Dink terug aan September 2009 — dis in die middel van die finansiële krisis. Niemand het geld nie. Die grondverskuiwing in drukmedia, wat nou nog nie uitgespeel is nie, het begin. Wêreldwyd vou tydskrifte en koerante een na die ander.
In daardie tyd begin Kay Karriem en haar span ‘n tydskrif vir Afrikaanse bruin vroue. Binne vyf jaar is hy winsgewend. Vandag verkoop Kuier tydskrif elke twee weke amper 100 000 kopieë, want, sê Kay, dis die eerste keer dat hierdie vroue voel hulle is die hoofattraksie, en nie net ‘n bysaak nie. Ons het in hulle redaksiekantoor in Kaapstad gekuier. Luister na of lees die gesprek hieronder.
Transkripsie
R: Jy het by jou Ouma en Oupa grootgeword en hulle het jou geleer om te lees en hulle het gesorg dat jy universiteit toe gaan uiteindelik. Vertel my van hulle?
K: Dis vir my baie moeilik om oor hulle te praat want ek meen dis die mense wat die grootste invloed seker gehad het op wie ek vandag is en, jy weet, hulle sê mos nature versus nurture en ek is alles nurture. Alles. Wie ek is, wat ek glo, is alles van daai twee mense. En soos ek sê my ouma het ander mense se huise skoon gemaak. My oupa het by die destydse Spoorweg gewerk. Nie een van hulle twee het skool klaar gemaak nie. Maar dis deur hulle, omdat hulle toe besef het wat is die belangrikheid van ʼn opvoeding, dat hulle gesorg het dat ek dit weet. Ek het altyd hard studeer, ek weet ek was een van daai … een van die voorbeeldigste kinders wat geleerdheid betref. Maar ek was baie stout, was baie stout in die skool, ek het altyd gepraat. Dis hoekom mense gedink het ek gaan ʼn, jy weet, ʼn lawyer word want ek het altyd gepraat, ek het altyd gestry. Maar die belangrikheid van jy moet skool klaar maak. Maak nie saak wat in jou lewe aangaan nie, wat in die politiek aangaan nie, wat in die straat aangaan nie. Maar jou opvoeding is die belangrikste ding wat jy ooit kan het, want niemand kan dit van jou weg vat nie. En dit is hoe ek heeltemal klaar gemaak het met skool, gesorg het dat ek in ʼn universiteit kom. My oupa het dit gehaat maar ek was oppad na die bote toe. Ek het daai brochures gehad om ʼn kelnerin of iets te gaan wees met die plesierbote want ek wou altyd reis. En ek het seker gemaak my bets is … ek gaan net…ek het net vir een beurs aansoek gedoen – en dit was die Media24-beurs – so as ek dit nie kry nie dan gaan ek nie swot nie. En toe kry ek die beurs en toe studeer ek Afrikaans en Nederlands … uhm… En het ook net by een universiteit aansoek gedoen just … want as ek dit nie kry nie, dan gaan ek nie studeer nie en toe kom ek in en alles werk uit en dis hoe ek toe op die ou einde ʼn graad gekry het en ʼn werk gekry het en dat ek nog altyd by dieselfde werk is.
R: Hoekom voel jy so? Wat beteken joernalistiek vir jou?
K: Ek dink dis toe ek eers begin het dat ek besef het hoe noodsaaklik dit is vir my eie voortbestaan en hoeveel stories daar nog is wat nie vertel word nie, wat moet reg vertel word, en wat in my taal moet vertel word. Ek dink dis wat dit vir my beteken. I mean toe ek by die koerante gewerk het toe … ek dink ek leef in ʼn absolute fantastiese tyd … toe’s dit 9/11, Princess Diana, I mean dit was groot stories wat … wat ek meen jy kan jou lewe meet aan sulke stories. Dit was net fantasties. Hier in die Kaap, dit was nou nie fantastiese stories nie, maar dit was die PAGAD, dit was bom, dit was sulke goed. Dit was net sulke groot stories. En in daai groot stories het ek net heeltyd gevoel iets is nie reg nie, want mense se stories raak weg tussen hierdie hoofberigte. En ek het altyd gevoel dat daar is stories wat nie vertel word nie en nie reg vertel word nie. En ek het altyd gehunker na dit. En toe’s ek van die koerant af tydskrifte toe. Want dit het vir my ʼn meer persoonlike aanslag, ʼn meer intieme gedagte is ʼn tydskrif vir my. En ek het daar aangehou maar nogsteeds het ek gevoel daar’s iets … iets is net nie reg nie … iets is nog steeds missing. En toe op die ou einde van die dag toe kom ek by ‘Kuier’ uit. En toe ek die, hoe kan ek dit sê, die power kry om self die stories te kies om dit self te kan vertel nou is dit vir my fantasties want nou is die … die gaatjie is toe gestop. This is it. En nou’s dit vir my dit is wat die joernalistiek vir my beteken. Dit is wat ek elke dag terug kry van my werk.
R: Jy was by die tydskrif by ‘Move’ toe jy jou eerste beroerte gehad het en jy was maar 34?
K: Ek moet vir jou sê, né, ek weet nie. Ek het eendag opgestaan soos gewoonlik en werk toe gestap. En daar is by onse kantore is daar so ʼn laaste bultjie soos jy by die kantoor kom en eweskielik voel daai bultjie vir my soos daai laaste stretch by die Comrades soos jy altyd sien daai mense kruip; hulle kan dit nie maak nie. Toe voel ek dan nou ek kan dit nie maak nie. En dit hou net aan en dit hou net aan en ek kan nie daarby uitkom nie. Toe ek uiteindelik by die voordeur van die gebou inkom, toe sê iemand vir my ‘Hier’s jou handsak’. Toe’t ek al daar lankal my … my bag geverloor al en ek het nie gevoel ek word lam nie. Toe uiteindelik – en ek besef iets gaan nie … is nie reg nie – by die kantoor ingekom. En soos ek nou lam raak so trek ek na die een kant toe en ek seil so half by die … by die kant van die gebou na die kantoor toe. En ek is toe in die kantoor en een van … hoeka die bemarkingsbestuurder sê vir my: “Kay, you’re not right.” Ek is like: “What are you talking about?” Ek moet moet nou werk. Daar’s klomp dinge om gedoen te word. Ek gaan oor my to-do-list. “Kay, you are not right.” Met die lam arm moet laptop aansit. “Kay you are not right.” Dit het so aangegaan totdat ek besluit het … totdat … ek kon nie eers die laptop aansit nie en toe stuur hulle my huistoe en ek het net gaan slaap. Dit was die verkeerdste ding wat ʼn mens ooit kan doen. As julle ooit sulke goed sien gaan onmiddelik, kry mediese hulp. En toe die volgende oggend staan ek met die grootste kopseer wat … Ek het nog nooit weer so een voor dit en nog nooit na dit so ʼn kopseer gehad nie. Letterlik gevoel my kop gaan nou bars. En toe’s ek hospitaal toe. En toe ek daar kom en hulle skandeer my brein sê hulle daar is iets wat nou gaan bars. En dis toe hulle opgetel het ek is besig om ʼn beroerte te kry en hulle het toe onmiddelik medikasie en goed gegee. Maar toe is ek uit. En toe ek … Dis toe hulle nou vir my behandeling gekry het. Ek het eers … dit is eintlik vir my baie snaaks … eers na die tyd toe ek weer terug op kantoor is toe sê hulle almal het gedink … dit was ʼn … ek dink dit was ʼn Maandag of ʼn Dinsdag, ek was iewers uit vir die maatskappy … dat die ander mense wat die vloer saam met ons deel het gedink ek was dronk want ek het so gelê teen die muur om te stap. Maar dit is, ja, dit was vir my eintlik baie snaaks later maar dit was eintlik nie snaaks nie.
R: Hoe erg was dit fisies?
K: Ek het tydelik verlamming aan my een kant, aan die linkerkant, gehad. Maar ek het nie fisiek … soos my neuroloog gesê het dit is een van die beste beroertes wat ek kan hê … want ek het meer emosionele skade en in, jy weet, in die werking van my brein as fisiek want het omtrent onmiddelik herstel aan die fisieke goed maar vir die … in my … ja … ja dit is wat … dit was onmiddelik reggekom.
R: En toe was daar ʼn tweede een?
K: Ja, omtrent ʼn jaar later toe het ek en dit gebeur altyd as ek loop. Toe vroegoggend, weer oppad, loop werk toe, wil die trein vat werk toe. Toe begin ek loop en toe ek weer sien toe’s my skoen weer in die pad en hier sleep ek ʼn voet. En toe ek … want … uh … toe gaan ek maar dokter toe. En by die dokter toe kan ek nie weer praat nie. Toe kan ek nie my naam sê nie en dit was vir my baie meer scary as die eerste een. Wel, maar toe moet ek maar ʼn plan maak en toe tik ek … dis die tegnologie, dankie Vader … toe tik ek maar my naam vir die …[onduidelik] … En maar dit was toe ʼn kleiner een as die vorige een jy weet en ek het baie gou herstel van daai een.
R: En jy was nog in jou 30s toe jy die derde beroerte gekry het?
K: Ja-ja. Nee, ek sê mos my 30s was horibaal. Die derde keer was actually hier by die kantoor, by hierdie kantoor. Dit was ook ʼn oggend. Toe kom ek werk toe en toe sê onse [onduidelik] my span: “Jou mond trek skeef.” Dit was die mees … En wat vir my so fassinerend is dit was elke keer verskillend. Nes by die tweede een ek uitkyk vir die kopseer, ek het nooit weer ʼn kopseer gehad nie. Toe kyk ek weer uit vir as ek nie kan praat nie – dit was elke keer net verskillend. Maar elke keer ewe scary, maar jy weet so…
R: En hoe het dit jou beïnvloed? Is jy anders daarna?
K: Van die eesrte een was ek baie anders. Die eerste een was die grootste een wat die grootste skade aangerig het en ek verskriklik baie geleer oor die brein en die werking van die brein. Kyk, as hulle eers daai vaal kolle vir jou wys wat op jou brein sit; dit kom nooit weer reg nie. Daai weefsel is dood. As iets ontneem is van suurstof is dit dood. Die fantastiese ding eintlik is hoe ʼn kragtige orgaan jou brein is want waar dit doodgaan vind dit ander maniere om goed te doen. So die eerste een vir my was die werking van my brein baie … en emosies … Ek het gesê ek vat my malpille want my emosies was op en af. Heeltemal uit beheer uit. Ek het verskriklik … ek is nie … Ek was nooit ʼn depressiewe of angstige mens nie, oe gits, ek was heeltemal so. Dit het my heeltemal verander vir daai eerste ruk. Ek kon byvoorbeeld nie voor mense praat nie. Ek kon nie ʼn presentation wat my werk is … Ek het heel mal geraak. En dit heeltemal jy weet … so dit het baie verander. En ek moes leer om … En daai feit dat jy nie beheer het oor jou lewe nie, dit is so onmagtigend. En ek bedoel my bynaam, wat mense nie moet weet nie, by die huis, my broers en susters, is ‘Die Baas’. En die baas is altyd in beheer. So dit was vir my die grootste aanpassing om te besef dat jy actually… eintlik geen beheer het nie en om daarmee te deal was vir my die ergste.
R: Het dit ʼn permanente verskil gemaak? Is daar ʼn gevoel van ek het die ergste in die oë gekyk en niks anders kan eintlik weer so vreesaanjaend wees nie?
K: Ek dink tog so. Ek dink vir my die vreeselement, dat vrees eintlik sy houvas verloor het in die sin van … nie dat jy moet roekeloos raak nie, maar, al daai klein goed wat jy jou so kan opsaal. Van wat gaan ander mense dink, jy weet? Daai wat jy dink eers so groot is, jy weet, is nie meer so groot nie. Maar ek dink eintlik tog die grootste ding is empatie. My empatie het so opgegaan want jy weet jy hoor van mense wat manic depressive en in manic stages is en ek weet nou wat dit beteken. Ek weet nou wat dit beteken dat iemand anders goed vir jou moet doen. Ek weet nou wat dit beteken. Ek weet nou wat dit beteken om van vooraf goed te leer. Ek weet nou wat dit beteken om totaal angstig te wees oor jou werk. Gaan ek ooit weer die ou In-beheer-Kay terug kry? Ek verstaan nou daai angs en dit maak van my ʼn beter mens. So, ek dink dit het by my gebly nogal. Ek hoop so, actually.
R: Wat moes jy weer leer doen?
K: Ek moes weer leer, hulle noem dit jou working memory, as jy nou ʼn taak begin om dit konsekwent heeltemal deur te voer totdat jy dit klaar is … [onduidelik] … die hele ding weer aangaan. En nie ge-sidetrack raak en jy weet en so afgaan en dit nie en so dit was nogal geaffekteer.
R: So, moes jy ʼn tydlank wegbly van die werk af of kon jy onmiddelik weer werk?
K: Nee, ek kon nie onmiddelik weer werk nie. Ek het … Ek is ge-herontplooi in ʼn ander afdeling, baie meer op my eie gewerk en stadiger en goed. En ja, dit het lank gevat maar dit het toe weer … Soos ek sê die brein werk nie meer deur dieselfde vaalkol nie, dit werk nou deur ʼn ander kol en nou is dit lekker. Nou werk dit weer, glo ek. Ja.
R: Dink jy daaraan dat ʼn mens moet iets agter laat in die lewe?
K: Absoluut. En ek dink vir my as mense praat van ‘legacy’ ek dink dis hoe jy ‘legacy’ definieër. Is dit geld, is dit iets, is dit ʼn produk, is dit ʼn ding? En vir my persoonlik is dit net dat jy ʼn verskil vir iemand gemaak het. ʼn Verskil in jou wêreld gemaak het. Vir my dit hoef nie … uhm … ʼn wêreldwye jy weet … Ek hoef nou nie Bill Gates te loop ge-is het nie. Is solank ek nou, hier waar ek is, mense wat ek ken of in my onmiddelike omgewing iets wat, jy weet, gedoen het om iets te beteken is dit orraait.
R: Jy het ʼn verskil gemaak in jou suster se lewe deur ʼn gesprek toe sy agter ʼn sigarettoonbank gestaan het, ja?
K: Nee, my suster … en ek was net so trots op haar toe sy daar gewerk het by die sigarettoonbank, maar ek het net geglo sy’s tot soveel meer in staat. En ek het net vir haar gevra is dit … is jy seker dit is hoe ver jou drome … is dit wat jy wil doen met jou hele lewe? Want daar is ander opsies en een van hulle was om te gaan ‘Au Pair’ en ek het gesê ek sal jou help ek sal jou daar kry. Maar aan die ander kant dis ook jou keuse, I’ll get you there but as jy dit wil maak dit is up to jou. And I got her there and she never came back … [tussenbei]
R: … So waar’s sy nou?
K: Sy’s in Amerika, ja, sy’s getroud met ʼn Amerikaner, ʼn Amerikaanse baby, maar vir my die groot ding sy’t haar pad in die lewe gevind. En sy’s daar oor as ʼn au pair en soos hulle dit wil hê een van die kinders, die eerste egpaar by wie sy ge-au pair het, een van hulle kinders is outisties. Sy’t nog nooit sulke goed gedoen nie maar sy het so ʼn slag met daai kind gehad van die eerste dag wat hulle twee saam is dat sy toe in daai rigting daar gestudeer het en vandag werk sy by ʼn skool wat kyk na sulke kinders. Dis nou absoluut haar passie in die lewe. Dis wat sy doen. So, dit was ook ʼn … sy moes dit doen. Dit moes gebeur vir haar.
R: Is dit wat jy bedoel as jy sê jy wil ander mense se lewens beïnvloed?
K: Ja, ek dink dit is genoeg om vir haar tot haar volle potensiaal te kry. Jy weet, net daai een stootjie … [tussenbei]
R: Moenie net verby loop nie. Doen iets …
K: Sy het al die harde werk gedoen maar sy het het net daai een stootjie nodig gehad.
R: Vertel my van jou aanstelling as redakteur van ‘Kuier’?
K: Die eerste ding vir my was ‘Kuier’ is nie oor ʼn enkeling nie. ‘Kuier’ gaan oor … dit is … ek dink as ek nie daai besef vinnig gekry het nie … hoewel dit het Kay se lewe heeltemal verander. Dit, en al daai goed van wat kan ons … hoe groot kan ons … wat kan ons alles doen? Hier’s die geleentheid om uiteindelik jy weet so ʼn tyd … In die tydskrifbedryf iets met ‘Kuier’ te doen. Dit was alles daar maar om dit daar te kry sou meer as ʼn enkeling verg. Dit het ek baie gou besef. En ek was gelukkig genoeg met die span wat hier was. Maar die grootste ding wat ‘Kuier’ laat werk en wat ‘Kuier’ daai tyd laat werk het was die gemeenskap, die mense. Die mense het gesien hulle kan eienaarskap van ‘Kuier’ neem. En as hulle kuier dan kan ons saam vir ‘Kuier’ vat en dit maak wat ons wil hê dit moet wees. Want sonder die mense, nommer een, sal ons nie stories het nie. Sonder die mense, rêrigwaar, kon ‘Kuier’ ʼn baie vroë dood gesterf het. En dit is net rêrigwaar ‘Kuier’ is rêrig ʼn familie. Mense, hulle bid vir ons. In die media is ons almal, jammer maar ek is baie sinies, ons is rêrigwaar afgestomp en kliphard, maar by ‘Kuier’ se mense, die mense bid vir ‘Kuier’ dat ‘Kuier’ sal vorentoe gaan. Die anties, die anties bel hiersô, hulle SMS en hulle sê dankie vir ‘Kuier’. Hulle sê dankie dat julle so goeie job doen. Dankie dat julle onse stories vertel. En die mense voel hulle behoort aan iets, hulle voel trots op wat ‘Kuier’ doen. En ek voel ons verteenwoordig soveel ander mense wat nie hulle stories kan vertel nie of wat nie ʼn kans gehad het nie.
R: Die tydskrif doen ongelooflik goed. Julle is na vyf jaar oor die 100 000 met sirkulasie, julle is winsgewend. Wat sê dit van die bruin-gemeenskap? Wat is daar aan die gebeur?
K: Ek wil nie emosioneel raak nie maar laat nou ek dit vir julle sê, ek dink as daar nou een woord is wat ek wil sê, daar was ʼn ‘hunkering’. Daar was ʼn hunkering wat ek dink ons nie kan verwoord nie, nie kon verstaan het nie, en dit is hoe dit uitkom. En dit is nou ʼn klou en dit is ʼn eie maak en dit is sulke goeters van … En niemand doen dit vir ons nie, dis die ander groot ding, niemand gee dit vir ons nie.
R: Hunkering na wat?
K: Na erkenning. Ons is ook hiersô, nê, ons identiteit, jy weet, dit is rêrig nommer een. ʼn Erkenning van wie ons is, dat ons bestaan. Jy weet daai is erkenning, dis identiteit, dis al daai goed. En nie, jy weet die Engels het so ʼn mooi woord, ʼn ‘construct’…a construct van wat julle sê ons is nie. ʼn Construct van wat julle wil hê ons moet wees nie, dis net wie ons is. En dit is oukei. En ek dink daai is wat ‘Kuier’ reg gekry het omn te sê: ons gaan nie praat soos julle wil hê ons moet praat nie. Ons gaan nie ʼn lewe wys wat julle wil hê ons moet wys nie. Ons gaan nie oulik wees vir julle nie. Ons gaan nie snaaks wees vir julle nie. Ons is maar net wie ons is en you know what? Dis goed genoeg! En ‘Kuier’ is daai eerlik … is eerlikheid. En dis oraait. En ons doen dit vir onsself. Ek dink dit is en daai hunker … daai is wat dit verantwoord. Kuier is daai hunkering. En die feit dat mense, hulle het dit onmiddelik opgevat. En die ander ding is wat ek hou van Kuier is dit is nie eksklusief nie. Dit is nie bruin en niks anders nie. Jirre, een van ons mees geliefde mense oor wie ons nou al gepraat het is Karen Hart. Karen Hart is so wit soos vanilla ice-cream. En Karen is so ‘Kuier’ soos kan kom. En dit is hoekom. Dit gaan nie oor daai nie. Dit gaan nie oor ras nie. Dit gaan oor ʼn behoudenheid, ʼn behoordenheid en dis oraait.
R: En seker rolmodelle? Ek kyk na al julle voorblaaie en ek dink wat dit moet beteken vir meisies op skool, byvoorbeeld?
K: Ja, en dis daai hele idee van toe ons groot geword het was daar ander mense in die tydskrifte wat soos ons gelyk het? Is daar mense wat hare gehad het soos ons? Het iemand ʼn relaxer gedoen in ʼn tydskrif? Die antwoord is ʼnee’. En ek praat van my generasie. Ek dink die vrou wat ‘Kuier’ die meeste bevry is wat ek noem daai ‘verlore generasie’. My ma-hulle en my ouma-hulle wat gedink het hulle sal…daar was nie geleenthede vir hulle nie…hulle stemme is nooit gehoor nie. Wat rêrig is waar ek voel die grootste bydrae is tot ons almal se toekoms wat nie daai erkenning gekry het nie. En die meisies wat nou ons … soos jy sê daai skoolmeisies. Nie net sien hulle soos ʼn JoAnn Strauss, ʼn Amy Kleynhans wat hierdie drome bereik nie en is rolmodelle nie, maar hulle hoor ook van daai antie wat hulle grootgemaak het. Wie is daai antie wat dit nie gehad het nie, maar sy kon haar grootgemaak het? En sy leer ook vir haar ma wat ook ʼn rolmodel is.
R: Wat is volgende? Wat wil jy nog doen?
K: Make it to fifty, number one!
R: Jy’t nou 40 geword; was dit ʼn ding?
K: Absoluut! Ek sê is mos die enigste mens, die enigste vrou, wat nie kon wag om 40 te word nie. Ek is uit die 30s uit. Asseblief tog, niks meer strokes nie, ek is … Want ek sê mos die 30s was horibaal. Ek wil net 40 wees, asseblief tog, niks meer strokes nie. So, ja, 40s is fabulous. Mense, just get to 40. Vergeet van die plooie, 40 is fantasties. Vir my – ek wil baie graag nog leer. Ek glo mens kan nie genoeg leer nie. En ek dink, ja, ek wil sien wat ander mense doen. Jy weet ek is baie excited oor die moontlikhede. Ja, ek dink daar’s nog so baie wat kan gedoen word en goed wat kan gebeur. Ek dink net ons lewe in sulke exciting times en ons vergeet dit die heeltyd.
R: En die mense wat sê Suid-Afrika is net eenvoudig op ʼn afdraande pad?
K: Waar was hulle? Die afgelope 50 jaar of 40 jaar wat ek hier is. We’ve been through worse, waarvan praat julle? I mean like hoe kort is ons geheue? Jy weet ek is rêrigwaar … are you calling THIS bad? We’ve been through worse and here we are. Ek is like, nee mense, daar’s niks om so bad luck oor te wees nie. Nee, ek is baie positief en ek sê hier gaan nog groter en beter dinge uitkom die heeltyd.
R: Ons gaan saam daar wees. Voorspoed!
Leave a Reply