Ruda gesels met Evita Bezuidenhout – die Bekendste Wit Vrou in Suid-Afrika

Evita Bezuidenhout is vir meer as 40 jaar reeds ‘n Suid-Afrikaanse instelling — ambassadrise, onderhandelaar, gasvrou van formaat.

Sy sê met reg sy is die beroemdste wit vrou in Suid-Afrika. Ruda het by haar op Evita se Perron op Darling gaan kuier – kort na haar 80ste verjaarsdag. Luister na of lees die gesprek hieronder.

Transkripsie:

R: So, moet ek sê ‘Tannie’?

E: My liewe aarde. Tannie is daar,Mev. Bezuidenhout is ook daar. Maar ek is hier as ‘Evita’.

R: Baie dankie.

E: As ek Ruda kan sê?

R: Sekerlik

E: Dankie

R: Jou eerste openbare vertoning was in die 70s. Hoe onthou jy daai tyd?

E: Ja, dit was my verskyning as Evita Bezuidenhout nê. Maar voorheen was ek Evangelie Poggenpoel. Toe gaan ek van Bethlehem as ‘n klein kindertjie was ek in Bethlehem en toe is ek na Johannesburg in Killarney Films. En toe het ek drie films gemaak – ‘Boggel en die Akkedis’, ‘Meisie van my drome’ en ‘Duiwelsvallei’. En my naam was toe nie Evangelie Poggenpoel nie want Poggenpoel is te lank om op die biljet te sit. Hulle het altyd die L weg gelos en mense het dit anders uitgespreek. En toe was my speelnaam Eva Pohl. Tannie Neethling-Pohl het my geïnspireer met die naam. En toe trou ek natuurlik met Oom Hasie. En, ja, dit was in die sewentiger jare…was ek in die parlement natuurlik. Altyd drie stappies agter Pappa. En ek dink ek was een keer op die voorblad van Die Burger. Maar net een keer.

R: En toe word jy ambasadeur in Babetikosweti. Hoe het dit jou lewe verander?

E: My skat! O, jy spring nou ‘n groot golf daar want dit was deur die jare in die parlement het ek natuurlik vriende geword met baie ander vrouens. Mev. Koornhof…uhm…uhm…al die Mev. Bothas. Daar was vreeslik baie. Mev. Bothalezi ook. Uhm…en natuurlik ek het ‘n bietjie meer gemaklik gevoel. En toe kom ons in die era van PW Botha. Natuurlik 1978. Dit was net anders as John Vorster se tyd want ek was bang vir John Vorster. Ek dink ek hy was ‘n bietjie bang vir my ook. Ek het later vir hom goed leer ken. Hy was nogal oulik en vriendelik en…en…en jammerlik. Maar…uhm…Piet Koornhof en ou PikBotha het eendag saam gesit by my op my stoep op ons plaas ‘Liefdesbodem’ in Laagerfontein. En Piet het so rondgekyk en gesê: “Koek, maar dis ‘n dorre area hierdie, Evita. Wat groei hier?” Ek sê: “Ek weet nie. Ek’s nie die boer nie.” Toe sê Koornhof: “Dis ‘n tuisland! Kom ons maak dit ‘n tuisland.” En dit was sy idee. En toe sê ek wel as julle my plaas in ‘n tuisland verander dan wil ek die ambasadrise wees.  Dit het ‘n klomp nonsens gekos maar uiteindelik is ek toe bekend as die Suid-Afrikaanse Ambasadeur in die tuisland van Babetikosweti.

R: Hoe het jy op daai stadium Suid-Afrika bevorder? Wat kon jy gebruik om Suid-Afrika bekend te stel. Niemand het van ons gehou nie. Was daar iets wat jy kon uitsoek, wat jy kon uitlig?

E: Bobotie. Weet jy my skat jy’s absoluut reg, die mense het ons gehaat. Almal het geskree. Daar was t-hempies ‘Down with Apartheid’ – tot die vierjarige kinders het daai hempies gedra…dit het geklink soos een van die Guptavliegtuie… My skat dit was ‘n naarheid, daar was geen lig aan die einde van die tonnel nie. Ek het nie geweet die tonnel het op ‘n draai geloop nie, nê? My bobotie was eintlik die ding wat baie deure oop gemaak het. Want jy weet as jy mense om ‘n tafel sit… As hulle vriende is dan maak hulle goeie vriende…beter vriende. Maar as vyande om die tafel sit wat kan hulle doen? Hulle kan nie baklei nie – te veel messe en vurke nê? Mense het begin praat. En jy weet as mense begin praat met mekaar dan besef jy al die prejudice is iets wat hulle gelees of gehoor het. Hulle moet eintlik hulle eie woorde vind. En mense het besef ons het onsself in ‘n hoekie in geverf. Uhm…al wat ek kon doen as ambasadeur is om vir mense te sê, kyk ons probeer iets doen ons wil hierdie mense onafhanklikheid gee en apartheid is verkeerd want ons doen dit nie reg nie. En die Amerikaners het gesê natuurlik – oe, julle het begin met die ding. Hulle het ook begin met die ding. Die Engelse het begin met die ding. En ek is so bly ons is nie meer daar nie, Ruda, want jy weet dit was ‘n naarheid om te probeer iets goeds vind in daai sisteem. Daar was niks goeds nie maar die mense het goed gebly. Daar was goeie mense. Witmense, natuurlik swartmense, bruinmense. En natuurlik Babetikosweti was interessant want mense het natuurlik daar gekom en gesien dat dinge werk. Behalwe die hospitaal het nie gewerk nie. Jy sien Piet Koornhof het my R200 miljoen gestuur vir die hospitaal en ek dog dit was ‘n verjaardagpresent en toe… Ag nou-ja wat kan ‘n mens sê? Die dinge. Dit was nie Nkandla nie maar dit was ook ‘n drama.

R: Maar jy het ‘n baie spesiale verhouding gehad met Pik?

E: Die pouse is natuurlik interessant want ek’t nou ‘n bietjie gepouse voor ek gepraat het want mense gaan nou sê O Evita gaan nou lieg want sy wil nie die waarheid sê nie. Ek was so lief vir Pik Botha ek kan nie vir jou…ek…regtig. ‘n Vriend, ja. ‘n Kollega, natuurlik. Ek was getroud. Hy was getroud. My liewe aarde! Nie almal vergeet so ‘n realiteit in jou lewe nie. Maar Pik het vir my…die…die…ag, ek dink amper die vertroue, die selfvertroue, gegee om op my, eintlik op my eie voete te staan. Hy het altyd vir my gesê, wat dink jy? Toe sê ek maar my maggies ek weet nie. Toe sê hy maar my maggies, Evita, maar jy moet weet! Jy’s ‘n vrou, jy’s ma! Jy kan in die aand as die ligte uit is en dis donker en dis sag en dis oulik kan jy altyd iets fluister in Oom Hasie se oor en die wêreld verander. Toe besef ek hy is reg. Dis die vrouens agter die mans wat daai mans groot maak. Ek het groot respek vir tannie Elize Botha, vir tannie Tienie Vorster, tot vir klein ou Betsie Verwoerd. En tot Winnie Mandela vir daai 10 minute toe sy nog met Nelson Mandela was. Hulle…ons het ons mans relatief ‘onmal’ gehou, nê. Anderste sou hulle daai rooi knoppie gedruk het. En ja, Pik Botha is tot vandag toe ‘n goeie vriend. Ons bel mekaar elke nou en dan. Ek dink hy voel ‘n bietjie vergete. Ek het vir hom gesê maar Pik niemand vergeet jou nie. Die mense onthou jou net nie. Dis al. Jy weet? Jy moet jouself nie vergeet nie.

R: Jy voel baie sterk dat vriendskap die basis is van…van eintlik alles wat mens doen en wat jy regkry, hmm?

E: Ja! Ek kan nou daai ding antwoord wat jy gevra het. Vriendskap. Ek moes dit self uitvind. Jy weet iemand het dit gesê… was dit Oprah Winfrey wat vir my gesê het… The disease to please nê? Sy praat altyd van die disease to please. Ek dink toe maggies, hoekom sê ons dit nie in Afrikaans nie want dis so tipies Afrikaans. Wat dink die mense, wat dink die oom, wat dink die dominees, wat dink die politikus?

R: Die mense gaan nie van my hou nie.

E: Die mense gaan nie van my hou nie. My magtag ek is nou…ek is oud genoeg om te sê my oudisie is verby. Ek hoef niks te bewys nie. Ek moet net wys. En jy weet die mense wat die meeste vir my beteken behalwe my familie is my vriende. En ek sê hulle is apart nê? Jy kan nie jou familie kies nie maar jy kan jou vriende kies. En uh… ag weet jy ek sien die ander dag vir ou Adriaan Vlok – onthou vir Adriaan Vlok die ou Minister van Polisie – besig om ‘n klomp vullis in die strate op te tel en in ‘n swart sakkie te sit. En ek sê: “wat doen jy?” Hy sê: “Evita, I’m leading by example. Ek het baie slegte dinge gedoen in die ou dae. Ek doen beter dinge nou.” Ek het hom so bewonder. En ja, my vrienskap is belangrik en my vriendskap met baie mense is dinge wat vir my elke oggend laat uitsien na die dag.

R: Hoe het jy die oorgang na die nuwe Suid-Afrika beleef? Komende uit Babetikosweti?

E: Jy weet, ons het almal gehoop iets gaan verander. Ons het geweet alles was teen die wet. Jy kan natuurlik vriende gehad het wat swart was maar hulle was in die kombuis en jy was in die eetkamer. Hulle sit nie saam in die eetkamer nie. Hulle kan nie saam met jou drink nie. Hemel verhoed jy mag nie saam met hulle slaap nie. En die hemel het dit nie verhoed nie. My dogter, Billie-Jean, het ‘n verhouding gehad met Leroy Maquluwele. Kwit, daar gaan my tand! Jy weet hierdie Xhosa-klieks gaan my nog haasbek maak! Leroy Maquluwele. Dit was teen die wet. Die polisie was in ons huis. Daar was sprake van tronk. Daar was… en toe’t sy ‘n bababtjie gehad. ‘n Klein goggatjie.In Babeptikosweti. Magnus Malan het ‘n Kasper gestuur en ons het die babatjie agter in die Kasper so onder ‘n kombers in gesit en dit is toe weg na Swaziland toe. En ek het eendag net vir myself gesê want wie kan jy mee praat want dit was so gevaarlik in daai dae. En ek het in die spieël gaan kyk en sê: “Evita Evangelie Poggenpoel, wat gaan jy doen oor die toekoms van jou lewe?” En toe het ek besluit ek gaan die Nasionale Party en die ANC saambring. Ek het dit gedoen in my tuislandambassade. Want die grens tussen Babetikosweti en Suid-Afrika het dwarsdeur die eetkamer gegaan. Ek het twee lande in een eetkamer gehad. Die ANC en die Nasionale Pary, saam! Phew! Dis ‘n lang storie…

R: … oor bobotie..

E: Dis wat ek gebring het. My bobotie. Ek het die bobotie bedien en ek het gestaan en gewag vir die wonderwerk en niks het gebeur nie, Ruda. Niks. Hulle het mekaar so gehaat. Ek het gedink ek het ‘n verskriklike fout gemaak. Want ons was in ‘n burgeroorlog. En skielik ek sien toe vir Roelfie Meyer, hy lyk benoud. Ek sê vir hom: “Maak ‘n grappie.” Roelfie met ‘n grappie. Hy vertel toe hierdie ou Afrikaanse Van-Der-Merwe-grap. Die hele ANC het begin huil. Want hulle het die taal so gemis. Hulle het gesê “We’ve been in exile so long. Please, speak the language.” En ons het gesê: “Ja, voetsek. Voetsek! Voetsek!” Pik het toe al die bottels ‘Allesverloren’ oop gemaak en die rooiwyn het gevloei soos Bloedrivier. En, Ruda, ons het mekaar se liedjies begin sing. Die ANC het ons liedjies gesing. Ons het hulle liedjies gesing. Wel die eerste reël van N’kosi Sikeleli wat ons geken het. En ek het besef almal het gewen. Ons was in ‘n struggle, met ander woorde ons was amateurs. Dankie Vader! Professionele mense struggle nie, they battle and they never solve it. So, toe dit skielik gebeur het dat Nelson Mandela uit die donkerte gekom het en vir ons lig gegee het en ESKOM het opgegee het ek besef; hier kom dit. Kom ons doen dit.

R: Jou verhouding met hom? Mnr. Mandela?

E: Jy weet die eerste oproep wat hy gemaak het as president was…was vir my…na my: “Mrs. Bezuidenhout this is Nelson Mandela. I’m in the president’s residence. There’s a room called kitchen. I don’t know what to do?” En toe gaan ek in sy kombuis en toe kook ek vir hom. En dit was so maklik want hy was vir 27 jaar al wat hy gehad het was brood en water. Twee keer ‘n dag. Toe sit ek lekker konfyt op die brood en suiker in die water en hy was so dankbaar. So dierbaar. Ek het hom so geniet. Ag, hy was so…[sug]…hy was so normaal. Hy was so ‘n belangrike onge… Wie kan hom beskryf in 600 woorde en skielik was hy daar. Hy’t vir my gesê: “Evita, you won’t remember but I was still in jail and I was being taken to…”, ag  man dit was…ek dink dit was…was dit Yzerfontein of was dit…’n bietjie verder op die kus. Hulle het hom gevat op ‘n Sondag dat hy kon loop op die strand. En hulle het gestop in Seepunt, ek onthou dit ook, ek moet sê ek onthou dit. En ek het gesien die polisieman…ek ken die polisieman van Pollsmoor. En ek wou iets vir hom sê en hy gaan in en ek kyk en daar in die kar sit… Ek dog my magtag ek dink dis Nelson Mandela. Want ek het nie gweet hoe hy lyk nie want hy was verban. Maar hy sit agter in die kar. En daar kom die polisie met twee roomyse en hy gee vir hom een roomys. En ek besef  hy het vir Madiba ‘n roomys gekoop en dit is in Madiba se boek. Maar nie my naam nie want hy’t nie my naam toe geken nie. Maar hy’t gesê hy onthou die vrou, die Afrikaanse vrou, wat so vir hom gekyk het en gewaai het..wel ek weet nie of ek gewaai het nie…ek was baie bang. Dankie Vader hy het uit die tronk gekom met ‘n glimlag. Kwit, Ruda, waar sou ons wees as dit nie gebeur het nie! Ons is so gelukkig. Ek word so de hel in vir mense met die negatief, altyd die negatief. Dis te maklik mense. Demokrasie gaan altyd moeilik wees maar werk ‘n bietjie daaraan.

R: Jy was die seremoniemeesteres by FW de Klerk se 70ste.

E: Sy 70ste! My maggies. Hy het reeds vir my gevra om volgende jaar by sy 80ste ene te wees. O kwit, ek het tien jaar ouer geword op daai aand. Dit was wonderlik in die Mount Nelson Hotel. En daar was Nelson Mandela en daar was Helen Suzman.  Zanele Mbeki. Ek het nog vir haar gevra van die verhoog ek het gesê ‘OurFirst Lady…’ want Madiba het vir Zelda na my gestuur en Zelda het gesê dat Madiba is baie ontsteld want niemand het vir haar spesifiek vir haar verwelkom nie. Maar ek het, sy wou nie enige bohaai opmaak nie… Sy was ‘n wonderlike, baie interessante vrou. Ek verstaan nie hoe sy met hom inpas nie, maar Thabo Mbeki was ‘n ander storie. En toe het ek van die verhoog gesê “Our First Lady, Mrs. Mbeki, how nice to see you. Where is your husband, the President?” en sy’t gesê ‘I don’t know’. Ons het so gelag. Maar dit was ‘n wonderlike aand. En ‘n wonderlike samekoms met mense wat eintlik nooit eintlik om die tafel sou sit nie.

R: Dit klink na ‘n soort-van amper simbole…simboliese voorstelling van die nuwe Suid-Afrika.

E: Ja! Ek dink jy kan dit sê.

R: Met al die spannings met al die onderstrome…

E: Met al die spanne was daar. Die ANC-span. En natuurlik die IFP, the IFP-span, daar was Buthelezi  die een-in-‘n-span. En natuurlik al die ou broederbonders wat lank al in die tronk moes gesit het. Maar hulle was almal daar. Ons het dit regtig geniet. En FW, ja, ek wou dit goed maak vir hom want, jy weet, hy’t daai sleutel gehad vir die deur. Mense vergeet so vinnig. Hy het dit oopgemaak. Niemand anders kon dit oopmaak nie. En hy het dit oopgemaak. So ek sê altyd dankie FW daarvoor.

R: Hoekom Darling?

E: Wel die naam is wonderlik. Die naam is natuurlik Engels vir Skattie. My skat, ek weet nie. My ma is natuurlik hier in die ouetehuis. My ma, Ossewania Kakebenia Poggenpoel. En toe sy nou hier uitkom want dit was moeilik…O kwit, my ma is so moeilik ons bid maar vir ‘n vinnige einde. Jy weet sy maak ‘n braaivleis elke Vrydagmiddag. Sy het al drie ouetehuisse afgebrand! Maar hierdie mense weet en hulle het nou asbes ingesit daar op die vloer en so. Mag ons nog praat van asbes? En ons betaal hulle in Dollars, so dis Amerikaanse Dollars, so hulle gee nie om as sy bietjie daar moles maak nie. Maar my ma is…ja…Mamma is hierso en so elke naweek kom ek hier. En hierdie oulike plekkie is ingerig as Evita se Peron. Is dit nie oulik nie? So is ‘n oulike naam. Dis jong mense wat hier werk. Mense uit die gemeenskap. My Darling Trust is hier gestig. En ons het die wonderlikste ding, die belangrikste, die juweel in my kroon, Ruda, is ons Early Childhood Development Centre. Ons het hierdie jaar 80 kindertjies tussen die ouderdom van drie en vyf. En jy weet ek moet versigtig wees as ek gaan kuier want almal sê ‘Oe! Dis tannie Evita!’ Ek hou hulle dop en ek kan sien leierskap gebeur voor my oë. Dis net weer om te onderstreep dat ‘opvoeding’, education, is die belangrikste woord in ons woordeskat op die oomblik.

R: Vertel my van jou eie kinders en kleinkinders en hoe hulle jou lewe verander het?

E: Kinders verander jou lewe! Jy lyk nie dieselfde na jou kinders nie, jy weet. My twee kinders, my twee tweelingseuns, De Kock en Izaan, en my dogter Billie-Jean…[sug]… Ja ons het sulke drome gehad, ek en Hasie, oor ons kinders. Nie een van daai drome het waar geword nie. Miskien dank die Vader want dan sou die kinders…uhm…bitter gewees het, ek dink, vandag. Maar De Kock is nou natuurlik saam met ‘n lewensvriend van hom. Hulle het ontmoet by die Universiteit van Pretoria in die rugbyspan. Mof De Bruin. Hulle het nou ‘n woonstelletjie saam, nogsteeds in Johannesburg. En hulle het ‘n klein seuntjie aangeneem. ‘n Klein seuntjie van Polokwane, sy naam is Sipho Bezuidenhout. Billie-Jean is natuurlik getroud met Leroy Maqululewe. Hulle het die wonderlikste drie klein kinders. My born-free-kleinkinders. Oe! Soos ek vir almal sê: “They are not black. They are not white. They are Barack Obama beige.” So ek het kinders, kleinkinders wat nie wit is nie. Wat is wit? Ek is nou siek en sat vir wit.

R: Ons is eintlik pienk.

E: O nee, my liewe aarde. Ek is ‘n Suid-Afrikaner wat nie swart is nie. Dis al. Of bruin. Maar pienk? Ja-nee, ek’s nie pienk nie. Ek’s nie ‘n kommunis nie. Ek kyk na die kommuniste, ou Gwede Mantashe, hy is ook nie pienk nie – hy’s net te vet. Dis hoekom ek kos baie versigtig… Ek sit hulle almal op ‘n dieet in Luthuli-huis. Maar… so, maar my familie is nog daar. En..uh…ek dink hulle doen goed. Ek meng nie in nie… Jy kan nie as jou kinders nou nie meer kinders is nie. Die kleinkinders is baie dierbaar. Hulle het vir my gesê: “Gogo, what are you going to do to protect democracy so that one day when we need to vote freely and fairly it would be in full working condition?” Waar is ek nou? Ek is in die ANC. Want dis die enigste plek waar dinge kan verander. En ek is baie beïndruk deur die strukture daar. En almal het gedink en almal het vir my gesê en ek het ook gesê “Oe! Almal is so korrrup. En almal steel and almal is so en dit…” Ja-ja elke dag ses of sewe mense op die voorblad van die Citizen. Maar, Ruda, daar is derduisende lede van die ANC wat hard werk om Suid-Afrika op ‘n balans te hou. Anderste sou ons vandag Libië of Sirië gewees het. Ons is nie. Ek is optimisties oor ons demokrasie. Dit gaan nooit maklik wees nie. Maar ons moet net hard werk. Hard werk en dit geniet en glimlag.

R: En die groot verjaardag? Hoe voel jy daaroor?

E: Ek gee nie om nie. Jy weet hulle sê tannie Evita is 80 jaar oud. Ag my gits dis ‘n nommer. En soos iemand vir my gesê het “Eighty is the new sixty”. Ek sê…uhm…miskien 65. Jy weet ek probeer nie daaraan dink nie want die oomblik as jy aan ouderdom dink dan begin jy oud lyk, nê? Ek moet net sê dat elke keer as ek in my kar klim voel ek 50 en as ek uitklim voel ek ‘n 100. Ek dink die kar krimp. So dis moeilik om somtyds uit ‘n kar te klim. En ek wil nie hardloop of op ‘n trap hardloop of so nie. En ons het vroeër ‘n bietjie gepraat oor die ding van ouderdom. Jy’t gesê iemand het vir jou gesê jy weet as jy opstaan tel tot 10 voor jy begin beweeg. En dit is so waar. So ons moet ons bietjie…kalmer gedra…natuurlik. Daar’s mos nooit haas nie. En dit gaan alles oor gesondheid. As jy tien jaar oud is en jy’s siek, is jy 100 jaar oud. Dit gaan oor gesondheid, dit gaan oor dieet. Dit gaan oor woede. En dit gaan oor kwaad wees vir dinge wat gebeur het. En dit help nie. Dis verby. Die mense wat alles blameer op apartheid.  Ek sê los dit nou uit. Moenie so nostalgies wees vir iets wat julle kan blameer nie. Jy weet om, soos ek gesê het vir Desmond Tutu die ander dag: “To blame everything on apartheid in the 21st year of a democracy is like in the 1960s blaming Adolf Hitler for the mini-skirt”. Dis mos nonsens. So ek wil nie kwaad wees virdie koerante nie, want die opskrifte is negatief en natuurlik ‘n mens dink altyd aan die negatief en ek… en ek dink dit help. Jy weet elke oggend probeer ek voor die spieël staan en kyk na my en dis my beste vriend. En ek sê vir my ‘Evita, not bad for 65!’

R: En planne vorentoe?

E: Wel, sixty six! Vorentoe beteken my kleinkinders. Die toekoms van al ons jongmense. Ek gaan baie kuier by skole. Ek praat met jongmense. Mense wat bang is vir alles. Want ons sê vir hulle is julle bang? Niemand sê vir hulle is julle opgewonde nie. Hoekom sê ons dit nie? Mense wat nog steeds vir hul kinders sê ‘Go to university to get a degree to fall back on.’ Dis negatief. Jy sê vir iemand wat is jou droom? Wat kan jy doen? En ek sê vir die jongmense die selfsugtigste ding wat jy kan doen in jou lewe is om te stem. Want dit gaan oor jou lewe. Dit gaan nie oor hulle lewe nie. Dit gaan oor wie in daai politike chorus line gaan jou droom laat waar word. Met ander woorde, doen jou huiswerk. Die 15-jarige kind moet besef hoe belangrik sy opinie is. Want in vier jaar se tyd gaan daai kind stem vir die toekoms van sy wêreld. Ons doen dit nie. So dit is iets wat ek probeer doen. En mense neem my kwalik.. Hulle sê die kinders is te jonk, is te jonk. Ja-ja? Hulle is nooit te jonk nie. Kyk na die TV, alles gebeur in die palm van jou hand. En geweldige gruwelike dinge gebeur in die palm van ons kinders se hande. So ons moet praat met hulle. En ek wil net hê my jongmense moet met my praat sodat hulle kan hoor wat hulle probleme is. Lat hulle dit uitpraat anders praat hulle met iemand in die straat en dan verloor ons ons kinders. En dis die toekoms. My kinders, jou kinders, ons kinders.

R: Baie voorspoed daarmee.

E: Dankie.


Comments

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *