Ruda Gesels Verandering met oudmej. Suid-Afrika Wilma van der Bijl

Sedert Wilma van der Bijl in 1987 die Mej. Suid-Afrika kroon gedra het, het sy haarself bewys as model, apteker, entrepreneur en sakevrou van haar eie ondernemings.

Sy is ook gereeld in die nuus oor haar betrokkenheid by bewusmakingsveldtogte vir borskanker – ‘n siekte wat sy self in 2005 oorkom het. En terwyl al dié mylpale in haar lewe beslis iets is om op trots te wees, kan mens duidelik hoor haar groot passie in die lewe lê hoofsaaklik by haar gesin en die avonture wat nog in die lewe voorlê. Moenie die opname van Ruda Landman se gesprek met Wilma hieronder misloop nie.

Transkripsie:

RUDA: Hallo, baie welkom by Ruda Gesels. My gas is Wilma van der Bijl, wat in 1987 mej. SA was en ’n paar jaar daarna ons apteker in Melville, Johannesburg. Deesdae besit en bestuur sy ’n vulstasie in die Noordelike voorstede van Kaapstad – ’n vrou met baie kante. Ons het in die pragtige Camps Bay Retreat ontmoet.

RUDA: Jy’t klaar geswot as apteker en toe gaan modelwerk doen in Europa. Dis ’n groot stap as ’n mens van Oudtshoorn af kom.

WILMA: Dit was ’n geweldige groot stap. Ek kan vandag nog nie eintlik dink hoe my ouers dit oorleef het nie. As mens nou dink jy het hier weggevlieg en jy het nie eintlik kontak gehad nie en telefoon oproepe verskriklik duur was – deesdae sou dit so maklik gewees het.

RUDA: Hoe’t jy gevoel? Dis hierdie total nuwe vreemde wêreld, nie net Europa nie, maar ook die model omgewing?

WILMA: Ag ek dink as jy jonk is, dan is jy nie vreeslik bang nie, so ek was nie verskriklik bang nie. Natuurlik het onmiddelik ’n redelike groot kop gekry want ek het gedink ek is gemaak, omtrent.  Maar dit was heeltemal die tenoorgestelde. Jy weet, om ’n kontrak te kry beteken nie jy is gemaak nie. Ek het oorgevlieg Duitsland toe en ek het gedog daar gaan ’n vreeslike swart limosine vir my wag met my naam op en ligte. Niks het so gebeur nie. So ek moes maar die doodgewone ding doen soos al die modelle, met my ou portfoliotjie deur die strate loop en dit was Desember – dit was verskriklik koud, my voete was koud en vinnig donker in die aande …

RUDA: Uit Suid-Afrika se somer.

WILMA: Uit Suid-Afrika se somer. En ek kon eintlik op die strand gelê het. En ja. Daar’t ek begin. Van deur tot deur, soos al die ander modelle. Niks spesiaal gewees nie.

RUDA: Wat het jy daar geleer? In daai vyf jaar?

WILMA: Uithouvermoë. As jy ’n droom het, moet jy werk daaraan. En elke oggend opstaan, dis ’n nuwe dag. En jy moet hom weer ’n keer aanpak. Maar die beste wat ek daarvan af geleer het, toe kom ek van Europa ek het nog nie my graad gehad nie, maar ek het wel vir my pa ’n oproep gemaak en gesê: “Pappa, ek dink ek moet in Duitsland bly, want ek het nou al hierdie werk gedoen. As ek nou terugkom om my graad te kry, dan is daar nou ’n gaping. In studies en ook in al die werk wat ek nou in Duitsland gedoen het. En ek dink ek moet aanbly dat ek kan aanwerk, en dis heerlik.” En Pappa het net gesê – hy was ’n man van min woorde: “Ek kry jou Dinsdagoggend op die lughawe.” En daar was ek op die lughawe en ook maar baie, baie dankie aan my ouers wat gesê het jy kom terug, jy maak jou graad klaar en dan kan jy gaan kyk wat jy wil doen.

RUDA: En toe, net na jy graad gekry het, Mej Suid-Afrika! Hoe het dit gebeur en wat het dit in jou lewe beteken?

WILMA: Dit het so half tussen die modelwerk deur gebeur. Dis ook … ’n droom gehad – ek het op ‘n stadium vir Margaret Gardiner ontmoet en sy het vir my gevra hoekom doen ek nie, probeer ek nie om in te skryf vir Mej Suid-Afrika nie. En ek het dit nogals as ’n kompliment aanvaar. Toe het ek net gedink, jy het ’n droom, jy moet probeer. Ek glo nie daaraan dat jy langs die veld moet staan en kommentaar lewer nie. Jy moet in daai resies wees, dan mag jy kommentaar lewer. En ek het ingeskryf maar nooit gedink ek gaan wen nie. Ek was net, eintlik gedink dit is dalk glad nie wat hulle soek nie, want ’n mens weet ook nie eintlik wat hulle soek nie. En verander? Ja. Dit was ’n groot omwenteling gewees. Om oornag, Ruda, dis oornag – dis nie ’n tennisspeler of akteur of aktrise wat oor jare werk om tot ’n punt te kom nie. Oornag ken die publiek jou en almal ken vir jou en oornag moet jy ’n antwoord hê op elke liewe vraag wat die media vir jou vra.

RUDA: Van wêreldvrede tot die kleur van jou naelpolitoer.

WILMA: Tot alles. En ’n opinie hê en dit moet sense maak. En jy moet vriendelik wees met almal en jy moet BAIE energie hê. En ja, ek het baie energie gehad. Ek was jonk en ek het ook weereens elke oggend opgestaan en gedink: Nog een dag van ’n jaar. Daai tyd het ons sanksies gehad so ons kon nie deelneem aan Mej. Wêreld of Mej. Heelal nie. En ons kon aan geen internasionale kompetisies deelneem eintlik nie. Wat ons toe nou doen, met die organiseerders het ons na Amerika toe gevlieg en na Engeland toe gevlieg om Mej. Wêreld en Mej. Heelal te sien. En in die jaar, omdat ons nie regtig kon reis buite die land nie, het ek baie in Suid-Afrika gevlieg, op en af, reg oor die land. Op een dag twee verskillende stede besoek, miskien. Op die grens gewees vir omtrent drie weke. Die ou dae se Namibiese grens. En ook tussen Zimbabwe en ons.

RUDA: By die soldate?

WILMA: Ja, by die soldate. Gaan gesels met hulle, gaan kyk wat hulle doen. Dit was ’n ongelooflike ervaring wat ek nooit in my lewe sal vergeet nie.

RUDA: Hoekom? Watter indruk het dit op jou gemaak?

WILMA: Weet jy, ek het nie broers nie – ons is drie meisies – en ek het in Oudtshoorn grootgeword wat ook ’n baie groot militere basis gehad het. En ek het nooit besef, ons het hoeveel keer die vliegtuie sien opstyg uit Oudtshoorn uit, die ou Dakotas of wat hulle ook … Flossies, wat hulle ookal genoem is. Dit was in Augustus gewees in 1987 en toe in Desember toe was ek in 1 Militêre hospitaal. Kort nadat ek weg is uit Rundu, was daar ’n regte aanval op Rundu gewees. En toe ontmoet ek een van die seuns waarmee ek gesels het, wat paraplegies geraak het. Dit was moeilik. Dit was net so jonk soos ek gewees, en sy lewe is net eenvoudig in ’n ander rigting in geslaan. Ruda dit was verskriklike diep dinge wat jy as ’n jong meisie aanvaar, ervaar. Ek was wel 24, ek was wel oorsee, ek het ’n graad gehad, ek was al uit my ouerhuis vir ’n hele paar jaar, so ek moes eintlik al ’n volwasser meisie gewees het, maar dit was nog steeds swaar. Wat eintlik ook swaar is van Mej Suid-Afrika is dat jy alleen is. Jy is redelik alleen, want met wie deel jy dit? Jy’t miskien ’n chaperone met jou, maar jou vriende is baie ver en veral destyds. Dit was nie selfone en iPad tyd nie. So jy was nie in hierdie verskriklike kontak met mense nie. So met wie kon jy dit deel? Met wie kon jy daai innerlike hartseer partykeer deel.

RUDA: Wat my tref is dat dit is sogenaamd ’n skoonheids wedsrtyd maar wat van jou verwag word daarna, gaan baie verder as net ’n uiterlike staan daar en lyk mooi.

WILMA: O ja. Verskriklik. Ek dink die publiek weet glad nie wat van die meisies verwag word nie. Maar dit is hoekom dit so ’n wonderlike ervaring is. Ek sal dit nooit verander nie en ek weet dat ek verskriklik baie daaruit geleer het.

RUDA: Hoe het jou lewe daarna toe ontwikkel. Het jy toe begin werk as apteker?

WILMA: Nee. Nie onmiddelik nie. Ek het onmiddelik ontvlug na Europa toe, nog twee jaar gewerk en tot die Aptekersraad my nader gekrap het en gesê het: “Jy’t nou pragtig gedoen, jy’t ons naam hoog gehou, maar nou moet jy jou internskap kom doen in Suid-Afrika. Ek kon dit nie oorsee doen nie, wat ook goed was. En toe het ek Melville toe gekom en daar my aptekersgraad voltooi.

RUDA: Ja, jy was ons apteker op ’n stadium.

WILMA: Ja dis reg ja, baie pille getel.

RUDA: En daarna?

WILMA: Wel van daar af, ek het nie regtig besluit om my heeltemal terug te vestig in Suid-Afrika nie, op daardie stadium nie. Ek het die aptekersjaar in Melville gedoen. En toe het ek toevallig my man ontmoet en van toe af het ek besluit ek sal in Suid-Afrika bly.

RUDA: Hoe het julle ontmoet en wat het jou laat besluit hy is die een?

WILMA: Ruda, dis ’n lang storie, maar my kinders spot hom en sê hy het my op ’n winkelrak gesien en … menende in die tydskrifte. Hy het my benader uit ’n bemarkingsoogpunt om die speletjie, Pictionary te vertaal na Afrikaans. En dit het ek wel gedoen, maar wat ek eers later uitgevind het, en hy moes my ook betaal het daarvoor, maar wat ek eers later uitgevind het, is dat hy ’n hele span professore by Stellenbosch Universiteit gehad het wat dit vertaal het, so ek het letterlik my tyd gesit en mors.

RUDA: Dis ’n baie goeie pick-up line.

WILMA: Dit was nogal.

RUDA: En? Hoe het dit toe, dit klink asof hy na jou toe gekom het met ’n baie goeie, vaste idee.

WILMA: Hy het ’n vaste idee en ’n plan gehad.

RUDA: Maar wat het jou oorreed?

WILMA: Hy het ’n baie goeie sin van humor en hy het my verskriklik baie laat lag. En hy het my baie spesiaal laat voel altyd. Ari het ’n baie oop persoonlikheid en baie warm persoonlikheid. Hy’s Grieks van agtergrond. En ons het net onmiddelik baie gehad om oor te gesels.

RUDA: Hy het nou al vier hartomleinings gehad? Is ek reg?

WILMA: Dis reg ja. Hy het hartomleinings gehad in 1999 en die ergste daarvan was Nicolas, my seun, was toe ses maande oud en my dogter was 19 maande oud so ek was toe, ek het letterlik twee babatjies op my heupe gehad. Toe ek die nuus kry. Maar hulle het vir my verseker dat dit die beste chirurge wat die operasie gaan doen, en dit was wel so, en hy het goed daaruit gekom. Maar ja, dit was ’n vreeslike terugslag vir hom gewees en ek dink ek het seker oud geword, ook oornag want dit, jy skrik jou eintlik dood as jy twee sulke klein kindertjies het en ja, jou man moet vier hartomleinings kry. Maar van toe af het hy bietjie sy lewensstyl verander – hy kyk nog steeds nie na my en boots my na nie. So hy hou nog steeds van sy lekker kossies en hy eet nog bietjie verkeerd, maar dit is die natuur van die mens. Ek het ook nou al deur die lewe besluit, ek is al 22 jaar getroud. Jy kan nie die man verander nie. Jy moet maar saam met hom leef en …

RUDA: Jy kan dit ook nie jou verantwoordelikheid maak nie.

WILMA: Nee. Ons is almal verantwoordelik vir ons eie gesondheid. Jy weet, as dit is hoe hy is, dan is dit hoe hy is en dis hoe ek hom ontmoet het in elk geval. Jy weet ek het hom nie in die gym ontmoet en ontsettend fiks nie. So ek kan hom nie nou kritiseer nie.

RUDA: En die twee babas. Hoe het hulle jou lewe verander?

WILMA: Ruda, my twee kinders is absoluut die rede hoekom ek opstaan in die oggend. Dit is die wonderlikste ding. Ek glo nie, in ’n ma se gedagtes is daar seker nie ’n beter prentjie as daai eerste gesiggie wat jy gesien het nie. As daai babatjie gebore is en jy sien die gesiggie nie.

RUDA: Onthou jy die sensasie, toe jy daai baba die eerste keer sien en vashou?

WILMA: Ek het daardie blik so helder in my gedagtes, altwee my kindertjies. En ek het my eersgeborene seuntjie verloor. En toe het ek, daar was ’n baie groot gaping tussen my eersgeborene seuntjie en Alexia. So dit was ’n ongelooflike gevoel toe ek vir Alexia die eerste keer optel en sy is gesond en sy leef. Daar was ’n vreeslike angs natuurlik by my. Ek het baie, baie gesukkel om haar huis toe te neem. Ek dink ek het aan wat noem mens hierdie, depressive …

RUDA: Post natale depressie.

WILMA; Ja, ek dink met Alexia het ek nogals daaraan gely en ook met die rede omdat my eerste seuntjie is oorlede en jy kan eintlik net nooit glo dat jy ’n babbatjie vashou wat by jou is en ja, dit is net ’n, daar’s geluk by en daar’s ook vrees by. Verskriklike vrees by en ek dink die vrees het eers my verlaat dat niks met haar gaan gebeur nie, toe ek agterkom ek is swanger met Nikolaos. Wat baie vinnig was, dit was omtrent nege maande later en toe was daar net te veel om aan te dink. En toe kom hy en daai gesiggie sal ek ook nooit vergeet nie – wat so wonderlik was en nou’s hulle 17. Nikolaos is 17 en Alexia is 18, in matriek.

RUDA: Ons gas in Ruda gesels is Wilma van der Bijl. Na die breuk vertel sy van entrepreneurskap, en wat borskanker in haar lewe beteken het. Ons is nou terug.

RUDA: Welkom terug by Ruda gesels, waar ek sit en kuier met Wilma van der Bijl.

RUDA: Hoe het jou lewe verskuif na julle getroud is?

WILMA: Ek en Ari is ’n baie goeie besigheidspan, dink ek. En hy was in besigheid gewees toe ek hom ontmoet het ons het dit net verder geneem en op ’n stadium het ek ook kosmetiese prodikte begin formuleer en verkoop en onder ander etikette formuleer en dit verkoop en opgebou. So dit was ’n baie lang proses tussen wat ek ’n jong meisie was en waar ek vandag is. Maar in 2005 het ek die hele kosmetiese besigheid ontslae van geraak, toe ek kanker kry, toe het ek net besluit, nee. Ek gaan nie so ’n groot besigheid hê nie, ek kan nie dit alles behartig nie en toe het ek dit verkoop.

RUDA: Vertel my van hoe jy daai nuus gekry het.

WILMA: Ruda, borskanker is een van daai dinge, wat ’n vrou … miskien besef jy, daar’s iets verkeerd. Al wat ek kan sê is dat ’n mense verskriklik baie goeie opvolgbesoeke moet hê – dis jou eie, wat noem ’n mens dit, dis jou eie …

RUDA: Verantwoordelikheid

WILMA; Dis ’n mens se eie verantwoordelikheid om te kyk na jouself en jou ondersoeke te laat doen. So ek het ’n ondersoek laat doen maar ek het wel, ek was verskriklik moeg en maer, daar is altyd redes om moeg te wees – jy het ’n besigheid, jy’t twee kinders, klein kindertjies – my kinders was vyf en ses gewees op daardie stadium en so daar’s baie antwoorde as jy sê jy is moeg. Maar ek het nog steeds gevoel daar is iets verkeerd en vir ’n ondersoek gegaan en hulle het vir my gesê daar is iets fout. Die eerste ding wat jy aan dink is: “Wat van my kinders.” Wat van jou kinders. So omdat jy dit eerste dink, was die tweede besluit baie makliker, om te sê ons doen wat ons moet doen. So kry nog ’n tweede opinie en kry die heel beste behandeling wat jy kan kry. Maak die besluit en doen dit. En dis presies wat ons gedoen het. Dit was ’n lang proses – dit was seker omtrent ’n jaar wat ek basies uit aksie was, maar hier sit ek vandag, tien jaar later en al wat ek kan sê is ek is verskriklik dankbaar dat ek dit so vroeg ontdek het en ek gaan nou nog steeds vir my gereelde ondersoeke maar ek sê net vir alle vrouens –dit kan met ons almal gebeur. Die syfers is so verskriklik hoog – een uit elke vier mense gaan kanker kry. So jy weet, dit is hoe jy dit gaan hanteer en hoe vroeg jy dit gaan kry.

RUDA: Moenie jou kop in die sand steek nie.

WILMA: Moenie jou kop in die sand steek nie. Dit mag gebeur. Maar ja, die hele proses – ek het deur ’n dubbel mastektomie gegaan, die een was elektief –so ek kon gesê het nee, maar die feite was net eintlik op die tafel gewees dat miskien gaan die ander ook geinfekteer raak of in ’n paar jaar so hoekom sal jy die kans neem? En ek het ’n baie goeie plastiese chirurg gekry, dat ek ook baie gelukkig was dat ek in staat was om al hierdie te kry.

RUDA: Dink jy dit was vir jou amper meer dramaties omdat jy uit die skoonheidswêreld gekom het? Want ’n mens se liggaam. Dit was tog amper die manier waarop jy jou lewe gemaak het.

WILMA: Ja, dit was die manier waarop ek my lewe gemaak het vir ’n verskriklike groot deel van my lewe. Dit was ’n gevoel van verlies, iets wat jy gaan verloor en ja, jy het verloor maar die oomblik toe ek daardeur is, die oomblik toe die operasie klaar is, was ek op herstel, was dit asof ’n deur oopgaan en jy is besig om te herstel, so dit was net daardie tydperkie voor dit gewees en deesdae kan hulle sulke wonderlike dinge doen vir jou dat niemand dit gaan agterkom nie. En wat is die opsie? Die opsie is of lewe of dood. Dis die feitlike. Of lewe, of dood.

RUDA: Ja, so dit gaan oor prioriteite uiteindelik?

WILMA: Dit gaan oor prioriteite en natuurlik is daar ook ’n man by betrokke daar is ook ’n familie by betrokke. My kindertjies was klein so hulle ken my nou so, hulle kan my nie anders onthou nie – hulle ken my soos ek nou is. Maar dit was ook my man se besluit en sy reaksie was onmiddelik, nee dit maak nie saak nie. So dit is ook nie net ’n vrou se besluit nie.

RUDA: En ’n hele jaar lank van behandeling en in en uit hospitale – watter impak het dit op jou lewe, jou verhoudings, hoe jy die wêreld sien?

WILMA: Dit was op ’n snaakse manier’n baie positiewe jaar gewees. Aan die begin was dit verskriklik moeilik, veral die besluite was verskriklik moeilik – ek het glad nie geweet hoe om dit te hanteer nie en ek het ook daar besef, deur alles wat ek in my lewe gegaan het, eintlik ’n verskriklike alleenmens kon gewees het, want ek kan self goed doen. Ek is sterk genoeg, vinnig genoeg om alles self te kan doen, ek kan dit beheer, het ek ewe skielik besef jy beheer nie alles nie. Jy beheer regtig nie alles nie. En ek het mense nodig gehad. Ek het my familie verskriklik nodig gehad. Selfs toe my man siek geraak het met sy hartomleidings, het ek mense nodig gehad, maar nie tot so ’n mate nie. Maar hier het ek mense nodig gehad. Ek het my vriendinne nodig gehad. Ek het my ma nodig gehad.

RUDA: Emosioneel of prakties?

WILMA: Beide. Jy weet, as jy jou kinders bad in die aande en as jy so deur ’n gesondheidsproses gaan en chemo gaan en al daai dinge, maar jy probeer vir jou vyf en sesjarige kindertjies probeer jy maar voorhou dat jy, daar’s niks fout nie. Jy doen dit vir hulle, so ek het deels op hulle gesteun en deels hulle nodig gehad. En deels het net hulle geluk en net hulle wesetjies vir my opgekikker so dis ’n beide gewees en my ouers en natuurlik my man was wonderlik gewees. Ek het niks gedoen, niks gewerk nie … Was ook natuurlik ook in die bevoorregte posisie om dit te kon doen. So hy het net al die leisels uit my hande uitgeneem en gesê jy moet herstel. En vriendinne het net gekom en die kinders skool toe geneem of kos gebring en mense van wyd en syd het my gekontak of my nommer gekry en my ge-epos of net gebel of net ’n blommetjie gestuur. Ek het dit nooit verwag nie en jy weet daar het ek ’n heeltemal ander sy gesien van ons land en van mense. En dit was vir my wonderlik en dit het my deurgehelp.

RUDA: Nou’s julle op die punt waar die kinders amper uit die huis uitgaan. Dis ook ‘n ander keerpunt, veranderings moment.

WILMA: Dis ’n vreeslike … Sjoe! Dis ’n tydperk wat so vinnig verbygegaan het. Ek weet nie hoe ‘n mens daardeur gaan kom nie. Al wat ek weet is soos wat ek voel, was hulle nog nie vir lank genoeg by my nie. Ek wil hulle nog so bietjie vashou en al die besluite wat hulle moet neem is groot besluite.

RUDA: En planne vir jouself

WILMA: O daar’s baie. Ek dink persoonlike planne, besigheidsgewys ja, ons het besighede en die besighede moet aangaan en ek is gelukkig daarmee, maar ek dink net daar is nie genoeg tyd om alles te doen nie. Daar is nog tyd om te leer. Ek kyk so die iPad en ek doen hierdie online kursusse en ek dink net daar is soveel informasie. Dis heerlik. En dan fisies ek het nog nie die hele Suid-Afrika gesien nie. Ek wil nog gaan loop, ek wil nog die Fish River Canyon loop en ek wil nog die Otter Trail doen, jy weet al daai loop plekke waar ons wil gaan loop. En dan teruggee ja, ek dink nie, ek het in ’n stadium baie teruggegee aan die Rooikruis Kinderhospitaal in Kaapstad en my lewe is op die oomblik bietjie besig met die kinders wat by die huis moet uit en werk, maar ek wil weer terugfokus daarop en ek fokus elke jaar op kanker, borskanker redelike landswye saam met al die radioloë landswyd reël ons ’n promosie op mamogramme, maar daar moet nog meer gedoen word. Ek dink net ons woon in ’n fantastiese land waar jy soveel kan uitreik en daar moet nog uitgereik word ook. So nee, daar is baie drome die lewe is nog glad nie klaar nie.

RUDA: Dit was Wilma van der Bijl, wat ’n totale inspirasie is. Volgende week het ek twee gaste – Carike Keuzenkamp en Rachelle Greeff. Ek hoop julle kan aansluit. Dankie, soos gewoonlik, aan BrightRock, wat hierdie program moontlik maak. En groetnis, tot volgende keer.