Prof. Jonathan Jansen: “Jy kan. Kyk, ek het dit reggekry.”

’n Roeping word beskryf as ’n innerlike drang tot ’n werk. ’n Beroep. ’n Lewenstaak. Dis ’n baie besonderse mens wat die onderwys as sy roeping kies, en prof. Jonathan Jansen, uittredende visekanselier en rektor van die Universiteit van die Vrystaat is beslis een van dié besonderse mense.

Soos C.J. Langenhoven gesê het: Vir sy eie voordeel beklee ’n man ‘n beroep; vir die voordeel van sy ewemens volg hy ’n roeping. Dis n filosofie wat prof. Jansen beslis in sy werk toepas.

In die tweede episode van Ruda Gesels gesels Ruda Landman met prof. Jonathan Jansen, rektor van Vrystaat Universiteit. Hoor die storie van hierdie townshipkind wat vir elke jongmens wil sê, “Jy kan. Kyk, ek het dit reggekry.”

Luister na die gesprek hieronder, of laai die potgooi af by hierdie skakel.

Transkripsie:

 

RUDA: Hallo, en baie welkom.  My gas vanaand is Jonathan Jansen, wat onlangs aangekondig het dat hy uittree as rektor van Vrystaat Universiteit.  Ons het in sy rektorskantoor gekuier.

RUDA: Jy’t op die Kaapse Vlakte grootgeword en dit was ’n… rowwe omgewing en jyself was op daai pad. Maar een onderwyser het al die verskil gemaak.

PROF JANSEN: Jy weet, vir my was skool – veral laerskool – die bedoeling van skool was om sokker te speel. So ek het elke dag gegaan en van vroeg die oggend tot laat die aand, jy weet, met ’n tennisbal of ’n regte sokkerbal die lewe geniet, jy weet … En, en, en ook nie gedink ek was baie slim nie, ek meen, ek het, ek was altyd hier in die middel of in die lae deel van die klas en so aan. En so het dit maar aangegaan, jy’t nie rolmodelle gehad nie, jy’t, jou ouers het nie, jy weet, jy weet, het nie … het nie skool, matriek klaargemaak nie. Jy’t mens, jy’t nie mense geken wat ooit universiteit toe gegaan het nie … so vir my was die, die, die horison maar baie naby gewees, jy weet? Ja, en so eendag, jy weet, terwyl ek nog so rondspeel, hier kom hierdie Latynse onderwyser, Paul Galant, en hy sê vir my, man, ek hou jou dop, jy maak asof jy van niks weet nie, eintlik is jy baie slim, jy’t potensiaal en, en ek glo jy kan iets doen met jou lewe. Niemand het dit ooit vir my gesê nie, of in die kerk, of in die huis of in familiekringe, en dit, ensovoorts nie. En dit het so groot impak op my gemaak, ek het, ek het gaan, ek het natuurlik nog gespeel, maar toe ek die aand by die huis kom, dink ek, joe, wat was dit gewees? En van daai oomblik af, jy weet, het ek nooit weer tweede gekom in enige klas … Op skool nie en later ook oorsese studies en so aan nie.

RUDA: Jy’t toe UWK toe gegaan, onderwys deur Unisa, maar toe jou Meesters- en Doktorsgrade in Amerika gaan doen.

PROF JANSEN: Dis reg, ja.

RUDA: Wat het daai Amerika-ondervinding…

PROF JANSEN: Sjoe.

RUDA: Vir jou en vir jou gesin, vir Grace en…

PROF JANSEN: Ja.

RUDA: Beteken?

PROF JANSEN: Kyk, dis baie moeilik om vir mense te verduidelik. Die Amerikaanse stelsel, met al sy vlekke, op universiteit is ’n heel ander heelal as wat jy in Suid-Afrika kry, of in meeste van die wêreld. Met ander woorde, hy neem sy studente ernstig op. Ek sal nooit vergeet nie – ek moet hierdie storie vertel – toe ek die eerste dag … ek is bang, ek is vreesbevange, ek is nog nooit in ’n serious universiteit gewees nie. Hier beland ek by Cornell, een van die Ivy Leagues, in New York.

RUDA: En jy’s hoe oud?

PROF JANSEN: En ek is nou hier vroeë twintigjare, okay, en ek doen my M. En ek klop aan die deur – my hand bewe so – van hierdie grote in Wetenskapsonderwys, en hy maak die deur oop, Joe Novak was sy naam, en hy sê vir my: “Oh, are you the man from Africa?” Kyk, op daai stadium het ek nou nie gevoel ek moet nou vir hom sê Africa is nou nie ‘n plek en al die dinge nie …

PROF JANSEN: Maar … Hy sê vir my: “You know, I’ve waited for you to come.” En hy haal so ’n manuskrip uit, hy sê: “This manuscript should have been with Harvard University Press last week but I’ve kept it because I need your feedback before I send it away. Dis die eerste keer in my lewe wat ek myself natgemaak het terwyl ek staan, jy weet, ek het net daar … Paniekbevange – wat kan ek sê? Wat kan ek skryf?

RUDA: Ja.

PROF JANSEN: Vir hierdie groot gees, jy weet, in, in die wetenskappe. Jong, ek neem daai ding huis, na ons klein …

RUDA: Woonstel.

PROF JANSEN: Apartment daar, woonstel, en ek, ek het, ek het gehuil, ek het gesê, wat doen ek met die ding? So twee weke later – ek weet nie wat ek geskryf het nie – toe stuur ek dit vir hom terug. Weet jy wat, nê, jare later het ek besef, ja, ek dink as jy vir Joe ken, hy’t seker verwag ek gaan iets neerskryf. Maar wat hy eintlik wou sê: Ek glo in jou.

RUDA: Ja.

PROF JANSEN: Jy’s my kollega, jy’s nie net ’n student nie, jy kan iets sê. En weet jy, van daai dag af … Van daai dag af, kyk, toe begin ek – en ek weet baie mense raak baie kwaad vir my, jy weet, maar ek gaan in die … ’n township skool, ek gaan nou en ek sê vir daai kind, ongeag wat die mense om jou sê, ek sê nou vir jou, met die regte toepassing, die regte ondersteuning, kan jy eintlik ’n prof word in dít of ’n reus word in dat, en so aan ensovoorts. En ek glo dit diep, dit sê vir my, jy weet, motivational goed nie …

RUDA: Wel, jy’t self daai pad geloop, ja.

PROF JANSEN: Presies. Omdat jy weet watter impak dit kan hê. So ek dink met Paul Gallant, Joe Novak, daai tipe mense so hier, jy weet, op jou pad, is ek ewig dankbaar.

RUDA: Het jy dit ooit oorweeg om in Amerika te bly?

PROF JANSEN: Eintlik nie, jy weet, kyk, jy weet mos hoe ons grootgeword het, jy weet, en veral as jy gesukkel het, dan was daar altyd daai vermaning deur jou ouers – luister, jy’s die eerste kind om universiteit toe te gaan, ons is trots op jou maar jy moet terugploeg. Dis, so, baie van die, ons, my generasie, jy sal ook vind met baie Suid-Afrikaners wat destyds in Amerika op beurse geswot het, 99% van hulle het teruggekom huis toe. Die statistiek is baie duidelik. Terwyl die outjie uit Ghana of Senegal en so aan, jy weet, wat gegaan het, meeste van hulle bly daar, jy sien dit tot vandag toe. Maar baie Suid-Afrikaners kom terug omdat daar eintlik ’n gewete eintlik was, jy weet. Ja, jy het nou die voorreg gehad om by top universiteite te swot. Kom terug en maak ’n verskil.

RUDA: Julle luister na Ruda gelels. Vanaand se gas is Jonathan Jansen, township-seun wat akademikus geword het. Ons is nou terug.

Welkom terug by Ruda gesels. Jonathan Jansen het sy doktorsgraad by Stanford Universiteit in Amerika gekry. Sy twee kinders is ook daar gebore.

RUDA: Jy’t in ’91 teruggekom. Dit was in die middel van die, die politieke oorgang wat in Suid-Afrika aan die gang was. Hoe’t jy dit beleef en wat het dit vir jou as ’n swart persoon beteken?

PROF JANSEN: Sjoe, dit was baie, baie opwindend en, jy weet … Kyk, my generasie het nie geglo ons gaan ooit in ons eie leeftyd die vrylating van Nelson Mandela sien nie, jy weet …

RUDA: Ja.

PROF JANSEN: Ons het gedink die … soos ons maar destyds gepraat het, die Boere gaan vasstaan en, jy weet, terugveg en so aan …

RUDA: Kragdadig bly.

PROF JANSEN: Ja, ja. Jis, en dit was wonderlik gewees en, en, so vir my was dit baie opwindend. Sjoe, ek kan stem vir die eerste keer in my lewe, sjoe, jy weet, ons gaan vry wees, ons gaan beter dit en dat en alles, jy weet. En ek is toe ingetrek in die beleidstudies vir die onderwys deur verskillende ANC-verwante organisasies en so aan, so jy’t gevoel jy maak ’n bydrae tot die toekoms, jy weet, daai tipe gevoel. Want ons gaan vorentoe. Nee, dit was vir my baie opwindend en uitgesien en ’94 met daai lang toue staan, ek het teruggegaan Steenberg Retreat toe om te gaan stem, waar ek grootgeword het en … Nee, dit was unbelievable gewees.

RUDA: En toe word jy die eerste swart dekaan by Tukkies …

PROF JANSEN: Ja, eers in Johannesburg…

RUDA: In 2001.

PROF JANSEN: Gewerk, en toe in Durban as dekaan by die ou Universiteit Durban-Westville en so aan, en toe Tukkies toe. En dit was heerlik gewees, groot universiteit, baie steun …

RUDA: Maar jy’t agterna gesê dat jou interaksie met die wit, Afrikaanse studente …

PROF JANSEN: Ja.

RUDA: Het ook ‘n permanente verandering gebring.

PROF JANSEN: O, nee, absoluut. Kyk, jy gaan mos eers in en jy sê: “O hel, waar’s ek nou?” Jy weet? En ek het ook my eie arrogansie gehad as ’n swart ou. Ek, ek, ek is skaam daaroor vandag en … maar dit was daar. En …

RUDA: Wat bedoel jy as jy dit sê.

PROF JANSEN: Jy’t, jy weet, jy’t amper ‘n soortvan ‘ek is reg en julle is almal verkeerd’, daai houding gehad, jy weet. Ons is aan die goeie kant van die geskiedenis, julle is ander mense, en so aan. ‘Goed moet reggestel word en ons weet hoe om dit te doen.’ Jy weet, dit is ’n arrogansie, ’n, ’n, ’n racial arrogance, eintlik gewees. Aan die begin. Maar nou begin jy mense ontmoet, nou begin jy vriende maak met ’n Alta Engelbrecht of ’n Ronel Evans of ’n … en ek begin sien, maar hierdie mense is lieflike mense. Weet, want tot op daai stadium is hulle ver weg van my af, hulle is die vyand, hulle is … jy weet, die mense wat die moeilikheid veroorsaak het. Nou word hulle my vrinne, ons eet saam…

RUDA: Ja.

PROF JANSEN: Maar die groot deurbraak kom vir my in my verhouding met die studente..Ek sien op ’n dag ’n arme wit student van die westerlike kant van Pretoria. En sy sit met haar pa – dit het my hele lewe verander – en die pa is, ek meen, hulle is arme mense. En hierdie kind sit daar en sy’s reg om ’n onderwyser te word en die pa sê: “Prof, ek het nie geld vir hierdie kind nie. En in daai oomblik, nê, ek, ek glo nie soveel in hierdie ‘lig uit die hemel uit’ nie, maar in daai oomblik, sê ek nou vir jou, sien ek nie ’n wit kind nie maar myself. En ek sien my pa toe ek vir hom gaan vra het ek wil universiteit toe gaan, toe sê hy – en die trane loop – en hy sê: “My kind, ek glo in jou maar ek het nie ’n sent om jou universiteit toe te stuur nie. En in daai oomblik …”

RUDA: Ja…

PROF JANSEN: Is dit nie meer wit kind en wit pa nie, dis my mense. Dis my, ’n student.

RUDA: Ja.

PROF JANSEN: Dit is ek. En weet jy wat, as jy nie so ’n oomblik gehad het nie, glo ek regtigwaar dat die woord ‘transformasie’ het eintlik geen inhoud nie, geen betekenis nie. Want jy moet jou broer en jou suster kon erken. Nie deur die epidermis van die vel nie, maar deur iets wat julle in gemeen het. Die smag na onderwys, na, jy weet, gelerendheid, soos die ou mense gesê het. Na mens wil wees, okay?

RUDA: Ja.

PROF JANSEN: En van daai dag af was ek nooit weer dieselfde nie. En ek dink, ek sê altyd, my eie transformasie is bewerkstellig, nie deur swart mense nie, maar deur my wit studente by Tukkies en daarvoor is ek ewig dankbaar.

RUDA: En dit bring ons eintlik Kovsies toe, want toe jy hier kom, 2009 nê?

PROF JANSEN: ’09, ja.

RUDA: Toe was die rassespanning op hierdie kampus iets verskriklik. Dit was net na die Reitz-insident.

PROF JANSEN: Dit was erg.

RUDA: Hoe het jy dit benader?

PROF JANSEN: Toe ek hier kom, toe die een ding wat vir my baie duidelik was, was hierdie studente besef nie eintlik die erns van wat hulle gedoen het nie, die Reitz-seuns, jy weet. Ja, hulle moet verantwoordelik gehou word, ja. Daar is hofsake aan die gang, maar om hulle uit te lewer sonder om te erken dat die instansie, wat meer as ’n eeu, honderd jaar oud is, het ook ’n verantwoordelikheid, jy weet, om te erken, maar ons het hulle ook gemaak, nie net die ouers en die kerk en die rugbyveld nie, maar ons het ook bygedra om die indruk te gee dat dit heeltemal normaal is om senior mense, werknemers by die universiteit, te verneder. En dus net om hierdie vier outjies in die tronk te gooi, eintlik, is oneerlik. Jy weet, as jy nie ook sê, maar ons het gefaal in die opleiding en die opvoeding van hierdie jong mense, nie. Anders waarom sal hulle ’n prys gewen het vir daai video van die Reitz-werkers? Hulle het ’n prys gewen, die instansie het vir hulle ’n prys gegee, verstaan jy? So baie van daai agtergrond, daai ervaring en so aan, het gesê daar moet ’n ander manier wees, anders as hierdie tit-for-tat,

RUDA: Hoe’t jy die studente oorreed om uiteindelik te gaan sit en met mekaar te begin praat?

PROF JANSEN: Dit was eintlik baie maklik gewees, jy weet, hulle het nie totaal verstaan – tot vandag toe is daar van hulle wat ek twyfel regtig diep verstaan wat hulle gedoen het nie – maar hulle het kom erken op ’n sekere vlak: “Sjoe, ons het drooggemaak.” Jy weet? So die feit dat daar ’n erkenning was: Hier is fout. Die feit dat die werkers gesê het, in hierdie kamer, vir my: “Prof, dis ons kinders daai.” Jislaaikit, toe huil ek soos ’n baba – het ek na al die goed, staan hierdie, die vier vrouens – daar was ook ’n man gewees – en hulle staan op en sê, dis ons boys hierdie. Ons is lief vir hulle. Okay? En daar is iets diep in Suid-Afrikaners wat jy in geen ander land sal kry nie, nê? Ek dink dis deels die feit dat ons geestelike mense is, meeste van ons gaan kerk toe, meeste van die mense het ’n manier van dink; daar’s iets net diep in ons kultuur as Suid-Afrikaners wat, wanneer daar ’n krisis is, ja, op daai oomblik is daardie ouens kwaai en hulle slaan mekaar, maar kyk net daarna, jy weet? En dan sien jy hoe mense by mekaar, soos Adriaan Vlok, op sy knieë wat voete was. Ek meen, ek sien dit orals, wit en swart, jy weet? En so aan, so ek dink ons het ’n ongelooflike vermoë, as Suid-Afrikaners, om uiteindelik by mekaar uit te kom, ten spyte van die seer. En dit is wat mense admireer in ons as ’n land.

RUDA: Maar hoe sien jy dan die, die huidige oproer en hoe het jy dit persoonlik ervaar, want jy het nou oor ses jaar – wat is dit, amper sewe jaar – lang dae hier gewerk en nou word daar gesê: Jansen must fall.

PROF JANSEN: Ja-nee, kyk … gelukkig het ek nou al jare gewerk in Suid-Afrikaanse universiteite, en elke rektor, dink ek, op die huidige oomblik, is al gevra om te fall … Ek dink nie daar’s een ou wat uitgesonder is nie, so, jy weet, of dit nou Max Price is by UCT, of Adam Habib by Wits, of Sizwe Mabizela by Rhodes – ons almal kry daai boodskap gereeld. En daar’s twee dinge om te onthou: Nommer een, kom ons vat hierdie plek – daar’s 200 kwaai, studente wat baie kwaad is oor ’n klomp goed. Jy weet nie altyd waaroor hulle kwaad is nie. 200. Ek het op hierdie kampus 32 000 studente, okay? So die eerste ding om te behou is perspektief, okay? En proporsie. Want jy kan nie laat ’n klein groep raserige mense – hulle kan baie skade doen, dit, dit is inderdaad so – maar jy kan nie sê hulle is die universiteit nie, want hulle is nie. Dit bedoel nie daar is nie probleme nie, dit bedoel nie dat daar is ’n dieper transformasie, veral in die eerstejaartjies, jy weet, wat nog bewerkstellig moet word nie. Onthou, elke jaar kry ons – hierdie jaar sewe duisend – nuwe eerstejaartjies. Dit vat ses maande om die damestudente se koppe te swaai, ses maande, en ons is nog nie daar nie. Die seuns vat 18 maande. Ek het, ek het hierdie ding nou, is, is eintlik ’n wetenskap, jy weet, ek kan vir jou sê. En die, die rede is dat die damestudente het baie meer van ’n emosionele, jy weet…

RUDA: Benadering.

PROF JANSEN: Benadering, goed, en ek noem dit ook empatiese, so hy, hy, hy, ’n damestudent voel met jou. ’n Outjie werk mos met sy spiere, jy weet. Sy pa het hom geleer hy moet iets verdedig; hy weet nie wat hy moet verdedig nie, maar hy kom in met die spiere. En so aan. So dit vat my 18 maande met die seuns. En hierdie ding het gebeur voor ons nog by daai goed kon uitkom, so, jy weet, dis Januarie, Februariemaand, Februariemaand. So ons het geweet toe daai groep mense op die veld stap, hier kom ’n ding. ’n … Weet, want, en dit was nie net ons studente nie, dis mense van buite, dis ander studente van ander universiteite en so aan. So nee, dit was ’n probleem, maar ek dink, so ons het ’n terugslag gekry en, en … maar ons is nie terug waar ons was nie, jy weet. Ons moet nou weer bou vorentoe. En daar gaan altyd insidente wees. Ek sê altyd vir mense, jy weet, as jy dink jy kan ’n universiteit wat ’n honderd jaar oud is so aan en af switch met transformasie, dan’s jy mal. Jy weet, daar’s waardes wat diep gesetel is, nie almal positiewe waardes nie; dat wanneer jy ’n insident kry – ek sê nou vir jou, daar gaan meer insidente wees. Elke twee of drie jaar het ons ’n groot insident, as jy nou mooi kyk.

RUDA: 2016 het begin met die verskriklikste rassistiese voorvalle, eers buite die universiteite en toe nou ook in hierdie hele universiteitsonrus.

PROF JANSEN: Ja.

RUDA: As jy kyk na die land en jou geskiedenis in Suid-Afrika, wat is jou indruk oor rassisme?

PROF JANSEN: Kyk, die ding is, jy weet … As ek kyk na Amerika, byvoorbeeld, nê? Hy het lankal wette en beleide en goed wat praat teen segregasie, teen rassisme, en so aan ensovoorts. Vir jare voor ons begin het, en tot vandag toe sukkel hulle met hierdie goed, nê? Soos jy weet, die Black Lives Matter beweging, byvoorbeeld, en so aan. So hierdie is moeilike goed, jy weet. En dit word vererger wanneer daar ongelykhede is. En die ongelykhede lyk asof die wit outjies beter af is en die swart outjies sit hier onder. So dit maak dit baie, baie moeilik; die ekonomiese … impak van, jy weet, op rasse…

RUDA: Van ons geskiedenis.

PROF JANSEN: Op rasseverhoudings, ja. So, en, en ek dink dit gaan moeilik wees. So ek dink oor ’n honderd jaar sal ons nogsteeds sit met rasseprobleme. Die, die, die goeie nuus is elke jaar word dit beter. Nou hier moet jy nie kyk na insident op insident nie.

RUDA: Ja.

PROF JANSEN: So as jy nou fokus op Sparrow – weet jy wat vir my ontstel het met die Sparrow ding? Was nie dat daar ’n vrou aan die Suidkus van Natal is wat snaakse, stupid goed doen …

RUDA: Idees het nie, ja.

PROF JANSEN: Wat my ontstel het is dat ons so ontsteld was. Asof sy die enigste persoon is? En asof ons, asof dit die hele land is, jy weet. Die feit is, as jy kyk na die nuutste navorsing uit die South African Institute for Race Relations, wys dit eintlik dat die meeste Suid-Afrikaners voel dat ons, ons, ons vorentoe gegaan het in terme van rasse … Dit is die feite, jy weet, so – daar was nog nooit soveel skole in ons land wat geïntegreer is nie, nog nooit. Daar was nog nooit soveel kerke, veral die meer evangeliese kerke, wat so geïntegreer is nie. Daar was nog nooit ’n tyd in ons geskiedenis waar jy in die hoofstede kan instap en jy sien swart en wit mense eet ’n maal saam nie, jy weet? So ek laat my nie vertel dat ons is waar ons was nie, okay? Maar ek laat my ook nie vertel dat ons is waar ons behoort te wees nie. Dit is ook ’n uitdaging en daarom werk ons so hard aan hierdie goed.

RUDA: Jy’s nou in jou tweede termyn en dit sal loop tot 2019 as jy lus het.

PROF JANSEN: Ja.

RUDA: Wat daarna? Wat wil jy nog?

PROF JANSEN: Ek is in harte ‘n akademikus. Ja, ’n bestuurder, jare dit, dat en die ander ding, maar ek is eintlik ’n ou wat geniet om met kinders om te gaan, om navorsing te doen, om, en so aan. En dis die een ding wat ek nou weer wil doen op ’n voltydse basis. Die tweede ding wat ek wil doen is dit te koppel aan my werk in skole. So ons het gewerk met 25 skole hier in die Vrystaat; die prestasie by daai skole – ek het ’n goeie, goeie span – het ons omgeswaai. Ek wil graag dieselfde ding doen nasionaal en nie net hier nie, jy weet? Want ek dink nie die regering gaan dit regkry nie, ek dink nie hy verstaan hoe ernstig hierdie probleem is nie. Ek dink nie daar’s die politieke wilskrag om dit te bestuur nie, so dit wil ek baie graag doen sodra ek hier klaar is. en dan derdens wil ek baie graag doen wat ek op die oomblik in die aande doen, en dit is om by skole uit te kom, gemeenskappe, kerke, jy weet … sportsmense, en motivering te doen. Goed te praat, jy weet.

RUDA: Sendingwerk.

PROF JANSEN: Amper, ja, ek dink dis eintlik dit, jy weet? Om mense net te laat goed voel oor hulleself

RUDA: Ja.

PROF JANSEN: En mense voel platgeslaan, jy weet, die prys van petrol, die, die kos, jy weet, die droogte in die land, die, Nkandla, mense voel die wêreld sak op hulle toe, en ek dink een van die goed, of, of take wat ek vir myself gee in die lewe is om vir ’n ou te sê dis nie alles verlore nie. En daar’s nog ’n rol vir jou om te speel. En waar jy is, skyn jou lig. En, jy weet, daai tipe goed. En ek, ek vind uit mense geniet dit nogals.

RUDA: Ek sal dit glo! Dankie, en voorspoed.  Jonathan maak een van die dae klaar in die Vrystaat en word onder andere ’n genoot – die Amerikaners noem dit ’n “fellow” – aan Stanford Universiteit in Kalifornië. Volgende week kuier ek by Wilma van der Bijl. Ons praat oor hoe eensaam sy was as mej. SA in 1987, oor haar jaarlange geveg met borskanker, en sommer oor die lewe. Kom sluit aan! Goeienag.