat ‘n rol was wat ek wou gespeel het nie, maar dit het my net weer in ‘n ander dimensie ingevat.
RUDA: Langs die pad het alkohol jou baas geword. Jy’t eenkeer vir my vertel dat dit jou vriend André Swartz was wat jou gemaak fokus het daarop en iets daaraan doen.
ELZABÉ: Ja, André het ‘n jaar voordat ek opgehou het, by KKNK, het hy vir my gesê: “Zietsie, hierdie is ‘n probleem.” En ek het my daaraan afgevee en doodeenvoudig aangegaan.
RUDA: En die volgende glas wyn geskink?
ELZABÉ: Die volgende glas wyn geskink en toe ‘n jaar later is ek besig om herbouings aan my huis te doen en ek gaan bly toe by André. En André het nie ‘n woord gese nie, hy het my net gelos. Maar ek het toe bewus geword van hoe ek lyk, deur sy oë. En dit was die draaipunt vir my gewees.
RUDA: Wat het jy gesien, wat was daai prentjie?
ELZABÉ: Ek het nie van daai prentjie gehou nie. Dit was nie ‘n mooi prentjie gewees nie. Want jy weet die feit dat ek nog altyd alleen gebly het, het dit vir my baie maklik gemaak om hand uit te ruk met drank, want niemand het dit gesien nie. Want ek het dit gedoen waar niemand dit gesien het nie. Toe bly ek by André, en toe sien hy dit. En dit was nie vir my mooi gewees nie.
RUDA: Hoe het jy daaruit gekom?
ELZABÉ: Ek het geweet ek moet ophou, maar dis die vreesanjaendste, verskriklikste ding om te dink jy gaan vir die res van jou lewe sonder alkohol oor die weg moet kom. Dis verskriklik. Die gedagte net daaraan. Ek kan nou onthou hoe ek in koue sweet in uitgeslaan het as ek gedink het ek mag nie, ek kan nie. Ja. En toe het ek een oggend wakker gewrod en gesê as ek dit nie vandag doen nie, gaan dit nooit gebeur nie. En as ek dit nie vandag doen nie, gaan dit my dood beteken. En toe het ek dit gedoen. En André was ‘n geweldige ondersteuning gewees, dwarsdeur dit alles. Theresa du Preez wat op daardie stadium my besigheidsvennoot was en ook my bestuurder was, so daar was ‘n hele paar mense wat my ongelooflik ondersteun het want ek toe besluit om nie die roete te gaan van AA nie, want dit, weereens my persoonlikheid en AA wil nie lekker met mekaar ooreenkom nie. En dis 13 jaar terug. Dis nou vir my moeilik om te onthou presies hoe moeilik dit was. Iemand het nou ‘n paar dae gelede vir my gevra hoe doen ‘n mens dit, hoe doen ‘n mens dit? En die enigste antwoord wat ek kon gegee het was dit word makliker. Dit word rêrig makliker. Nou bly ek hier met ‘n ten volle toegerusde kroeg en alkohol maak my nie meer bang nie. Maar ek weet hy’s my baas. Nog steeds. So, ek gaan nie daai pad gaan nie. Ek wil nie weer deur daai pad gaan nie. Hulle sê altyd jy mag nooit sê jy gaan nooit weer drink nie. Maar ek kan dit met totale oortuiging se: Ek gaan nooit weer drink nie.
RUDA: Harde, baie besliste keuses. Op “Ruda gesels” is ons gas vanaand Elzabé Zietsman, kunstenaar, kok en pleegma. Ons is nou terug.
Ruda: Welkom terug by Ruda gesels. Alkohol het vir Elzabé Zietsman amper ondergekry, maar uiteindelik het sy die stryd gewen.
RUDA: Was dit in dieselfde tyd wat jy in die moeilikheid geraak het finansieël?
ELZABÉ: Die finansiële kant, die groot finansiële problem het net daarna gekom so dit kan ek met ’n skoon hart sê – die alkohol het niks met die finansiële problem te doen gehad nie. Die finansiële problem het doodeenvoudig daaroor gegaan dat ek nie ‘n besigheidsbrein het nie.
RUDA: En jy’t net te veel aangepak.
ELZABÉ: Ja en ek het nie boekgehou en gekyk wat gebeur nie. Want ek is prakties. Ek werk met my hande. Ek kan verskriklik baie met my hande doen en ek kan verskriklik baie met hierdie lyf uitrig maar om te gaan sit en boeke te doen en voor ‘n computer en syfers … oeee nee! So die hele finansiële krisis was total en al daaraan verbonde dat ek nie aandag aan dit gegee het nie.
RUDA: En toe het jy jou hare afgeskeer om jouself te herinner dat dit moenie weer gebeur nie?
ELZABÉ: Ja
RUDA: Hoekom was dit ‘n sort van ‘n simbool?
ELZABÉ: Ek weet nie, ek kan nie vir jou sê hoekom nie. Ek het die dag wat ek in hierdie huis ingetrek het, het ek in een van die badkamers gaan staan, ek het my hare afgeskeer ek het vir myself in die spieël gekyk en gesê elke keer as jy daai kaalkop sien, moet jy onthou hoe hard jy nou moet werk om uit hierdie storie uit te kom. En ek dink ek was vir 4 jaar lank kaalkop gewees en op die ou einde was dit nie omdat my hele finansiële toestand skielik fantasies was nie, maar ek het op die ou einde my hare weer laat beginne groei omdat Trudie Taljaard dood is aan kanker en daai hele ding wat ek daar deurgegaan het met die kaalkoppe en baie mense het gedink ek het kanker. Omdat ek kaalkop was. So daai was toe nou weer, ‘n ander, oukei, nou gaan ons weer in daai rigting in.
RUDA: Jy was besig om ‘n rol te speel, was dit in Egoli, en jy, jou karakter is aan kanker dood of …?
ELZABÉ: Dit was in Binnelanders. En al daai goed het presies dieselfde tyd gebeur. Trudie het doodgegaan, ek het daai karakter gespeel – ek dink Trudie is die Saterdag dood en ek het die Maandag my doodstonele opgeneem in Binnelanders. En daai Maandag oggend of watter dag dit ookal was, wat ek in die kleedkamer by Binnelanders my kop moes skeer vir die laaste toneel … Dit was die laaste keer. Nie weer nie.
RUDA: Trudie se heengaan was vir jou baie erg. Jy was baie na aan haar?
ELZABÉ: Trudie was vir my verskriklik naby my hart. En dis nou nie Trudie wat my hartseer maak nie … Laas jaar was swaar. My ma is dood, my hond is dood, my alles is dood en nou, elke keer wat ek iemand na aan my verloor, is daar nie rêrig tyd om oor hulle te rou nie.
En met Trudie het dit gebeur, met my Pa het dit gebeur, laas jaar met my Ma het dit gebeur … met Ntsu, die blerrie Bull Terrier, het dit ook gebeur. So nou om net aan juffrou te dink, bring nou net sommer alles terug.
RUDA: Maar weet jy, dis miskien iets wat die publiek, jou gehoor, miskien nie altyd verstaan nie. Is dat daar ‘n soort van netwerk onder die performers van hoe julle mekaar ondersteun, hoe julle vir mekaar materiaal skep, hoe julle mekaar nie dra nie, maar beïnvloed
ELZABÉ: O ja, definitief. Daar’s … natuurlik is daar uitsonderings, mense wat heeltemal op hulle eie kan aangaan en wat heeltemal sonder ander mense kan, maar vir myself, absoluut. Ek het ‘n totale netwerk van mense wat ek weet – Janine Neethling … ek kan my my lewe nie voorstel sonder dat Janine in my lewe was nie. Rocco de Villiers, Kevin Feather wat die eerste een was wat vir my klavier gespeel het, veral vir iemand soos ek wat verskriklik baie alleen gewerk het ook, ek het saam met vreeslik baie mense gewerk, maar dan het ek ook ongelooflik baie alleen gewerk. En baie keer is van my shows geskep sonder ‘n regisseur. Dan het ek al daai buite oë nodig gehad. Om vir my te sê, nee maar jy’s nou op die verkeerde pad of jy’s op die regte pad.
RUDA: Vertel my van die begin van Zieties? 2003. Hoe het dit gebeur?
ELZABÉ: Kyk in die tagtigs en die negentigs, toe, dit is vir my so mooi woord – die Duitsers het so mooi woord daarvoor – dit wat ek in spesialiseer, en wat baie van ons in die tagtigs en die negentigs gedoen het – kleinkunst.
RUDA: Klein kuns?
ELZABÉ: Klein kuns. Ons het in verskriklik baie restaurante opgetree, elke derde restaurant was ‘n teater restaurant maar niemand van hulle het kleedkamers gehad nie. So ons het in die kombuise aangetrek. En ek weet nie of dit een van die plekke is waar die saadjie by my grondgevat het nie, maar kook het al hoe belangriker en belangriker in my lewe geword en dit was ‘n ding in my vriendekring gewees van: “What are we doing on Sunday, ah we’re having lunch at Zietsies.” En dit is waar die naam ook vandaan gekom het – Zietsies. En toe het ek begin om Sondae ook te kook maar mense het betaal, dat dit nie net verniet was vir my vriende nie. En dit het gegroei tot by hierdie plek wat nou omtrent elke aand mense het wat kom eet en die gastehuis en so, so loop ‘n mens se lewe draaie
RUDA: En die kinders in jou lewe. Hoe het dit gebeur?
ELZABÉ: Sjoe. Die eet gedeelte van my besigheid word bedryf as ‘n klub. Jy moet ‘n klub lid wees om hier te kom eet. En van die begin af, het ek die klub lede geld in ‘n aparte rekening betaal met die idee dat ek dit sal dit gebruik vir een of ander liefdadigheids werk van een of ander aard. Maar ek het nooit daarby uitgekom om dit te kies nie, want dit het my toe nou gevind voor dat ek dit gaan soek.
Ek het begin om vir een kind te sorg wat hier in Brixton bly, wat musikaal geweldig talentvol was – sy oudisie by die Nasionale Skool van die Kunste deurgekom, maar sy ouers kon dit nie bekostig nie. Toe dink ek: “Ah, ja dis waarheen my geld kan heen gaan.” Toe koop ons vir hom ‘n tjello, koop vir hom ‘n saksofoon, koop vir hom trompet, betaal sy skoolgelde, betaal sy taxigeld skool toe, sy middagete geld, alles wat hy nodig gehad het vir skool, het die klub toe aan hom betaal. Toe kom een van sy maatjies na my toe en sê: “Ek het my oudisie by die skool deurgekom.” Ek het nie sy storie op daardie stadium geken nie – later uitgekom hy was ‘n AIDS wesie, hy’t by sy ouma gebly in ‘n woonstel in Hillbrow, en wat die kind net nog soveel meer spesiaal maak is hy het in 2010 sy heel eerste musiekles gehad. Musiekles! Vir die eerste keer in sy lewe het hy ‘n musiekinstrument opgetel. In 2010 – dis vyf jaar terug!
RUDA: Hoe oud was hy toe?
ELZABÉ: 15. Sjoe. Hy’s nou twintig , hy’s tweede jaar op Universiteit vir ‘n BMus-graad – hy’t sy matriek geslaag met ‘n onderskeiding vir musiek. Ja, ja… hy is my hart se punt. My Naledi-kind … Toe kom Naledi na my toe en sê hy het sy oudisie geslaag by die skool en kan ek hom help? Toe begin ek vir hom te sorg. Toe vind ek uit maar hy het ‘n jonger boetie, toe begin ek vir hom te sorg. Toe kom die oorspronklike kind, Clinton, se ma – het die Anglikaanse kerk hier in Brixton skoongemaak. Toe kom die orrelis van die Anglikaanse kerk na my toe en sê die ou pastoor van die Anglikaanse kerk het tweeling kleindogters wat ook in die skool is en oupa kan nie byhou om hulle skoolgelde te betaal nie, kan ek help met dit … Hmm, wa hê!
ELZABÉ: Toe, teen Januarie van 2013, het ek toe ses kinders in die Nasionale Skool van die Kunste waarvoor ek sorg, waarvan vier voltyds in my pleegsorg geplaas is. En toe moet ek plan maak want met die klub gelde alleen kon ek nie vir hulle sorg nie. Toe het ek met die hele proses begin, wat ook iets verskrikliks, oe … argh! Red tape! Om ‘n stigting te registreer – wat darem nou alles in plek is, maar weereens, (sug) gaan dinge dalk in ‘n ander rigting moet inslaan want fondsinsameling is ‘n voltydse werk en ek het nou al klaar vier tieners in die huis, ek het ‘n gastehuis, ek het ‘n eetkamer, ek probeer nog sing, ek probeer nog speel …
RUDA: So jy is bietjie besig?
ELZABÉ: Ek is bietjie besig. En fondsinsameling is ‘n job, waarvoor ek nie tyd het nie. So op hierdie stadium sorg ek hoofsaaklik vir die kinders uit my eie sak uit, wat nou baie swaar rak. Baie swaar, baie baie. Met ‘n kind op universiteit, drie wat hierdie jaar matriek skryf , so, uhuh! So dis swaar. Nou het ek weer my oë toegeknyp en gespring, en ‘n bestuurder vir die gastehuis aangestel. Ons sal maar sien. Ons sal haar met pap en klein voëltjies betaal. Ons sal maar sien. Maar die foundation moet nou verder groei en nie noodwendig met kinders wat in my pleegsorg is nie, maar kinders wat ek daar – voor – kan sorg.
RUDA: Wat noem jy jou foundation?
ELZABÉ: Die Doilie Foundation. Want daar is ‘n doilie in ons almal se geskiedenis. Ek gee nie om wie jy of wat jy is of hoe ghrend jy dink jy is nie, ek sal ‘n doilie êrens in jou agtergrond gaan kry. Of dit nou op jou ouma se melkbeker in die spens was, of op jou ouma se kalbas, tradisionele bier of maak nie saak – ek sal ’n doilie kry in jou agtergrond. So dis iets wat ons almal in Suid-Afrika deel.
RUDA: Dit was Elzabé Zietsman, ons eerste gas in “Ruda gesels”. ‘n Mens kan haar net voorspoed toewens en haar ondersteun. Die onderhoud is ook beskikbaar as ‘n potgooi op www.rsg.co.za.
Volgende week is Jonathan Jansen aan die beurt, oor vrede maak en drome wat waar word … onder andere! Kom sluit aan, dis te lekker om nie te deel nie. Baie dankie aan BrightRock wat dit moontlik maak. Tot dan, mooi loop!
Leave a Reply